Stolkop – nuwe naam vir bekende mieliegroei-afwyking

Gepubliseer: 9 Mei 2023

1010
Dr Chris Schmidt,
senior landboukundige, Kynoch Kunsmis
Klaas van Wyk, landboukundige, Pannar

Die inligting in hierdie artikel is nie nuut nie, maar die voorstel van ’n eie Afrikaanse term is wel nuut. Die oorsig gaan oor arrested ear-ontwikkeling – “stolkop” is ons voorstel vir ’n eie Afrikaanse woord wat makliker van die tong afrol as die Engelse term.

Stolkop-ontwikkeling is ’n fisiologiese groei-af­wyking wat opbrengs van mielies betekenisvol kan verlaag. Dit is nie ’n siekte nie, maar verwys na abnormale mieliekopontwikkeling wat deur verskeie stresfaktore veroorsaak word, insluitend die toediening van nie-ioniese benatteradjuvante (surfactants). By fisiologiese volwassenheid sal sulke geaffekteerde mieliekoppe korter wees, met minder pitte per kop asook ’n verdwergde punt sonder pitte.

Dit moet nie met ’n voedingstekort verwar word nie. Foto 1 en 2 toon die verskil tussen stolkop en swak bestuiwing, aangesien verwarring kan ontstaan.

Stolkop-simptome is kenmerkend verskillend van ander kopgroei-afwykings en om dié rede is dit belangrik om dit korrek te diagnoseer. Hierdie groei-afwyking kan ’n betekenisvolle negatiewe impak op opbrengs hê. Die voorkoms van stolkop in die VSA gedurende 2007 het saamgeval met die verhoogde gebruik van blaarbespuitings van swamdoders wat laat gedurende die vegetatiewe stadium (ongeveer een week voor bestuiwing) van die betrokke seisoen toegedien is.

Foto van stolkop (links) en swak bestuiwing (regs).
Foto: Klaas van Wyk, Pannar

Navorsing hieroor by die Universiteit van Purdue, het gevind dat nie-ioniese benatteradjuvante (surfactants), wat met of sonder swamdoders gespuit is net voor pluim, stolkop kan veroorsaak. Die risiko van stolkop is die hoogste gedurende groeistadia V12 tot V14 (12 tot 14 ontvanklike blaarkrae) of een tot twee weke voor bestuiwing. Die navorsing het ook getoon dat die swamdoders alleen gespuit (sonder die betrokke adjuvant) nie die groei-afwyking veroorsaak nie. Simptome word waargeneem op koppe, skutblare, baard en blare. Volgens Pannar (Pringle, 2016) kan die volgende riglyne gevolg word om die risiko van stolkop te verlaag:

  • Volg gewasbeskermingsmiddels se etikette streng na.
  • Vermy sover as moontlik enige blaarbespuitings tussen die V10- en VT-groeistadia. Hierdie stadium hou ’n hoë risiko vir stolkop-ontwikkeling in. (Sien Pannar Saad se produkkatalogus vir aanvullende inligting.) Indien ’n bespuiting gedurende hierdie vensterperiode noodsaaklik is, spuit slegs die be­skermingsmiddel (sonder die adjuvant) soos vereis deur die situasie.
  • Vermy die insluiting van enige ekstra adjuvant. Lees gerus die insetsel op die web deur die QR-kode te skandeer.
  • Vermy dit om mielies te spuit tydens periodes van klimaatstres, veral tydens koue toestande.

Vir meer inligting kan lesers gerus die publikasies op die web besoek, asook met saadkenners gesels.

Die naamvoorstel en kort oorsig is saamgestel deur Chris Schmidt van Kynoch Kunsmis en Klaas van Wyk. Kontak hulle by chris.schmidt@kynoch.co.za of klaas.vanwyk@pannar.co.za.

Bronne

  1. Castellano, C, Wise, K & Anderson, N. 2023. Non-ionic surfactants and arrested ear development. University of Kentucky. http://graincrops.ca.uky.edu/files/usdainternreport001.pdf. Besoek 1 Maart 2023.
  2. Pringle, G. 2016. Arrested ear syndrome (Pannar). Pula/Imvula. https://www.grainsa.co.za/arrested-ear-syndrome-sticks-its-head-out-in-south-africa. Besoek 8 Maart 2023.
  3. Pringle, G. 2016. The link between arrested ear syndrome and chemicals (Pannar). Farmer’s Weekly, 16 March 2016. Besoek 4 April 2023.
  4. Stetzel, N, Wise, K, Nielsen, B & Gerber, C. 2023. Arrested ear development in hybrid corn. In: Diseases of corn. BP-85-W. Purdue Extension, Purdue University. https://www.extension.purdue.edu/extmedia/BP/BP-85-W.pdf. Besoek 1 Maart 2023.