Graansake van toekoms onder loep geneem

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 8 Mei 2023

491

Die uitvoer van landbouprodukte is een van die wei­nige middele wat steeds ’n positiewe bydrae tot groei in Suid-Afrika se ekonomie maak. Graan is ’n integ­rale deel binne die waardeketting van landbou en help nog om die land se deure oop te hou, het Hein Rehr, president van die Graanhanteringsorgani­sasie van Suider-Afrika (GOSA), op die organisasie se 38ste simposium in Mosselbaai gesê.

“Landbou op sy eie gaan nie alleen die land weer bring na waar hy was nie. Die privaat sektor sal drasties moet ingryp en hande sal gevat moet word met georganiseerde landbou sodat die ekonomie weer kan begin presteer. Hoe moeiliker dit gaan, hoe meer moet ons praat en hoe meer dinge sal ons saam moet doen,” het Rehr gesê.

GOSA se simposium – waartydens die organisasie se 40ste bestaansjaar gevier is – is op 15 en 16 Maart by die Diaz-hotel in Mosselbaai aangebied. Die tema en program het die kollig geplaas op watter aspekte nodig is om stukrag aan die graanbedryf in ’n ná-pandemie-era te verleen.

Die lede van die paneelbespreking gelei deur Lourensa Eckard van kykNET (middel) was van links: Japie Snyman (Olam Agri), dr André van der Vyver (SACOTA), Dawie Maree (FNB Landbou) en die onafhanklike energie-analis, Chris Yelland (EE Business Intelligence).

Nuwe normaal
Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence, energiekenner en die hoofspreker, het gesê beurtkrag moet nie aanvaar word of die nuwe normaal vir Suid-Afrika word nie. Toewyding deur alle groot, medium- en klein belanghebbendes kan verseker dat beurtkrag binne twee jaar beëindig word vandat die groen lig gekry word om voort te gaan met alternatiewe oplossings.

Die regering se plan vir die beëindiging van beurtkrag moet meer as net woorde wees. Dit moet spesifieke aksies en teikens be­vat wat behaal moet word. Die nasionale prioriteitsprojek om beurtkrag te beëindig, behoort ’n onverdeelde doelwit van die regering, Eskom, munisipale metro’s en klante van alle segmente te wees.

Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence en ’n energiekenner, was die hoofspreker.

Suid-Afrika se beskikbaarheid van energie was aan die begin van vanjaar sowat 50% laer as in dieselfde tyd verlede jaar en dit daal steeds. Instandhouding is ’n oplossing, maar die einde van die probleem gaan nie voor die einde van volgende jaar moontlik wees nie. Al die kragstasies wat instandhouding nodig het, kan nie gelyktydig afgeskakel word nie.

Die landbou is baie kwesbaar, veral as elektrisiteitsverlies agt uur lank per keer word. Die landbousektor het ’n sleutelrol om te speel en moet meetbare nuwe teikens aankondig vir die privaat opwekking van elektrisiteit. Dit sal nie ’n maklike taak wees nie, maar dit is beslis haalbaar as alle belanghebbendes toegewyd en vasberade is. Kontinuïteit in besigheid is nodig. Produsente help nie net hulself nie, maar die hele land.

Landbou word sterker
Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, het gesê die Suid-Afrikaanse landbou het ekonomiese terugslae in en ná die Covid-19-pandemie oorleef en in 2022 25% beter presteer as in 2019 – een van die min sektore wat dit kon vermag.

Beurtkrag het ’n groot invloed op alle vooruitskattings. Hoë rente­koerse, duur brandstof en stygende voedselpryse plaas huishoudings onder geweldige druk. Dit lyk egter asof inflasie onder beheer is: In die volgende jaar kan ’n verlaging in die rentekoers verwag word.

Landbou sal moet aanpas om te oorleef. “Ons moet besluit wie ons wil wees. Ons moet relevant wees, aanpas om in die mark te bly en ons moet ingelig bly. Fokus op dit wat jy kan beheer. Moenie anderkant toe kyk as daar ’n probleem is nie. Wees innoverend. Gebruik wat jy kan beheer of bekostig.”

Uitvoer bly belangrik
Dr André van der Vyver, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Graan- en Oliesadeverhandelingsvereniging (SACOTA) het gesê die uitvoermark is uiters belangrik om die Suid-Afrikaanse landbou en ekonomie te stimuleer en te laat groei. Daarom is elke aspek van die uitvoer van produkte belangrik om winsgewendheid te behou.

Die landbousektor is een van die grootste werkverskaffers in die plattelandse ekonomie. Ná die droogte wat die land tot in 2017 ervaar het, het die produksie van witmielies en sojabone gegroei. Plaaslike vraag na dié twee produkte het egter stadiger gegroei as die produksie, wat tot ’n oorskot gelei het, met ’n voorraad wat opgebou is. Dié voorraad bring mee dat daar veral in die afgelope twee jaar, elke maand witmielies uitgevoer is. Sojabone is nie voorheen uitgevoer nie. Sedert die produksie egter die vraag oorskry, word sojabone ook uitgevoer.

Spoorvervoer bly die goedkoopste manier om graan te vervoer. Weens die agteruitgang van die spoornetwerk en die vloede in KwaZulu-Natal het spoorvervoer egter drasties afgeneem, wat die uitvoer van graan by hawens negatief beïnvloed.

Die simposium is voorafgegaan deur ’n sake-ontbyt met Pieter-Louis Myburgh, bekroonde ondersoekende joernalis en outeur, as gasspreker. Hier verskyn Pieter-Louis saam met Hein Rehr (GOSA-president).
Tydens die 40-jaargaladinee is erkenning gegee aan oudraadslede van GOSA wat die simposium bygewoon het. Hein Rehr (president) het die oomblik gedeel met Annatjie Loio (vorige president), De la Rey Knoblauch (oudraadslid) en Carl Geldenhuys (stigterslid).
Die verwelkomingsaand is ingekleur met ’n wynproe waartydens nege wynkelders hul produkte in eg Wes-Kaapse styl kom voorsit het. Japie Snyman, Dawid Beets (Tiger Consumer Brands) en Wimpie Bouwer (Unigrain) was ook daar.

SA en die uitvoermark
Japie Snyman, visepresident van graan by Olam Global Agri, het gesê met Suid-Afrika se vermoë om 350 000 tot 400 000 ton graan per maand uit te voer, is die land ’n klein rolspeler in die wêreld­ekonomie, maar ding steeds met die beste ter wêreld mee. Die internasionale uitvoermark is uiters mededingend. Suid-Afrika se grootste voordeel is sy ligging.

Suid-Afrika is steeds ’n Derdewêreldland met beperkte uitvoerkanale wat mededingendheid minder doeltreffend maak. Die groot verskil is dat die Eerste Wêreld bedrywe het wat op uitvoer gebou is. Die feit dat plaaslike produsente net 5% van hul graan per spoor kan vervoer teenoor 10% tien jaar gelede, maak die proses moeiliker en duurder.

By die verhandeling van graan is verskeie faktore betrokke, soos die liggingsdifferensiaal, vervoerkoste, berging, aflaaikoste en die basispunt van verhandeling. Verskillende basispunte laat die koste ook styg deur die seisoen. Dit wissel tussen R400 en R800/ton. Frankfort is byvoorbeeld nader aan Durban as aan Kaapstad.

Rondetafelgesprek
’n Hoogtepunt was ’n rondetafelgesprek met die sprekers wat deur Lourensa Eckard van In Gesprek op kykNET gelei is. Sake soos hoe om die uitvoer van landbouprodukte doeltreffender te maak, hoe banke verbruikers van elektrisiteit bystaan om hernubare energie te kry asook die invloed van beurtkrag en hoe om die probleem op te los, is bespreek. Meer as een paneellid het melding gemaak van die belangrikheid van gesprek- en netwerkplatforms, soos dié wat die GOSA-simposium bied.