Jong produsente sê hul sê by Kongres

Gepubliseer: 12 April 2023

458

Pieter Taljaard
HUB, Graan SA pieter@grainsa.co.za

Wat ’n uitstekende eerste kwartaal was dit nie vir Graan SA betreffende direkte kontak met graanprodusente by verskeie streeksvergaderings asook die afgelope Kongres nie!

Iets wat soos ’n paal bo water staan, is die ongelooflike positiwiteit, die bereidwilligheid om vrae te vra en om te help planne maak. Meer spesifiek ook die kaliber van planne en idees waarmee daar vorendag gekom word – dit alles ten spyte van die situasie waarin ons onsself daagliks bevind en die uitdagings wat ons moet trotseer. Dankie julle, dit was fantasties en ’n groot voorreg. Dit is verblydend om te sien dit gaan so goed met die graanprodu­sente en dat elkeen bereid is om dinge te probeer en te help beter maak, veral ook ons Graan SA-organisasie. Ek waardeer dit persoonlik baie.

Uit die terugvoer oor Kongres, blyk dit dat heelwat van die 210 afgevaardigdes dit geniet en waardeer het. Dit is vir my aangenaam om so ’n paar observasies en van die terugvoer te deel. ’n Interessante syfer uit die opname toon dat amper 60% van vanjaar se afgevaardigdes jonger as 45 is, met 7% wat jonger as 25 is. Deur die bank het dié manne nie die kans laat verbygaan om by verskeie geleenthede die mikrofoon met die ouer manne te deel nie.

Ek moet erken dit was ’n propvol Kongres-program, maar ten spyte van die normale administratiewe aksies, kon ons steeds by waardevolle dialoog uitkom. Dit is belangrik omdat ons ’n strategiese fokus het om jonger produsente meer aktief by Graan SA te betrek. Die terugvoer het weer eens vir ons gewys dat die manier waarop ons met ons organisasie se sake omgaan ook sal moet aanpas by die gehoor.

Die vyf belangrikste risikofaktore wat deur afgevaardigdes gedeel is, sluit in: energiebeskikbaarheid en -koste; wisselende klimaat en gepaardgaande stygende risiko’s; diefstal en onrus; traag dalende insetkoste (sticky prices); en – laaste maar vir seker nie die minste nie – die algehele verval in infrastruktuur en diens­lewering. Toe afgevaardigdes gevra is om advies met medeprodusente te deel aangaande die bestuur van risikofaktore, was dit vir my so mooi dat geloof en hoop amper van die eerste brokkies advies was. Daarmee saam het deeglike beplanning, risikobestuur, wyse investering en kontantvloeibe­stuur, diversifikasie en harde werk die res van die advies mooi saamgevat.

Ons weet die afgelope jaar was insetfinansiering ’n kernkwessie met die stygende insetkoste. ’n Kort opname het getoon dat twee derdes van die afgevaardigdes deesdae van ’n kommersiële bank se insetkosteproduksie­fasiliteit gebruik maak. Verder maak die betrokke rentekoers net die helfte van die keuse oor finansieringsinstansie uit, terwyl die gepaardgaande diens ’n verdere derde van besluite beïnvloed.

Nader aan eie bodem – en vir ons waardevolle terugvoer – is dat die afgevaardigdes reken “oningeligtheid oor wat Graan SA doen” en dat “die bedrag betaalbaar op volle graanproduksie te veel is”, die belangrikste twee faktore is waarom graanprodusente nie hul volle vrywillige Graan SA-heffings betaal nie. Dus lê die antwoord vir ’n breër ledebasis eerstens in effektiewe kommunikasie en tweedens in die uitbou van Graan SA se waardeproposisie.

’n Belangrike aspek wat ons sal moet hanteer, is die versoek vir vooraf- aanlyn regi­strasie en ander administratiewe prosedures (dus minder administratiewe sake op die Kongres-agenda) asook selfs meer gesprektyd vir produsente-afgevaardigdes.

Ten slotte bly dit Graan SA se onderneming om te fokus op die bevordering van volhoubare winsgewendheid van plaaslike graanproduksie. Ek sê dankie vir elkeen se opbouende stukkie kommentaar, wysheid en insette om te help – dit is belangrik. Dankie vir jul ondersteuning en die eienaarskap wat julle opneem, dit maak dinge vir ons makliker om te verander en aan te pas.

Alle sterkte met die nuwe kleingraan­oes wat eersdaags gevestig gaan word – en vir seker ook met die insameling van al die sojabone. Ons glo en vertrou dit gaan nog ’n geseënde oes wees.