Omdat saad grootliks opbrengs en wins bepaal, is dit een van die belangrikste landbouproduksie-insette. Hoewel produsente nie altyd beheer oor hul produksie-omgewing het nie, is hulle verantwoordelik vir die keuses wat hulle uitoefen.
Saadprodukte wat jaarliks beskikbaar is vir produsente, word grotendeels bepaal deur die navorsings- en ontwikkelingsprogramme by saadmaatskappye. Magda du Toit het gaan ondersoek instel oor wat hierdie aanbod van produkte beïnvloed.
Saadmaatskappye is deurlopend besig om nuwe kiemplasma te ondersoek, toets, ontwikkel en dan uiteindelik vry te stel. ’n Saadteler mik daarna om voortdurend nuwe en verbeterde produkte in die mark te plaas om in markbehoeftes te voorsien.
Prosesse
Die prosesse wat saadmaatskappye volg stem in sommige opsigte ooreen, maar in ander opsigte is daar wesenlike verskille. Party maatskappye beskik oor plaaslike teelprogramme, terwyl ander uitsluitlik produkte wat potensiaal toon elders in die wêreld identifiseer en dan inbring om in plaaslike omstandighede te toets met die doel om dit hier te registreer en vry te stel.
Saadnavorsing en die ontwikkeling van nuwe produkte is ’n deurlopende proses wat grootliks gelei word deur behoeftes van produsente of verwerkers. Verskeie faktore noodsaak die ontwikkeling van nuwe produkte, soos ’n verandering in klimaat, nuwe siektes, ’n skielike toename in sekere insekte wat as vektors van plantsiektes optree in ’n bepaalde gebied, nuwe insekte soos die herfskommandowurm asook bepaalde verbruikersvoorkeure. Tegnologiese ontwikkeling in die saadbedryf kan ook aanleiding gee tot die ontwikkeling van nuwe kultivars.
Hoe dit ook al sy – alle nuwe produkte moet aan sekere kriteria voldoen voordat dit vir registrasie in Suid-Afrika ingedien en op ’n kommersiële grondslag verkoop kan word.
Volgens Kobus van Huyssteen, waarnemende tegniese bestuurder by die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR), moet alle nuwe variëteite van verklaarde gewasse eers deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) in plaaslike toestande geëvalueer en beskryf word. Hierdie beskrywings is noodsaaklik omdat dit gebruik word tydens sertifisering en ook vir nakontroledoeleindes. Indien dit verskil van alle bekende plaaslike variëteite en dus “nuut” is, en dit ook voldoen aan die uniformiteits- en stabiliteitstoetse, word dit op die variëteitslys geplaas. Eers wanneer ’n nuwe produk op die variëteitslys verskyn, kwalifiseer dit om kommersieel verkoop te kan word.
Volgens Van Huyssteen kan dit tussen agt en tien jaar neem voordat ’n nuwe variëteit of baster deur die hele proses van teling en produksie gegaan het en kommersieel verkoop kan word.
Kruger van Wyk, kommersiële teler by United Seeds, beaam dat produkvrystelling ’n lang en breedvoerige proses is en dat dit die grondslag van enige saadmaatskappy se bestaan vorm. “Die vrystelling van ’n mieliebaster verg jare se navorsing, data-analisering, ontwikkeling en proewe voor enige marktoetrede oorweeg kan word. Vir ons by United Seeds begin die proses op die produsent se plaas – die primêre behoefte.”
Volgens dr André du Toit, Afrika-koringbestuurder by Corteva, is teling ’n komplekse proses. Hy verduidelik dat kiemplasma reeds van ’n baie vroeë ontwikkelingsvlak jaar vir jaar getoets word vir verskeie faktore wat deur die produsent, bedryf asook deur globale navorsingstendense beïnvloed word.
“Die tyd wat verloop nadat ’n nuwe probleem of struikelblok geïdentifiseer word totdat die nuwe kultivars die probleem kan hanteer, kan enkele of etlike jare neem om te realiseer. Die tyd word bepaal deur die aard van die probleem en ook die beskikbaarheid van gepaste kiemplasma binne elke teelprogram. As geskikte kiemplasma eers elders opspoor moet word en dan in die bestaande kiemplasma ingeteel moet word, kan dit tot twaalf jaar neem voor die oplossing kommersieel aan die produsent gebied kan word,” verduidelik dr Du Toit.
Eienskappe
Maatskappye fokus op die volgende eienskappe in hul teelprogramme:
- Plantbaarheid;
- lewenskragtigheid van die saailing;
- opbrengspotensiaal;
- aanpasbaarheid by plaaslike omstandighede;
- aanpasbaarheid oor verskeie klimaatstreke heen;
- stabiliteit oor seisoene;
- stabiliteit oor produksie-areas;
- staanvermoë;
- siekteverdraagsaamheid;
- graankwaliteit;
- graankleur;
- graantipe;
- meerkoppigheid of enkelkoppigheid;
- plantmorfologie (planttipe);
- planthoogte;
- groeilengte;
- stroopbaarheid;
- konvensioneel of produkte wat geeneienskappe bevat;
- aangepas vir verbouing onder besproeiing of droëland; en
- produseerbaarheid en produksiekoste.
Van die aspekte sal verskil of op die rangorde skuif na gelang van die gewas. By sonneblom is olie-inhoud uiters belangrik, terwyl daar by koring heelwat klem geplaas word op skepelgewig en bakeienskappe. Peule wat ontydig oopspring is uiteraard weer ’n diskwalifiserende faktor by sojabone.
Magdeleen Cilliers, projek-en-navorsingsbestuurder by SANSOR, wys daarop dat nuwe teeltegnieke en gevorderde evalueringsprogramme op globale navorsingsvlak ook ’n groot invloed het op die rigting waarin teling en produkontwikkeling beweeg. “Hierdie nuwe gereedskap in telers se gereedskapkissie stel hulle in staat om beduidend te verbeter ten opsigte van beplanning, evaluering en identifisering van plant- en produksie-eienskappe en voorkeure. Deurbrake in teling en die ontwikkeling van GMO- en KRISP-tegnologie word dus met ’n arendsoog dopgehou.”
Inligting wat elders ingesamel word, kan deur plaaslike navorsings- en ontwikkelingspanne gebruik word om potensiële kiemplasma te identifiseer wat plaaslik getoets of in programme gebruik kan word. Net so kan inligting wat op Suid-Afrikaanse bodem ingewin word, met ander lande gedeel word. Op dié manier spaar telers baie tyd en geld. Hierdie kruisbestuiwing van idees en tegnologie kan tot groot voordeel van die produsent gebruik word.
Leonard Oberholzer, mieliestrategiebestuurder vir Afrika by Bayer, meen dat datavergelykings oor landsgrense heen vele voordele inhou. “Die data van ’n nuwe baster wat in vergelykbare toestande in ’n ander land verbou word, kan reeds ’n goeie aanduiding gee of die produk hier getoets moet word of nie. Dieselfde geld vir navorsing en ontwikkeling wat plaaslik gedoen word.”
Volgens Oberholzer gebruik Bayer gevorderde nuwe tegnieke om lyne te identifiseer wat die regte eienskappe het om in die produsent se behoeftes te voorsien. “Opbrengs en stabiliteit is die twee belangrikste eienskappe wat produsente winsgewend maak oor die lang termyn. Ander eienskappe soos graankwaliteit, opkoms, siekteverdraagsaamheid en staanvermoë is ook uiters belangrik en vorm deel van die kriteria om nuwe basters in die mark vry te stel,” verduidelik Oberholzer.
Die oorkoepelende mikpunt van enige teelprogram, volgens Oberholzer, is volhoubare produksie met die oog op die verantwoordelike benutting van beskikbare hulpbronne. Al die saadmaatskappye voer aan dat terugvoer uit die mark noodsaaklik is.
Volgens Van Wyk is die eerste stap in produkontwikkeling die vasstelling van die behoefte van die produsent en die mark. “Daar is verskeie behoeftes wat ’n rol speel in die ontwikkelingsproses. By mielies kan dit die behoefte wees aan ’n baster met ’n vinniger groeilengte sodat die produsent meer buigsaamheid het tydens graanbemarking. By sonneblom kan dit hoër olie-inhoud wees, of in die geval van sojabone, dalk ’n konvensionele sojaboonkultivar vir ’n nismark. Natuurlik bly opbrengs by elk van hierdie behoeftes die primêre prestasiemikpunt.”
Hendrik van Staden, eenheidshoof van Syngenta se saadafdeling in Afrika, sê die ontwikkeling van nuwe en verbeterde saadprodukte met beter opbrengspotensiaal is deurslaggewend vir volhoubare voedselproduksie. Hy meen voorts dat teling van nuwe produkte gebaseer is op deeglike analise van die mark en die produksie-omgewing.
“By Syngenta fokus ons op die ontwikkeling van nuwe produkte wat maksimale opbrengste sal lewer en om saad van hoogstaande gehalte te produseer om produsente in staat te stel om optimaal en volhoubaar te produseer. Sonder terugvoer van ons kliënte oor produkprestasie of -tekortkominge, kan ons egter nie verbeter nie. Inligting oor siektes is net so noodsaaklik, want dit bepaal in ’n mate watter produkte ons in watter streke plaas, maar ook die rigting van ons navorsing en ontwikkelingsprogramme,” sê Van Staden.
“Syngenta is besig om die posisionering van sy produkte te herdefinieer binne die Suid-Afrikaanse winter- en somerproduksieareas, met die oog op toekomstige tegnologie en agronomiese sisteme wat beter waarde sal toevoeg. Die maatskappy het ’n hele paar nuwe basters in die pyplyn wat bydra tot die nuwe produkportefeulje.”
Volgens Andries Wessels, kommersiële en saadprodukontwikkelingsbestuurder by Syngenta, gebruik die maatskappy die TPP-konsep. “Die TPP (tegniese produkprofiel) dui altyd die rigting aan waarin ons moet beweeg en dit dien as riglyn vir navorsing. Die TPP is die kommersiële markbehoefte wat leiding aan die telers verskaf en verseker dat die produkte wat uit ’n teelprogram vloei, in lyn is met die markbehoefte.”
“Sekere bastereienskappe kan omgewingspesifiek wees en by Bayer sal ons alles in ons vermoë doen om hierdie behoeftes te bevredig,” aldus Oberholzer.
Van Wyk beaam dat alle teellyne – en uiteindelik produkte – ontwikkel word met die einddoel om in die produsent se behoeftes te voorsien.
Mielies
Die afgelope paar jaar is baie ontwikkelingsbesluite oor nuwe mieliebasters geneem rakende natuurlike weerstand teen swamsiektes, omgewingstoestande soos wind en droogtestres, plantvensters en produksieomstandighede. Daar is ook navorsing gedoen oor die voordele al dan nie van vinniger teenoor langer groeiers en meerkoppigheid teenoor enkelkoppigheid.
Volgens Corteva konsentreer hulle teelprogramme eerstens op hoër opbrengs en baie proewe word gedoen om dié eienskap te verstaan. Dan is daar ook siektenavorsing, wat meer ingewikkeld is as gevolg van die feit dat patogene muteer en nuwe rasse ontstaan. Dit bly egter ’n belangrike fokusarea binne Corteva.
Roean Wessels, mielieteelprojekleier by Syngenta, sê die maatskappy het ’n ultramoderne wêreldklastegnologiesentrum tot sy beskikking wat hulle in staat stel om baanbrekerswerk te doen ten opsigte van saadnavorsing en teling. “Ons teelprogramme kombineer gevorderde teeltegnologie en bioïnformatika. Dit verseker hoë-opbrengsvariëteite met beter siekte-, droogte- en insekverdraagsaamheid. Nuwe navorsing asook chemiese behandeling geniet prioriteit en goeie vordering word hier gemaak. ’n Groot poging is alreeds aan die gang en daar word gefokus op voortdurende verbetering op alle plantsiektes.”
Wessels sê voorts dat Syngenta se mielieteelprogram op drie verskillende marksegmente in Suid-Afrika konsentreer en dat elke segment sy eie teeldoelwitte het. “Die hooffokus van enige teelprogram is om opbrengs te verhoog terwyl die plante weerstand bied teen veranderende omgewingstoestande wat biotiese en abiotiese stremming insluit. Met klimaatsverandering verander ons teeldoelwitte voortdurend omdat dit nie net hitte en droogte beteken nie, maar veranderende weerpatrone wat ook siekte-intensiteit en -voorkoms beïnvloed.”
Van Wyk verduidelik dat die primêre behoefte die produkkonsep vorm waaruit die teeldoelwitte geskep word. Daarna volg die verdere stappe in die ontwikkelingsproses. “By mielies maak ons gebruik van inteellynontwikkeling om later ’n baster te ontwikkel.”
Hy sê belangrike aspekte wat in ag geneem word by die evaluering van inteellyne sluit onder meer die volgende in:
- Die klassifikasie van inteellyne in heterotiese groepe;
- gewenste eienskappe;
- oorerflikheid;
- kombinasievermoë; en
- populasiediversiteit.
Volgens Kruger was die all-rounder – die een baster wat oor die hele mielieverbouingstreek aangeplant kon word – dertig jaar gelede besonder gewild. Oor jare het die behoeftes van produsente egter verander na meer volhoubare en laer-risiko-aanplantings en kyk produsente nou na ’n kombinasie van basters. Hulle plant ook pakkette aan. Om ’n produk in die verskillende marksegmente soos besproeiing, droogtestremming of gebiede met ’n hoë siektedruk te kan voorsien, word die teellyne uit ’n diverse genetiese agtergrond ontwikkel.
Sonneblom
Charles Basson, sonneblomteelprojekleier by Syngenta, sê hulle sonneblomteelprogram konsentreer op belangrike en noodsaaklike eienskappe wat die volgende insluit:
- Agronomiese tipe: Dit sluit in die algehele voorkoms van die baster oor verskeie omgewings en plantdatums, asook planthoogte, staanvermoë, kopgrootte, die kop se hoek, dae tot blom en dae tot fisiologies ryp.
- Siekteweerstand: Dit sluit die algehele gesondheid van die baster oor die groeiseisoen in, maar fokus ook op spesifieke siektes waarvan Sclerotinia een is.
- Onkruiddoderweerstand.
- Olie-inhoud: Die benadering is om vroeg reeds vir hoë olie te selekteer.
- Graanopbrengs: Hier val die klem op maksimum graanopbrengs gepaardgaande met goeie stabiliteit en aanpasbaarheid oor omgewings en jare.
- Saadproduksie: Ouerlyne word ondersoek met die oog op aanpasbaarheid in die produksie-areas, opbrengs en siektetoleransie.
Koring
Volgens Du Toit word Corteva se koringkiemplasma in hulle teelprogram jaarliks vir prominente faktore geëvalueer. “Ons koringvrystellingsnorme is dat gevorderde lyne oor talle lokaliteite vir drie jaar getoets word voordat hulle voorgelê kan word vir vrystelling. Dit is om seker te maak dat die opbrengste stabiel is en dat die bak- en maalkwaliteit aanvaarbaar is vir die bedryf. Omdat besproeiingsareas ’n meer stabiele omgewing bied, duur die proses in daardie kategorie slegs twee jaar.”
Stephan de Groot, koringteler by Syngenta, sê die maatskappy konsentreer op die plaaslike ontwikkeling en verbetering van die gewas omdat dit van kardinale belang vir die land se graanbedryf is. “Met die diverse klimaatstoestande waaraan koring in Suid-Afrika onderhewig is, is plaaslike teelprogramme van kritieke belang. Syngenta beskik oor drie teelprogramme vir Suid-Afrika. Die teelprogramme streef daarna om voortdurend koringkultivars vry te stel wat verbetering sowel as vernuwing ten opsigte van die huidige kultivars bied.”
Volgens De Groot fokus Syngenta se twee droëlandteelprogramme op koringontwikkeling vir die Wes-Kaap en Vrystaat, terwyl die besproeiingsteelprogram koringkultivars ontwikkel wat aangepas is vir besproeiingsgebiede. “In die drie programme selekteer ons ’n groot verskeidenheid karaktereienskappe om kultivars te ontwikkel wat goed aangepas is vir die spesifieke gebiede. Die belangrikste eienskappe is goeie opbrengs wat stabiel is asook goeie graankwaliteit. Die kultivars moet verder oor eienskappe soos goeie staanvermoë, goeie siekteverdraagsaamheid, pitvastigheid, toleransie teen uitloop asook goeie maal- en bakeienskappe beskik.”
Saadproduksie
Saadproduksie vorm ’n kardinale skakel in die daarstelling van nuwe produkte in die mark en daar word reeds in die teelproses aandag gegee aan die produseerbaarheid van nuwe variëteite of basters vir saad. Daar word onder meer gekyk na aanpasbaarheid van die ouerlyne in die produksie-areas, opbrengs en siektetoleransie, asook die koste van die totale produksie.