Saadopberging is so oud soos die mensdom. Deur die jare is daar geleer watter praktyke ’n mens moet toepas om saad die beste oor te dra van een seisoen na die volgende. Saadmaatskappye spandeer jaarliks baie om dié praktyke te verbeter.
Onthou dat saad ’n lewende biologiese produk is en dat agteruitgang van die saad ’n natuurlike proses is. Daar is wel sekere praktyke wat gevolg kan word om die agteruitgang stadiger te laat plaasvind.
Daar is basies vier faktore wat uitstaan as dit by die stoor van saad kom en na beide kante toe sny deur die saad langer of korter hul kiem- en groeikragtigheid te laat behou. Hierdie faktore is temperatuur, voginhoud, humiditeit en ouderdom.
Die beste praktyk is om so min as moontlik saad van een seisoen na die ander oor te dra. Sou dit wel plaasvind, moet die saad met omsigtigheid geberg word om dit dan die volgende jaar te plant. ’n Wenk hier is om nie saad vir ’n winskoop elders te koop as dit nie eers deur ’n laboratorium vir ten minste kieming getoets is nie.
Hou in gedagte dat sommige gewasse se saad beter oordra as ander. ’n Voorbeeld hier is sojabone teenoor mielies. Eersgenoemde se vermoë vir oordraging is baie swakker as die van mielies. Sojabone toon al van die tweede jaar af agteruitgang, terwyl mielies vier en meer jare oorgedra kan word. Neem ook kennis dat daar binne ’n gewas altyd sekere genetiese groepe is wat uitstaan, sommige dra baie beter en langer oor as ander. By mielies sal blinkpit-tipes gewoonlik beter presteer as duikpit-tipes wanneer dit by oordrag kom.
Die kwaliteit van saad gedurende die opbergingsperiode word deur die aanvanklike kwaliteit van die saad, die voginhoud van die saad, asook die temperatuur en humiditeit gedurende die stoorperiode bepaal.
Temperatuur
Navorsingstudies het getoon dat die somtotaal van die persentasie relatiewe humiditeit plus die temperatuur in grade Fahrenheit (daagliks) nie 100 moet oorskry nie vir die beste kans om saad suksesvol te berg. Hierdie reël kan ’n nuttige verwysing wees, maar moet nie rigied geïnterpreteer word nie. As daar na die verwerking in grade Celsius gekyk word, word hierdie somtotaal op 60 bereken. Uiters hoë temperature kan saad vinnig laat doodgaan. Gewasse met groter sade sal hoër temperature beter verdra as plante met kleiner sade, soos byvoorbeeld grasse.
Saad behoort binne in ’n ordentlike stoorkamer geberg te word. Temperature moet liefs nie 30 ⁰C oorskry nie. Wanneer saad in ’n skeepshouer geberg word soos dikwels die geval is, is dit raadsaam om die houer wit te verf – selfs al staan dit binne ’n stoor of onder ’n afdak. Die wit is baie koeler as enige ander kleur. Saadmaatskappye verf hulle fabrieke en store ook juis om hierdie rede wit. Saad kan net so goed in ’n koelkamer geberg word, maar dan moet dit in lugdigte houers of selfs in ’n geseëlde plastieksak geplaas word. Koelkamers se humiditeit is baie wisselend. Wanneer ’n koelkamer oopgemaak word, trek die koeler items binne die stoor die humiditeit aan. As dit byvoorbeeld saad is, sal die voginhoud van die saad verhoog met moontlike negatiewe gevolge. Die afseël daarvan is dus noodsaaklik. Lugontvogtigers kan hier met sukses gebruik word om die humiditeit in toom te hou.
Voginhoud van saad
Saad is higroskopies, wat beteken dat indien dit aan vog blootgestel word, die voginhoud van die saad sal verhoog. Indien die humiditeit (lugvog) 90% is, kan saad se voginhoud na 20% en meer styg – die saad sal dan vinnig doodgaan. Die hoofrede hier is dat sodra daar ’n vogstyging van 20% en meer in die saad sou plaasvind, die normale respirasieprosesse vinniger word. Eintlik wil die pit dan begin groei, net om weer van die vog te verloor. Sodoende verloor die saad sy groei- en kiemkrag. Die meeste gewasse se saad berg baie goed as dit teen 10% tot 12% vog gestoor word. Saad wat egter te droog gemaak is (onder 7%) se oorlewingsvermoë raak swakker en gaan vinniger agteruit. Daar is ook vasgestel dat olieryke gewasse soos sojabone die beste bewaar word teen ’n voginhoud van 9% tot 10%.
Daar bestaan uiters goeie redes waarom silo-eienaars nie mielies teen ’n graanvoginhoud van meer as 14% wil berg nie. Een van die redes is dat swamme soos Diplodia steeds kan gedy teen hierdie vlakke. Die swam kan dan maklik deur die hele buis groei wat groot verliese tot gevolg kan hê. Om sulke buise “skoon” te kry, verg baie moeite, arbeid en koste.
Humiditeit
Humiditeit – veral hoë humiditeit – kan gesien word as die grootste doodmaker van saad. Waar dit gepaard gaan met uiters hoë temperature kan saad se kieming binne maande totaal vernietig word. Daar moet onthou word dat die kwaliteit van saad gedurende die stoor daarvan grootliks afhang van die oorspronklike kwaliteit van die saad. Omgewings met ’n humiditeit van meer as 60% laat saad egter baie vinniger agteruitgaan as droër omgewings wat gewoonlik gekenmerk word deur ’n laer humiditeit.
Ouderdom
Soos wat saad ouer word, sal dit elke jaar van sy kiem- en groeikrag verloor totdat dit later heeltemal tot niet is. Koeler omgewings met minder lugvog sal bydra dat die saad ouer kan raak met minder agteruitgang.
Knaagdiere en insekte
Saad lok knaagdiere en insekte en daar moet op ’n gereelde basis gif gebruik en ander beheermaatreëls getref word om dit te beheer.
Knaagdiere word suksesvol beheer met knaagdiergif – daar is baie soorte op die mark beskikbaar. Deur nie net van een aktief gebruik te maak nie, sal die opbou van weerstand vertraag word. Sorg dat die lokaas en gif in toepaslike houers geplaas word sodat ander diere dit nie vreet nie. Dooie knaagdiere moet verwyder en begrawe of verbrand word.
Insekte is gewoonlik sporadies ’n probleem en dit moet dopgehou word. Boonagtige tipe saad is gewoonlik meer onderhewig aan besmetting met insekte, soos onder meer kalander.
Oppervlakbespuiting asook beroking werk goed vir die beheer van insekte. Enige saad sonder saadbehandeling daarop moet gereeld dopgehou word vir insekbesmetting. Insekbesmetting kon al op die land plaasgevind het, net om in die stoorkamer groter afmetings aan te neem.
Sanitasie is uiters belangrik: Leë sakke waarin voer of graan was, het meestal ’n pit of twee in en dit skep ’n aanloklike heenkome vir knaagdiere en insekte. Enige voerkraal of plek waar diere gevoer word of waar voer geberg word, lok gewoonlik knaagdiere.
Vir meer inligting kontak Pieter Rademeyer deur ’n e-pos te stuur na pieter.rademeyer@delta2000.co.za.
Algemene wenke
- Dra so min as moontlik saad oor.
- Koop slegs saad aan van bekende saadbesighede. Saadmaatskappye doen gereelde ontkieming op saad om sodoende die beste produk aan die kliënt te lewer.
- Stoor saad in ’n aparte stoor wat liefs geen vensters het nie. Verf die gebou se dak wit; as dit van metaal is, kan die hele gebou/eenheid wit geverf word. Indien daar ventilasie-openinge onder en bo is, moet dit nie toegang vir knaagdiere kan gee nie.
- Inspekteer die saadkamer gereeld vir insekte en knaagdiere.
- Moet nie ander stowwe soos kunsmis, gifstowwe of brandstowwe saam met saad berg nie.
- Saad geberg in koelkamers moet in lugdigte houers geseël word sodat dit nie blootgestel word aan humiditeitskommelinge wat normaalweg in koelkamers ondervind word nie.
- Hou rekord van wat in die saadkamer geberg is en watter jaar dit aangekoop is – gebruik die oudste saad eerste en berg eerder die nuutste saad.
- Maak seker dat die saadkamer gesluit kan word: Diefstal van saad vind al hoe meer plaas, en baie keer is daar net nie saad op ’n laat stadium beskikbaar om te kan plant nie.