“Daar is definitiewe voordele wat voortspruit as ’n produsent self sy graan op sy plaas skoonmaak en stoor. Dit verseker dat hy ’n beter prys kan behaal deurdat hy ’n skoon produk aan kopers lewer. Die sifsels wat uitgehaal word, voorsien ook aan hom ’n produk op sy plaas wat hy andersins nie sou gehad het nie.” Dit is die mening van Dissie Kruger, wat al verskeie jare self sy mielie- en koringoeste skoonmaak, berg en bemark op sy plaas Attiesdraai in die Hopetown-distrik van die Noord-Kaap.
Gradering
Daar word van graanopbergers verwag om ’n skoon produk aan kopers te lewer en hierdie vereiste word nagekom deur die toepassing van die amptelike graderingsregulasies vir graan. Vreemde materiaal maak deel uit van hierdie graderingsregulasies.
Tydens die gradering van byvoorbeeld koring word ongedorste are en vreemde materiale deur middel van ’n siftingsproses vanuit ’n monster verwyder. Die materiaal wat bo die sif vergader, word saam met die sifsels wat onder die sif vergader as vreemde materiaal beskou. Die materiaal onder die 1,8 mm-gleufsif bestaan gewoonlik uit klein of gebreekte korrels. Hierdie gesamentlike persentasie vreemde materiaal word dan van die bruto gewig van die besending afgetrek. Vroeër is ’n 1,6 mm-slotsif gebruik, maar dit is weens onverstaanbare redes tot groot nadeel van die produsent verander.
Dieselfde beginsel geld onder meer ook by mielies waar ’n 6,35 mm-rondegatsif gebruik word. Anders as by koring word daar egter by mielies ’n standaardaftrekking van 0,89% van die bruto gewig afgetrek.
Tydens die bestaan van die landboubeheerrade en eenkanaalbemarkingstelsel was produsente wetlik verplig om hul graan aan landboukoöperasies wat as agent vir die onderskeie rade opgetree het, te lewer. Na deregulering en die implementering van die vryemarkstelsel het die situasie egter verander, wat aan produsente die geleentheid gegee het om grane direk aan kopers te bemark. Aangesien Kruger 35 km van die naaste silo’s af is, het hy na ’n deeglike ondersoek rakende die finansiële voordele besluit om sy eie bergingsfasiliteit op te rig en self sy graan skoon te maak en te bemark.
Besparing
“Tans bespaar ek altesaam R70/ton vervoerkoste vanaf die plaas na die silo’s, R60/ton hanteringskoste van die landboubesigheid by die silo’s en opbergingskoste van R1/ton/dag of gemiddeld R30/maand wat andersins uit my sak sou moes kom,” sê Kruger.
“Dit moet ook in berekening gebring word dat die landboubesigheid die vreemde materiaal wat tydens die skoonmaakproses uitgehaal word vir sy eie voordeel aanwend. Sou ’n produsent byvoorbeeld 20 ton koring aan ’n silo lewer en daar word 3% afgetrek soos gewettig deur die sifselregulasies, dan beloop dit 600 kg. Teen ’n gemiddelde koringprys van R7 000/ton kom dit neer op ’n aftrekking van R2 400 per vrag. Op ’n vrag van 1 000 ton sal 3% neerkom op 30 ton x R7 000 = R210 000.”
Omrede Kruger self sy graan op sy plaas sif, het hy die voorkoms van sifsels in sy opgebergde graan verminder na ’n standaardaftrekking van ’n maksimum van 1% op koring en in die geval van mielies is die standaardaftrekking van 0,89% van toepassing. Dit het ’n groot verskil aan sy winsmarge gemaak en hy kon die uitgawes op die silo’s en siftingsmeganisme binne twee jaar dek.
Die feit dat Kruger die eienaar van sy graansifsels bly, hou vir hom definitiewe finansiële voordele in. Hy beskik nou oor ’n produk op sy plaas wat met groot sukses as vee- en wildvoer gebruik word en saam met lek gemeng word. Dit is ook geskik vir hoendervoer en ’n genadige meevaller om te gebruik tydens droogte of om te skenk vir droogtehulp.
Ruimte vir onderhandeling
“Die grootste voordeel wat die bestuur van sifsels egter vir my as produsent inhou, is dat my graanproduk vir my ’n kaart in die hand gee om oor die prys met ’n koper te kan onderhandel. Ek onderhandel onder andere dat ’n standaardaftrekking ten opsigte van beide my koring- en mieliesifsels moet geld,” sê Kruger.
“Hierdie voordeel is egter nie vir die produsent beskore wat sy graan op die tradisionele wyse aan landboubesighede lewer nie omdat die prys en graad onderhewig is aan die reëls en regulasies wat op daardie landboubesigheid van toepassing is. Sodanige produsent is ook nie in die posisie om die betrokke sifsels vir eie finansiële gewin aan te wend nie, aangesien die landboubesigheid die nuwe eienaar van die sifsels is.”
Wanneer Kruger oor prys onderhandel, gebruik hy die amptelike graderingsregulasies. Daarna moet die koper self verder met ’n meulenaar onderhandel. Hy wys daarop dat ’n produsent egter sy hand nog verder kan versterk deur ’n vertrouensverhouding met ’n koper op te bou danksy konsekwente lewering van skoon graan met ’n goeie gradering.
Aanvaar verantwoordelikheid
Daar is egter bepaalde vereistes wat in die proses nagekom moet word op die pad na sukses. Volgens Kruger is die belangrikste daarvan dat ’n produsent verantwoordelikheid vir die kwaliteit van sy produk moet aanvaar. Die moeilik beheerbare faktore wat die standaard van ’n graanoes en die gevolglik hoër persentasie sifselinhoud sal beïnvloed, word egter nie onderskat nie. Dit sluit ryp en droogtes in.
“’n Belangrike faktor waaroor die produsent egter wel beheer het, is die bestuurspraktyke wat op sy plaas toegepas word, waaronder die keuse van kultivar asook onkruid- en plaagbeheer. ’n Produsent wat goeie bestuurspraktyke toepas, kan ’n definitiewe verskil maak aan die gradering en prys van sy graan,” meen Kruger.
Wanneer daar op Attiesdraai gestroop word, maak hy dus seker van sy graankwaliteit deur die graan op ’n deurlopende basis deur ’n opgeleide gradeerder te laat gradeer. Sou daar enige graderingsdispuut ontstaan, kan ’n graderingsmonster na die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) vir gradering geneem word. Daar het egter nog nooit sodanige dispute rakende sy graan ontstaan nie.
“Dit is ook vir my belangrik om teenwoordig te wees wanneer die opgeleide gradeerder die graan waardeer. Dit stel my in staat om ’n noukeurige evaluering te doen van die impak wat moontlike nadelige faktore, soos byvoorbeeld rypskade, onvoldoende plaagbeheer of ’n verkeerde stelling aan my stroper, op my oes gehad het. Hierdie inligting neem ek dan terug plaas toe om my bestuurspraktyke vir die volgende seisoen dienooreenkomstig aan te pas.”
Stroop self
“Een van my bestuurspraktyke is om self te stroop, want kontrakteurs is gewoonlik onder druk om die grootste hoeveelheid graan in die minste moontlike tyd te stroop. Stropers is toegerus met verskeie monitors en as ek self stroop, word hierdie monitors fyn dopgehou om sodoende die nodige aanpassings te doen. Die regte instelling van die stroper, waaronder die konkawe, rotorspoed, windspoed en siwwe, speel in dié verband ’n belangrike rol en is van kardinale belang in die toepassing van goeie bestuurspraktyke.
“Dit is ook belangrik om die effek van omgewingsfaktore, soos byvoorbeeld die dagtemperature, die graan se vogpersentasie en die vogpersentasie van die plantmateriaal, deurlopend in ag te neem. Daar moet deurgaans in gedagte gehou word dat onnodig beskadigde graan tydens gradering tot penalisering sal lei.
“’n Graanprodusent wat oorweeg om self sy graan skoon te maak en te berg en in die proses die regte praktyke volg, sal nie verkeerd gaan as hy op ’n deurlopende basis ’n produk van goeie kwaliteit lewer nie. Dit sal aan hom ’n afsetgebied met ’n goeie prys verseker,” sluit Kruger af.
Goeie bestuurspraktyke beperk koringsifsels
“Koringprodusente wat nie self hulle koring sif nie, kan deur goeie bestuurspraktyke die aanwesigheid van sifsels in ’n oes beperk,” sê Gerhard Bruwer, ’n produsent van Genade Boerdery waar koring onder besproeiing in die Douglas- en Hopetown-omgewings geproduseer word. Bestuurspraktyke wat deur Genade Boerdery in dié verband toegepas word, sluit die volgende in:
- Bewerkingspraktyke
Daar word voorkomend opgetree teen vogstres deur die grond diep te rip sodat daar ’n goeie reservoir vir die plant geskep word. Sou ’n probleem met kragvoorsiening ontstaan waar die spilpunte byvoorbeeld vir vier dae nie kan loop nie, is daar genoeg vogbewaring vir plante om die droër tyd deur te sien. - Bemesting
Bemesting vind deurlopend plaas met ses toedienings gedurende die seisoen. Grondmonsters word voor elke oestyd geneem en regstellings word voor planttyd gedoen. Makro- sowel as mikro-elemente word oordeelkundig toegedien. - Chemiese praktyke
Goeie chemiese praktyke word toegepas om ’n plant nie aan onnodige stres te onderwerp nie. Onkruiddoders word op die aanbevole stadium toegedien en swamdoders asook produkte teen blaarmyners voorkomend. Kontakdoders word gespuit as wurms of plantluise waargeneem word. - Besproeiingspraktyke
Neutronvogmeters is in elke spilpunt geïnstalleer om vogstatus te bepaal. Water moet optimaal gebruik word en daarom word elke spilpunt se vogstatus weekliks in elke land bepaal deur die gebruik van ’n grondboor. Om vlak wortelgroei te voorkom, word swaarder besproeiing van byvoorbeeld 20 mm op ’n slag toegedien. Die grond word dan eers na drie dae weer besproei sodat dit goed deurlug kan word. - Oesproses
Daar word voorkomend opgetree deur die stropers van dag een af reg te kalibreer. Alhoewel die bestuurders kundig is, word vragte se ontledings daagliks fyn dopgehou vir verbetering. ’n Reëling word met die aankoper getref dat die boerdery dadelik in kennis gestel moet word indien die sifselpersentasie te hoog is, waarna regstellings aan die stropers onmiddellik geskied.