Terughousaad – hoeveel kos dit werklik?

Gepubliseer: 1 Maart 2023

768
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Vele produsente hou veral hul sojabone terug om dit weer te plant. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) word 70% tot 80% van sojaboonaanplantings met teruggehoude saad geplant. Daar is heelwat redes vir hierdie saak uit te maak, maar produsente moet daarteen waak dat goedkoop koop nie duur koop word nie.

Behalwe as daar ander kontraktuele klousules ter sprake is, mag produsente hul saad terughou om dit weer te plant. Dit is egter teen die wet om hierdie teruggehoude graan as saad te verkoop.

Die redes waarom saad teruggehou word, is verstaanbaar. As produsente die saadkoste van tussen 10% en 15% kan bespaar, maak dit mos sin. Onthou net daar is nêrens ’n paradys sonder ’n slang nie – daar is altyd versteekte koste of risiko’s wat lelik kan byt.

Navorsingswerk wat deur saadmaatskappye en universiteite gedoen is, bevestig dat terughousaad nie sommer beter opbrengste as nuut gekoopte saad lewer nie. Alhoewel die saad geneties dieselfde is, verskil die kwaliteit en kan siektes deur die saad gedra word. Uit proewe is opbrengsverskille van tot 600 kg/ha gemeet – en dit was op die oog af goeie terughousaad! Die verwerking, skoonmaak en stoor van die saad beïnvloed die saadkwaliteit en moet bestuur word.

Selfs as ’n produsent saad terughou en produksie bly dieselfde, moet die fout nie begaan word om te dink die saad is verniet nie. Daar is altyd ’n geleentheidskoste om in aanmerking te neem en die gevaar bestaan dat dié graanprys te laag bepaal word.

Die koste van terughousaad begin met die geleentheidskoste van die graan. Die produsent kon mos hierdie graan verkoop het en die geld op ander plekke gebruik of gebank het. Geleentheidskoste gaan ook gepaard met rente, so die tweede kostekomponent is die rente op die geld wat verkry kon word.

Sojaboonsaad wat nog gesif en skoongemaak moet word.

Renteberekening
Baie argumente word gebruik wanneer dit by die berekening van rente kom. Om die geleentheidskoste vir die saad egter reg te bereken, moet die rente vir ’n volle jaar ingesluit word. Elke produsent se rentekoers sal boonop verskil. Indien die boerdery ’n kontantbesigheid is, moet die rente op kapitaal belê gebruik word. Die meeste produsente maak egter van geleende geld gebruik, so die oortrokke fasiliteit se rentekoers moet gebruik word. Hierdie verskil kan groot wees.

Die terughougraan moet vervolgens skoongemaak word en hier is weer meer as een koste ter sprake. Behalwe vir die skoonmaak moet die graan ook uitgesif word. Skoonmaakkoste verskil beduidend – dit kan wissel van amper niks nie tot meer as R1 800/ton. Hoe meer dit kos, hoe beter behoort die saad vir plant te wees. Sommige verwerkers kan die graan skoonmaak, gradeer, opberg, versak en die ontkieming van die graan verskaf. Hierdie graan se saadkwaliteit is dan gelykstaande aan gekoopte saad, maar die risiko indien daar ’n fout met die saad kom, bly die produsent s’n. ’n Realistiese koste van R800/ton is ’n goeie prys vir die skoonmaak van die saad. Die vervoer van die graan bly ook die produsent se koste.

In die saadskoonmaakproses word heelwat graan uitgesif. Daar kan tussen 5% en 15% uitgesif word, maar as ’n praktiese reël kan 10% gebruik word. Alhoewel die produsent hierdie graan weer terugkry, is die bemarking van die graan moeilik omdat dit al die gesplete, gevlekte en beskadigde saad insluit wat gewoonlik ondergraadgraan is. Hierdie graan kan dalk weer op die plaas gebruik word, maar dit land dikwels op die asgat.

Wanneer saad deur ’n derde party skoongemaak word, moet die produsent seker maak dat hy sy eie saad terug ontvang en dat dit nie dalk met ’n ander bron se saad gemeng is nie. Dit help nie ’n mens dink een kultivar word aangeplant en dan is daar ander saad tussenin nie.

Sojaboonsaad wat nog gesif en skoongemaak moet word.

Plantestand
Volwasse plante per hektaar is een van die grootste bepalers van opbrengs. Te veel of te min plante is ewe sleg. ’n Goeie plantestand begin by kwaliteitsaad wat kan ontkiem, groei­kragtig is en siektevry kan groei. Die ontkiemings­persentasie is dus uiters belangrik om te bepaal hoeveel sade per hektaar geplant moet word om die verlangde plantestand te verseker. Indien die saad se ontkiemingspersentasie nie bekend is nie, word maklik meer sade per hektaar geplant as wat nodig is. Dit beteken ekstra saad en dus verhoogde saadkoste. Baie produsente plant maklik 10% tot 15% meer saad as wat nodig blyk te wees. Wanneer produsente saad terughou, moet hulle self die ontkiemingspersentasie bepaal en hul aanplanting daarvolgens aanpas.

Hantering en opberging
Om die ontkiemingspersentasie van sojabone hoog te hou, moet daar aandag gegee word aan die hantering en opberging van die saad. As hier foute gemaak word, gaan die ontkie­mingspersentasie beduidend daal. Maak seker dat die saad reg geberg is en dat dit so sag as moontlik hanteer word. Indien die omhulsel van ’n pit net gekraak is, kom dit nie op nie.

Opberging van saad is van deurslag­ge­wende belang. Let op knaagdiere en insekte wat kan skade veroorsaak. Die vogbestuur van die saad is ook uiters belangrik. Maak seker dat die vog tydens stroop so laag as moontlik is en berg dit op in ’n stoor wat nie te warm en te vogtig is nie. Dit geld ook vir die stoor van gekoopte saad om skade te voorkom.

Saadkoste
Om appels met appels te vergelyk, moet die behandeling van die saad met entstof en ander chemiese middels nie by die saadkoste getel word nie. Gekoopte saad moet ook behandel word of die meeste saadmaatskappye kan dit teen ’n koste doen. Maak net seker waar daardie koste ingesluit is as ’n vergelyking tussen die koste gemaak word.

Kan enige produsent ’n 600 kg/ha-verlies as gevolg van terughousaad bekostig? Dit is wat ’n produsent verloor het deur swak terughousaad te plant. Ongelukkig kom terughousaad met risiko’s – as die saad nie opkom nie of daar is ’n saad­gedraagde siekte kan dit die produsent baie geld kos.

Tabel 1 is ’n voorbeeld van hoeveel terug­gehoude sojaboonsaad behoort te kos. Volgens die tabel gaan terughousaad R13,51/kg kos. Hierdie syfer kan nou met nuwe gekoopte saad vergelyk word. Alhoewel hierdie koste heelwat laer as die nuwe saad behoort te wees, moet produsente die risiko wat ook ingesluit is in ge­dagte hou. Dit word aanbeveel dat ’n gedeelte van die aanplanting met nuut gekoopte saad geplant word en dat graan nie by medeprodu­sente gekoop word om as saad te gebruik nie.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.