Hooi se winsgrens in die kollig

Gepubliseer: 31 Januarie 2023

901
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie
Jan du Toit, afgetrede landboukundige en produsent, Lichtenburg

Met die verswakking van die wins­gewendheid van veevertakkings en stygende insetkoste, is dit nodig om opnuut te kyk na die winsgewendheid van hooi.

Elke produsent se plaas se pro­duksiepotensiaal verskil omdat die weidings gewoonlik op gronde met laer potensiaal aangeplant is. Die gevolg is dat elke plaas se produksiekoste ook sal verskil. Om die koste van hooi onder alle omstandighede dus presies te bepaal, is byna onmoontlik. Elke produsent moet die koste vir sy eie omstandighede self bepaal.

Tabel 1 dien egter as ’n voorbeeld van wat dit kos om een hektaar eragrostis-weiding vir hooiproduksie te vestig. Arbeidskoste en ander oorhoofse koste is nie verreken nie.

Bemesting
Voordat besluit kan word oor die hoeveelheid bemes­ting, is ’n goeie grondontleding noodsaaklik. Maak seker dat die pH(KCl) van die grond vyf of hoër is voor die gewas gevestig word. Die fosfaatontle­ding (P) moet min of meer 20 mg/kg BRAY 1 wees en die kalium-ontleding (K) moet naastenby 120 mg/kg wees. Doen die regstellings voor vestiging, tydens die volgende tien jaar is daar nie weer geleentheid nie.

’n Praktiese reël wat algemeen gebruik word vir stikstof-bemesting (N) is 0,2 kg tot 0,25 kg vir elke 1 mm reën – met ander woorde 100 kg N/ha vir ’n 500 mm-reënvalgebied. Normaalweg word P in die verhouding van 10:1 N en P toegedien, terwyl K in die verhouding van 10:2 N en K toegedien word as die gras gesny, gebaal en weggery word.

Tabel 1 dui aan hoeveel dit sal kos om een hektaar eragrostis saam met tef te vestig.

Tabel 2 dien as voorbeeld van wat dit kan kos om een hektaar gevestigde eragrostis vir 5 ton droë materiaal te bemes en hooi te maak. Daar word voorsie­ning gemaak om twee keer kunsmis toe te dien en twee snysels af te haal. Die koste om die voer weg te ry, sluit ook terugvoerkoste in. Die vestigingskoste is nie in hierdie tabel in berekening gebring nie.

Teen ’n opbrengs van 5 t/ha beloop die koste per ton hooi geproduseer dus R2 982,35/ton. Indien aanvaar word dat die vestigingskoste R11 684,26/ha is en dat drie ton tef verkoop kan word, behoort die vestigingskoste ongeveer R7 000/ha te beloop. As die weiding vir sewe jaar gebruik sal word, dan blyk die hooikoste R3 182/ton te wees.

Aangesien baie produsente groot oppervlaktes eragrostis het en daarvan deur vee laat bewei, dui Tabel 3 die koste om eragrostis te bemes vir beweidingsdoeleindes aan.

Winsgewendheid
Die vraag bly altyd hoeveel bemes moet word om die meeste wins te maak. Die wet van dalende meeropbrengs geld ook vir die bemesting van aangeplante weiding. Dit beteken dat die produksie per een eenheid ekstra inset toegedien tot op ’n punt sal toeneem en dan begin daal.

Hierdie winsgewendheidsbeginsel is deur Omnia nagevors en daar is produksiekurwes vir verskillende stikstofbemestingspeile beskikbaar. Met hierdie produksiekurwes kan die bemestingspeile vir aangeplante weiding bepaal word. Dit is egter nie so ’n eenvoudige proses nie, aangesien verskillende veestelsels verskillend reageer en die bemestingspeile hiervolgens aangepas moet word. Die interaksie tussen die koste van bemesting, die speenkalfgroei en die slagprys gaan jaarliks verskil en die winsgewendheid beïnvloed.

As voorbeeld is daar na die winsgewendheidsontleding van speenkalwers wat op aangeplante weiding uitgroei, gekyk. Dit sluit bemestingkoste, die vee-aankope, die lek en doseerprogramme en dan die verskillende hoeveelhede vee wat per hektaar gedra kon word, in. In Tabel 4 word ’n volledige uiteensetting van die ekonomiese ontleding gebruik om die effek van verskillende bemestingspeile te evalueer.

Uit hierdie ontledings het baie interessante antwoorde na vore gekom. Vir die speenkalwers wat inkomste genereer vir elke kilogram wat hulle groei, is die marge per hektaar op elke bemestingspeil posi­tief. Die marge neem toe vanaf nul tot en met die 100 kg N/ha-peil, maar ongelukkig is die verskil in bruto marge per hektaar tussen die 50 en 100 kg N/ha net R14,53, wat dit dus nie die moeite werd maak om die 100 kg N/ha te gooi nie.

Die huidige hoë kunsmispryse maak dit duur om aangeplante weiding te bemes. Faktore soos voervloei moet in aanmerking geneem word. As die weiding binne die voervloei benodig word, is die antwoord eenvoudig om te bemes of diere minder te maak.

Dit is uiters belangrik dat hierdie weiding of hooi so effektief as moontlik bestuur word. Die stadium van sny, hark en baal van die hooi is van kritieke belang. Deur op die regte tye te sny en vinnig te baal, is ’n moet om die beste kwaliteit hooi te produseer.

Bemesting van weiding is nie ’n versekering dat goeie kwaliteit hooi geproduseer gaan word nie. In die geval waar daar 60 kg N/ha­ gegee word, is daar ’n verlaging van 38% in die ruproteïeninhoud indien daar in die blom- eerder as in die blaarstadium gesny word. Die verteerbaarheid word ook met 12% verlaag. Meer lek sal dus vir die diere gegee moet word. Fokus verder op die terugvoer van die hooi en beperk die vermorsing deur van hooiringe gebruik te maak.

Die bemesting en aanplant van aangeplante weiding moet altyd binne die voervloei gesien word. Aangeplante weiding bly ’n duur bron van voer vir die vee en dit moet so effektief en doeltreffend moontlik bestuur word. Doen jou eie berekeninge om die vestigingskoste en winsgewendheid van jou stelsel te bepaal.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by pietmanbotha@gmail.com of Jan du Toit by janzelbeefmaster@gmail.com.