Wisselbou en grondgesondheid is boublokke van sukses

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

514

In die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie se afdeling vir sojabone wat onder besproeiing verbou word, het Jan van Heerden van Hartswater met die louere weggestap met ’n opbrengs van 6,28 t/ha. Hy het hierdie wenopbrengs behaal met die Don Mario-Agricol-variëteit DM 5953RSF. Omgeskakel na opbrengs per millimeter reën, het hy 9,7 kg graan/mm geproduseer met ’n variërende insetkoste van R3 105/ton.

Jan boer met pekanneute, katoen, lusern, koring en mielies in die Vaalharts-besproeiingskema naby Hartswater in die Noord-Kaap – en dan die afgelope seisoen ook met sojabone. Hy het 35 ha van dié sojaboonvariëteit geplant. Die verdeling van sy gewasse bestaan uit ongeveer ’n derde lusern, 40% koring of mielies, 10% katoen en 10% sojabone. Hy boer verder met Bonsmarabeeste en het ook ’n wilds­plaas. Diversifikasie verlig die produksierisiko’s, meen hy.

Volgens Jan vorm wisselbou die hoeksteen van sy boerdery. Hy begin sy siklus met vier tot ses jaar lusern, waarna hy vir twee seisoene koring en mielies plant. Daarna word die grond oorgelê om vroeg sojabone of katoen te plant en dan begin die siklus weer van voor af, verduidelik hy.

Dit was sy eerste inskrywing vir die opbrengskompetisie en dit was ook die eerste jaar wat hy hierdie bekende staatmaker van Don Mario, wat oor baie produksiestreke aangepas is, geplant het. “Dit was die eerste jaar wat ek sojabone geplant het. Ek het hawer na die mielies geplant en dit aan die begin van Oktober ingespit met ’n implement wat van Nederland af ingevoer is. Ek het die sojabone die eerste week van November laasjaar geplant en aan die einde van Maart 2022 gestroop.”

Kyk hy terug na die 2021/2022-plantseisoen, sê hy dit was eintlik ’n maklike seisoen. In dieselfde asem noem hy egter dat ’n mens nooit gerus moet raak nie, want die nuwe jaar kan weer verskillend uitdraai. “Elke jaar is anders en ’n jaar later is daar dalk weer baie meer of ander uitdagings wat ons moet hanteer. Ons was die afgelope jaar gelukkig en het goeie reën vanaf einde November tot Maart ontvang. Die reën was goed versprei oor die groeiseisoen en die spilpunt het selde geloop.”

Jan en sy oudste seun, Fredrik.

Die meeste van die lande waarop hy gewasse produseer, bestaan uit turf- of swaar leemgrond – die sojabone is op ’n land geplant wat oorwegend bestaan uit besonder swaar turf. Hy volg ’n gemengde grondbewerkingstelsel in sy gewasproduksie. Voor die koring-, sojaboon- en katoenaanplantings word grond tot 650 mm diep bewerk met ’n skeurtandimplement en daarna word die saadbed met ’n krageg voorberei. Wanneer hy mielies plant, pas hy minimumbewerking toe en plant direk in die oesreste.

Jan beheer die onkruid op sy lande deur sover moontlik ’n voor­opkomsonkruiddoder na plant, maar voor opkoms te spuit. Hy spuit wel glifosaat, maar net wanneer die onkruiddruk baie hoog is. Die sojaboonlande wat ingeskryf is, is wel drie keer met Roundup-glifo­saat gespuit.

Wat kunsmis betref, het hy 300 kg Opti pot 10:1:6 tydens blom toegedien en tydens die platpeulstadium weer 300 kg Opti pot 3:1:6 van Kynoch.

Die balans tussen hoë opbrengs en winsgewendheid is amper soos ’n strikvraag, meen hy. “Ongelukkig kos goeie opbrengste geld. Jy kan nie ’n hoë opbrengs behaal as jy nie bereid is om in jou grond te belê nie. Dit is waarom ’n goeie wisselboustelsel noodsaaklik is. Dit is net so belangrik om organiese materiaal in die grond terug te sit en so die grond se gesondheid op te bou. Ek gooi al vir meer as tien jaar elke jaar beesmis op my lande om hulle op te bou.”

Jan meen hy kan nie nou al raad aanbied ten opsigte van soja­boonproduksie nie, aangesien hyself nog ’n groentjie is, maar beklemtoon dat dit noodsaaklik is om na die grond om te sien. “Al raad wat ek aan ander produsente kan bied, is: ‘Sorg vir jou grond en hy sorg vir jou.’”

Hy voel ook dit is belangrik om jouself te omring met mense wat oor meer kennis as jy beskik en wat jou van raad kan voorsien. Hy plant nie self proewe nie, maar sorg dat hy op hoogte bly van die proewe wat in sy nabye omgewing geplant word.