Grondregstellings die beste besluit ooit

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

586

Hoewel dit nie normaalweg in sy aard is om aan kompetisies deel te neem nie, het Paul Farrell van die plaas Zaaihoek naby Clarens hom tog vanjaar weer deur sy saadverteenwoordiger laat ompraat om in te skryf vir die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie.

Dit was ’n goeie besluit, want Paul het koning gekraai in die afdeling vir sojabone wat in die Oos-Vrystaat verbou word, met ’n rekordopbrengs van 5,519 t/ha met die Don Mario-Agricol-variëteit DM 5953RSF. Vorige jare het hy in die mielie-afdeling deelgeneem.

Behalwe die sojabone en mielies wat hy plant, rond Paul ook speenkalwers af op aangeplante weiding onder spilpunt. Hy het verder ’n wildskomponent, maar sê hierdie afdeling is net vir plesier en ontspanning.

Die aanplanting van die kontantgewasse geskied op ’n 50/50-rotasiebeginsel. Paul plant 930 ha sojabone, waarvan 220 ha met P1521 geplant is en die res met die Don Mario-Agricol-variëteite, DM 5953RSF en DM 5351. Sy gemiddelde sojaboonopbrengs vir die seisoen was 2,76 t/ha.

Hy sê die gedeelte wat vir die kompetisie geproduseer is, het dieselfde behandeling ontvang as die res van sy sojaboonlande. “Ek het dieselfde praktyke regdeur gevolg en die gedeelte het geen addisionele voedings ontvang nie.”

Paul baseer sy graanboerdery op ’n minimumbewerkingstelsel, maar sluit skeurtand- en krapbewerkings in. Hy probeer altyd om so vroeg as moontlik te plant, maar as gevolg van wisselvallige reënval verskil sy plantdatums van jaar tot jaar. “Omdat ons ’n besonder koel klimaat met hoë reënval het, is grondtemperatuur uiters belangrik en bepaal dit hoofsaaklik ons plantdatums.”

Hy het die gedeelte wat hy ingeskryf het vir die kompetisie op 28 Oktober 2021 geplant.

Die reënval vir die somerseisoen was 852 mm, met ’n goeie verspreiding deur die seisoen. Volgens Paul was die reën egter ook die oorsaak van die meeste van sy kopsere in die 2021/2022-plantseisoen. “Met die baie reën wat in April geval het, kon ons eers aan die einde van April begin stroop – wat nie die optimale tyd was nie. Dit was net te nat om in die lande te kom.”

As sy wenopbrengs verwerk word na opbrengs per millimeter reën, het hy 8,8 kg graan/mm behaal met insetkoste van R1 558/ton.

Paul Farrell behaal ’n rekordopbrengs van 5,519 t/ha in die afdeling vir sojabone wat in die Oos-Vrystaat verbou word.

Om die onkruid in die lande te bestuur, volg hy Novon Protecta se onkruidbeheerprogram. Die eerste toediening word met plant gedoen en hy gebruik dan 1 ℓ Baseline, 100 g Extreme Plus, 150 g X-Treem Moly en 50 mℓ Karate. Die opvolgtoediening is ’n mengsel wat bestaan uit 25 mℓ Max357, 2 ℓ Touchdown, 20 g Extreme WP en 80 mℓ Twister. Bolwurm word beheer met Ampligo en Karate.

Die grondtipes op die plaas wissel geweldig. “Hierdie wisseling is tipies van die Oos-Vrystaat,” verduidelik Paul. Die grondtipe op die blok wat vir die kompetisie gestroop is, is Sepane, ’n swart alluviale turftipe grond wat baie diep is en ook uiters vrugbaar.

’n Hele aantal jare gelede het Paul al die lande wat op margi­nale grond was uit sy gewasverbouingselsel onttrek en eragrostisgras daarop gevestig. Hy laat die beeste op die oesreste wei, maar net tot einde Augustus.

Vir die afgelope twaalf jaar doen hy grondontledings volgens ’n 1 ha-rooster wat vir al sy lande opgestel is. Hy doen dan presisieregstellings met kalk, MAP en KCl. Die gevolg van hierdie praktyk is dat die suurversadiging op al die grond feitlik 0 is. Die gemiddelde Ph van die grond is ongeveer 5,6. “Die grondontledings en regstellings­praktyke was nie goedkoop nie, maar ek kan onomwonde sê dat dit die beste besluit was wat ek nog ooit geneem het.”

Op die sojabone strooi hy ook variërend 150 kg 1:2:4 (40) + 5% Zn voor plant uit. Hy dubbelent op die pit en dan weer voor plant. Hy spuit elke drie weke voor blom Aminodose en Soya to Grow met 3 kg ureum by. Saam met die bolwurmbespuiting dien hy 2 kg kaliumsulfaat toe vir pitvul. Hy glo dat die kalium ’n uiters belangrike rol tydens die pitvulstadium vervul.

Om opbrengs en wins in goeie balans te hou, werk Paul volgens sy langtermyngemiddeldes wat betref insetkoste, opbrengs en reënval. Hy steun ook op prysprojeksies vir die komende seisoen. Hy skryf mielie- en sojaboonkontrakte gewoonlik op die beginsel van een derde voor die seisoen, een derde tydens die seisoen en een derde na die oes. “Hoewel ek op die derdebeginsel werk, is die betrokke seisoen ook bepalend. Ek werk volgens beginsels, maar hou ook ’n oog op wat aangaan in die landbou-omgewing en die weer.”

Nog ’n manier waarop hy sy oog op die koste hou, is om insette soos kunsmis en chemiese middels jaarliks aan te koop nadat hy vergelykende kwotasies ingewin het. “Ek kyk na produkte se prys, maar maak seker dat ek nie kwaliteit inboet nie.”

Paul plant sy eie proewe op die plaas saam met saadmaatskappye, maar sê hy maak ook staat op omgewingsresultate. “Ek glo sterk in mikroklimaatverskille. Hoewel ek na heelwat proefresultate kyk, is my eie resultate gewoonlik die akkuraatste.”

Sy raad aan ander produsente – veral jongmense wat die bedryf betree – is om alles wat hulle aanpak met oorgawe te doen. “Doen alles met oorgawe – oorgawe in geloof en oorgawe in waag­moed. Al beleef jy terugslae, sien dit as lesse en uitdagings om te oorkom. ’n Positiewe uitkyk op die lewe is ongelooflik belangrik. Plant elke jaar vir ’n nat jaar en nie vir ’n droë jaar nie. Laastens glo ek onwrikbaar daarin dat as jy doen waarvoor jy lief is, sal dit vir jou voel of jy nooit werk nie!”

Volgens Paul is sy seun, Paul-Johan (26), saam met hom op die plaas sedert hy sy studies voltooi en ’n draai in Amerika gaan maak het. “Waar ek my meer toespits op die saaiboerdery, is hy weer die veeboer! Ons vul mekaar goed aan en dit is vir my ’n groot voorreg om saam met hom te boer en te weet dat hy ook ’n passie vir boerdery het.”

In sy eie opset sal hy graag nog daaraan wil werk om ’n beter – of die optimale – balans tussen ’n gesonde veefaktor en saaikomponent te kry.

Paul glo vas dat goeie opbrengs op die ou einde ook net aan genade van Bo toegeskryf kan word. “Ons is so afhanklik van die Here se genade en ons eie aandeel is eintlik weglaatbaar.”