Dekgewasse voordelig vir insekte in landbou-ekosisteme

Gepubliseer: 4 November 2022

892
Dr Astrid Jankielsohn, LNR-Kleingraan, Bethlehem

Insekte is die grootste en mees diverse groep diere op aarde met ongeveer 30 ordes en sowat een miljoen geïdentifiseerde spesies. Hoewel produsente meestal net op insekte fokus wat as plae beskou word, vervul die meerderheid insekte ’n voordelige en noodsaaklike rol in landbou-ekosisteme.

Uit die ongeveer een miljoen insekspesies bekend, kan minder as 1% beskou word as plaaginsekte wat landboukundige gewasse beskadig. Insekte is die basis van enige ekosisteem en die funksies wat deur insekte verrig word, verseker die korrekte funksionering van die ekosisteem. Insekte hersirkuleer voedingstowwe en tree as ontbinders, bestuiwers en predatore/parasiete op.

Die balans van ’n landbou-ekosisteem word bepaal deur die tipe sisteem wat geskep word deur landbou- en bewerkings­aktiwiteite. Wanneer die sisteem byvoorbeeld verander word na een wat hoofsaaklik uit monokultuur bestaan, verander die hele samestelling van die sisteem en die bronne vir insekte om suksesvol te oorleef. In ’n monokultuurstelsel word gunstige toestande geskep vir een of twee spesies insekte, terwyl al die ander insekte uitge­sluit word omdat die habitat nie meer geskik is vir hul oorlewing nie. Aangesien daar dan geen kompetisie of predasie is nie, word hierdie enkele spesies dominant in die sisteem en hulle kan dan uiteindelik plaaginsekte word wat skade aan gewasse veroorsaak.

’n Volwasse sweefvlieg.

’n Gunstige habitat
Om suksesvol in ’n omgewing te oorleef, het ’n insek voedsel, skuiling en ’n gunstige mikroklimaat nodig. Deur ’n verskeidenheid van dekgewasse te plant, kan ’n gunstige habitat geskep word vir verskillende voordelige insekte. Hierdeur kan die diversiteit in die ekosisteem verhoog word, wat sal lei tot ’n meer diverse insekgemeenskap. Daar moet gelet word op die spesifieke omgewing en insekte wat in die omgewing voorkom. Konsentreer hoofsaaklik op inheemse plante en plante wat goed by die spesifieke omgewing aangepas is. Daar moet verder ’n poging aangewend word om diverse voedselbronne, wat ’n groot verskeidenheid insekte kan onderhou, in te sluit.

’n Verskeidenheid van plante wat deur die jaar bronne van stuifmeel en nektar is, sal bestuiwers en predatore onderhou. Daar moet ook in gedagte gehou word dat sommige insekte op verskillende voedselbronne oorleef in die onvolwasse en die volwasse stadiums. Die sweefvlieg (Syrphidae) voed op nektar en stuifmeel in die volwasse stadium en word as een van die be­langrikste bestuiwers beskou. Die larwes voed op plantluise en blaaspootjies en is belangrike predatore in die sisteem. Dekgewasse skep ook skuiling en ’n voordelige habitat vir grondlewende insekte soos grondkewers (predatore), miere (ontbinders) en miskruiers (ontbinders).

Dekgewasse vorm ’n bedekking vir die grond wat die temperatuur reguleer. Met die insluiting van dekgewasse sal grondtemperature verhoog tydens die winter en verlaag gedurende lente. Hierdie toestande sal voordelig wees vir ontbin­ders wat verseker dat voedingstowwe gesirkuleer word en grondgesondheid be­voordeel. Grondgesondheid is weer voordelig vir plante. As genoeg water en voeding­stowwe vir die plant beskikbaar is, sal dit gesonde plante tot gevolg hê. ’n Gesonde plant kan skade van insekte of patogene beter weerstaan.

’n Sekere hoeveelheid herbivore en skade op plante is natuurlik en dit sal nie noodwendig die opbrengs van die plant beïnvloed nie. Hierdie populasies dien ook as voedselbron om predatore in die ekosisteem te onderhou. Dit is wanneer die ekosisteem versteur en verander word dat hierdie insekte wat op die plante voed hul populasies bo die drempelwaarde kan vermeerder en opbrengsverliese tot gevolg kan hê.

Deur die regte dekgewasse te plant, kan ’n gunstige habitat geskep word vir ’n verskeidenheid van insekte wat belangrike ekosisteemfunksies verrig en voordelig is vir die hele ekosisteem, in plaas daarvan om net een of twee insekspesies te bevoordeel.