Oor die afgelope paar maande het ons geskryf en gewaarsku oor die ongunstige en riskante situasie betreffende inflasie, spesifiek voedselinflasie. Die donker wolk van stygende plaasinsetpryse word selfs langer al bespreek en is deels geïdentifiseer as die oorsaak van eersgenoemde.
Ons weet dat dit dikwels moeilike tye soos hierdie is wat kreatiewe idees, innovasies en oplossings noodsaak. Die realiteit is dat die globale (en veral die plaaslike) kragtoevoeronderbrekings die oorsaak van hierdie verknorsing is – skuldig sonder twyfel. Ek skryf hieroor omdat dit ons speelveld is dié, dit is ons gedeelde verantwoordelikheid, maar dit is ook Suid-Afrika se grootste risiko.
Soos ek hier skryf, moet ek erken dat ek steeds worstel (eintlik in skok) met die inligting wat een van ons prominente meulenaars onlangs tydens ’n vergadering met my gedeel het. Voedselinflasie het ’n nadelige en verskriklike uitwerking op die mense in ons townships. As die verkope van stapelvoedsel beskou word, bly die eenhede konstant, maar die volumes het oor die afgelope weke aansienlik verminder. As voorbeeld het hulle opgemerk dat lae-inkomsteverbruikers gedwing word om die grootte van mieliemeelsakke te halveer weens bekostigbaarheid. Dit is nie net die gevolg van die hoë mielieprys nie, maar eerder die domino-effek van energie- en ander waardekettingkoste wat opwaartse druk op stapelvoedselpryse plaas. Ja, ons is terdeë bewus hiervan en ten spyte van die feit dat plaaslike mieliemeel steeds die bekostigbaarste voedsel is, keer ’n aansienlike deel van lae-inkomstehuishoudings in ons land terug na een maaltyd per dag.
Selfs meer skokkend is dat ander oorleef (vir nou) deur elke tweede dag te eet! Ons het hieroor gewaarsku, ons het geweet dit is erg, maar ek is seker as ons eerlik met onsself is, het nie baie van julle wat hierdie lees die erns van die situasie besef nie. Ons penarie is dat produksiekoste die hamer is en bekostigbaarheid van voedsel die aambeeld, of is dit nou andersom?
In Augustus het die Verbruikersprysindeks (VPI) effens gesak tot by 7,6%, 0,2% laer as in Julie. Meer onlangs het die Globale Voedselsekerheidsindeks (GFSI), ontwikkel deur Economist Impact en ondersteun deur Corteva Agriscience wat die bekostigbaarheid, beskikbaarheid, kwaliteit en veiligheid sowel as volhoubaarheid en aanpassing van voedsel in 113 lande oorweeg, Suid-Afrika in die 59ste plek geplaas. Wanneer dit in die vier hoofkategorieë verdeel word en punte verdien uit 100, kry bekostigbaarheid 63,4, dit is 7,1 punte minder as in 2012; beskikbaarheid kry 60 wat 3,7 punte hoër is; kwaliteit en veiligheid kry 66,1, op met 3,9 punte; en volhoubaarheid en aanpassing kry 56, amper 22 punte hoër as in 2012.
Areas wat uitgelig word om te verbeter, sluit eerstens voldoende aanbod of toereikendheid in, wat gekategoriseer is as uiters swak, gevolg deur inkomste-ongelykheid wat van 42,9 tot die huidige 31,2 punte afgeneem het ten spyte van al die regstellende programme. Derdens is voedingstandaarde gemerk, spesifiek as gevolg van swak etikettering rakende voedingswaarde.
Uit bogenoemde is die skrif duidelik aan die muur, veral in ag genome die geprojekteerde bevolkingsgroeikoerse van Afrika suid van die Sahara. As plaaslike landbou sal ons moet aanhou om onsself te oortref om ons geliefde nasie te red. Dit is nie iets nuuts nie, maar die tempo van verandering wat vereis word, hou net eenvoudig aan toeneem. Voorwaar ’n somber prentjie, maar ek is seker die optimis sien die geleenthede raak. Die feit bly staan dat die huidige situasie baie erger sou gewees het as ons nie geseën was met uiters gunstige reënvaltoestande oor die laaste drie seisoene nie. Dink net …
Terwyl ons hierdie feesseisoen ingaan, almal hoopvol vir nog ’n goeie jaar, laat ons onthou om voort te gaan om ons beste te gee. Laat ons aanhou om die regte dinge te doen en nooit vergeet hoe belangrik ons roeping is nie! Bly asseblief gefokus, bly asseblief positief en moet nooit ophou droom oor die geleenthede nie. Geniet die plaas en neem julle mede-Suid-Afrikaners saam met julle. Ons toekoms hang van julle af!