Waar staan sake met grondbone?

Johan Smit, besturende redakteur: SA Graan/Grain
Gepubliseer: 29 September 2022

1044

’n Simposium om te bepaal waar die grondboonbedryf hom tans bevind, het gesorg vir aanbiedings oor teling, plantsiektes, agronomie en markte. Tydens die paneelbe­spreking het brandpunte in die bedryf duidelik na vore gekom.

Die simposium, wat op 25 Augustus deur die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) en die Oliesade-advieskomitee (OAK) in Potchefstroom aangebied is, is deur verskeie rolspelers uit die grondboonwaardeketting bygewoon. Die sprekers was dr Renée Prins (CenGen), dr Sonia Steenkamp (LNR-Graangewasse), Niel Basson (MBFi), dr Solomon Tladi (LNR-Graangewasse) en Christiaan Vercueil (Graan SA).

Dr Ntladi, grondboonteler by die Landbounavorsingsraad (LNR), het gefokus op die instansie se kort- en langtermyn-kultivarinstandhoudingsprogram asook die nasionale teelprogram en proewe. Hy is positief dat nuwe kultivars uit die LNR-stal in die volgende jaar of twee die lig kan sien. Die LNR wil egter sy graderingsprotokol met dié van die bedryf belyn en vennootskappe met die bedryf versterk.

In sy aanbieding oor die produksiemoontlikhede het Vercueil (junior ekonoom by Graan SA) uitgewys hoe grondboonproduksie ’n duidelik afwaartse tendens oor die afgelope 20 jaar op droëland en onder besproeiing toon. Terwyl sowat 289 000 ha grondbone in 1981 aangeplant is, is daar maar slegs 43 400 ha die afgelope seisoen geplant.

“Plaaslike produsente produseer nie meer wat hulle kan nie. Wat opbrengs betref, is grondbone se prestasie ook beperk. Die opbrengsverhoging in grondbone sedert 2000/2001 trek die skaal op 2%, terwyl mielies ’n indrukwekkende 100%-verhoging in dieselfde tydperk behaal het.

“Die effek kan ook gesien word in uitvoere. Waar Suid-Afrika oorspronklik ’n uitvoerland was, het die situasie omgeswaai. Invoere is tans hoër omdat produksie afgeneem het, wat meebring dat gebruikers laer af in die voorsieningsketting grondbone teen hoë pryse moet invoer. Deursigtige markinligting is noodsaaklik om prysontdekking te vergemaklik ten einde ’n goed gebalanseerde en volhoubare grondboonmark te verseker,” het Vercueil gesê.

Gerhard Bruwer, voorsitter van Graan SA se Grondboonspesia­liswerkgroep, het hierby aangesluit: “Grondbone se winsgewendheid is daarmee heen. Die prysmodel is belangrik, maar opbrengs is koning en dit is waar ons groot probleem vandag lê.”

Punte wat tydens die paneelbespreking geopper is, het die volgende ingesluit:

  • Beskikbaarheid van saad asook vermenging
  • Oorregulering van die mark
  • Min vordering met genetika en nuwe teeltegnologie
  • Aflatoksien-risiko
  • Invoertarief op geroosterde grondbone en grondboonbotter
  • Akkurate inligting oor hektare en opbrengs
  • Naspeurbaarheid
  • Drastiese styging in uitvoerkoste vir verwerkers
  • Prysbepaling in Afrika per sak (ongeag die graad)
  • Onsekerheid oor graderingsnorme by opkomende boere
Christiaan Vercueil (Graan SA), Gerhard Bruwer (Graan SA-grondboonspesialiswerkgroep), dr Solomon Ntladi (LNR-Graangewasse) en Gerhard Keun (OPOT) gesels grondboonsake tydens die simposium wat by Kumkani Country Lodge in Potchefstroom aangebied is.