Graanprodusent van die Jaar-toekennings … dit was ’n lang wag!

Gepubliseer: 29 September 2022

3648
Alzena Gomes skakelbeampte, Graan SA alzena@grainsa.co.za

Net soos vele ander geleenthede en funksies, is die Graanprodusent van die Jaar toekenningsgeleentheid ook deur die COVID-19-pandemie geraak. Drie jaar se afwesigheid was ’n lang tyd om te wag om erkenning aan van ons beste graanprodusente te gee. Toe die inperkingsreëls wyk, het ons dadelik aan die werk gespring om die Graanprodusent van die Jaar-finaliste te besoek.

Die 2022-toekenningsaand wat ten doel het om erkenning aan uitmuntende graanproduksie te gee, vind plaas op Vrydag 21 Oktober. Die titel van Graanprodusent van die Jaar word vir die 21ste keer toegeken aan ’n uiters effektiewe en doeltreffende Suid-Afrikaanse graanprodusent, wat nie net ’n ware rolmodel in die gemeenskap is nie, maar ook die kuns bemeester het om winsgewende en volhoubare graanproduksie te bevorder.

Tydens die beoordelingsproses word genomineerde produsente deur ’n kundige paneel besoek wat onder andere ’n agronoom, ’n landbou-ekonoom en ’n grondkundige insluit, asook graanprodusente wat op Graan SA se Hoofbestuur dien. Alhoewel die finaliste diversifiseer, word klem gelê op effektiewe en doeltreffende verbouing van graan en word die primêre beoordeling uit­sluitlik op graanproduksie gedoen. Produsente se doeltreffendheid en effektiwiteit word gemeet aan verskeie kriteria, wat onder meer agronomie asook hulpbron-, finansiële en bemarkingsbestuur insluit. In ooreenstemming met Graan SA se strategiese doelwitte, is produsente se betrokkenheid in die gemeenskap en beleidsomgewing ook belangrik. Verder word produksiepraktyke, plaag- en onkruidbeheer, meganisasie en arbeidsbestuur ook geëvalueer.

“Nominasies is ’n manier waarop produsente lof aan medegraanprodu­sente kan toeswaai en ’n klinkklare bewys dat jy iets êrens reg doen – en dat dit raakgesien word. Ons kort rolmodelle in landbou wat opkyk en vorentoe kyk en die voorbeeld wat ons Graanprodusent van die Jaar-finaliste stel, sowel as hul mentorskap, speel ’n beduidende rol vir die jonger geslag van produ­sente. Die hoë standaard van graanproduksie in Suid-Afrika word beklemtoon en die jonger boere kan daardeur leer wat om te doen om dieselfde hoogtes te bereik,” het Jozeph du Plessis, Graan SA-hoofbestuurslid en paneelsameroeper gesê.

Dit is vir Graan SA uiters belangrik om erkenning te gee aan graanprodusente en om suksesvolle graanproduksie ten toon te stel. Suid-Afrika kan nie sonder sy produsente nie en die toekenning gee die organisasie die geleent­heid om die ongelooflike beeld van landbou en die standaard van plaaslike graanproduksie te beklemtoon. Daarbenewens word die beeld van die graanprodusent bevorder deurdat die produksievlak van graan in Suid-Afrika met trots aan die breër publiek bekendgestel word. Graanproduksie in Suid-Afrika is gesofistikeerd, professioneel, geloofwaardig, inspirerend, verg bloed en sweet, maar is altyd vol hoop.

Geniet die uitstappie na ons 2022-finaliste en hou gerus die November-uitgawe van die tydskrif dop vir ’n kykie na die galatoekenningsaand vol swier en prag. Ons bedank hiermee ook ons jarelange borg wat sedert die instelling bydra tot die sukses en voortbestaan van die gesogte toekenning. Ons stel met trots ons 2022-finaliste voor:

  • Gideon Koegelenberg van Damkraal Boerdery by Makwassie in die Noordwesprovinsie
  • JP Meintjes van Kruispan by Viljoenskroon in die Noordwesprovinsie
  • André Brink van Groot Phesantekraal by Durbanville in die Wes-Kaap

GIDEON KOEGELENBERG, MAKWASSIE

Die Koegelenbergs het vanuit die Kolonie agter delwery na die Wes-Transvaal gekom en destyds op kroongrond begin boer. Gideon Koegelenberg het 40 jaar gelede, toe sy pa in standerd 6 vir hom 20 ha met insette gegee het, begin boer.

Die liefde was daar en dit was net genoeg motivering vir die jong man om te woeker met wat hy het. Die daaropvolgende jaar moes hy sy eie insette aankoop, maar met ’n kop vol planne kon Gideon drie jaar later in 1985 nog 30 ha by die buurman huur om te plant.

Selfs met die matriekeindeksamen op hande in 1986 kon Gideon nog skoffel bou én genoeg aandag aan die skoolwerk gee om – na ’n kort tydjie in die weermag – landbouplantproduksie by die Pretoria Technikon te gaan studeer. Die harde werk en toewy­ding het vrugte afgewerp en in 1989 kon hy sy eerste plaas koop. Aangesien Gideon reeds van skool af saam met sy pa geboer het, kon hy die algehele boerderybeplanning, bestuur, besluitneming, bewerking en bemarking in 1995 oorneem. Met die koms van die vrye mark na Suid-Afrika, het hy die geleentheid gehad om saam met Graan SA die Chicago Board of Trade te besoek en hy het vroeg reeds meer geleer oor presies hoe om produkte op Safex te verhandel.

Gideon en Melanie Koegelenberg met hulle dogtertjie, Ella.

Met die uitgebreide boerderybedrywighede het Gideon ’n gedugte bestuurspan aan sy sy. Sarel Kok is sedert 1995 voluit by die saaiery betrokke, terwyl neef Hein Hoffman sedert 2000 ten volle in beheer van die beeste en die besluitneming wat daarmee gepaardgaan, is. Nadat die delwery op die plaas stopgesit is, het Reinhardt de Waal by die beestekomponent aangesluit en George Markham sit by die saaiery hand by. Vroulief Melanie is nie net ’n staatmaker en organiseerder by die Wolmaransstad-gholfklub, waarvan Gideon mede-eienaar is nie, sy behartig ook Damkraal Boerdery se kantoorbetalings, lone en dieselrabat. Die finansiële bestuur word in die bekwame hande van ’n plaaslike boekhouer geplaas.

Die boerdery verbou mielies, sojabone en sonneblom op ongeveer 4 875 ha in ’n jaarlikse wisselboustelsel op droëland waarvan ’n gedeelte onder minimumbewerking is en hoëpotensiaallande diep op die ry gerip word. Die minimumbewerkings­praktyke op die plaas is merendeels geskoei daarop om gereed te wees vir planttyd. Alhoewel Gideon redelik skepties oor minimumbewerking was, het hy na vyf jaar se proewe die voordele op sekere gronde ervaar en verdigting word dienooreenkomstig bestuur. Op swaar lande word mielies en sonneblom afgewissel. Gideon het sy hand aan sorghum gewaag na sprake van etanolproduksie met opberging in Bothaville. Die planne van die regering het nie tot uitvoer gekom nie – en selfs met die oorslaan na soet­sorghum was die voëls se aptyt net een te veel en die opbrengste het nie gerealiseer nie.

Van links is Christiaan Vercueil van Graan SA saam met die paneel wat bestaan het uit Jaco Heckroodt, Gerrie Ludick wat Gideon se hand skud, Kobus van Zyl, Jozeph du Plessis en Deon Bergh.
Die instandhouding van masjinerie is vir Gideon uiters belangrik om die gebruik en betroubaarheid daarvan te verseker.

Damkraal Boerdery se veefaktor behels ’n kommersiële stoet vir speenkalfproduksie. Die veeboerdery integreer goed met die saaiery. Met ’n verlaagde stroopspoed is kopverlies op die lande minimaal en dit wat agterbly, word vir beweiding gelos. Sodra die beeste skoon mis begin gooi, word hulle geskuif om oorbeweiding te vermy. Vee word ook geskuif om kompaksie te verhoed.

Grondhulpbronne word bestuur volgens die grondvog, lang­termynweervoorspellings en langtermynopbrengste in die verlede behaal. So word die potensiaal bepaal en daarvolgens bemes en begroot. Gewaskeuse word bepaal volgens insetkoste, grondvog, die prys van die gewas en winsgewendheid per hektaar. Planttyd is die belangrikste tyd van die jaar op Damkraal en die besigheid is toegerus om te plant as hulle moet. Gideon se filosofie behels dat ’n produsent moet kan plant – veral in jare waar laat reën ’n beduidende faktor was en hy oor die 4 000 ha in ses dae kon plant.

Damkraal Boerdery se bestuurspan is van links George Markram, Sarel Kok, Gideon Koegelenberg, Hein Hoffman en Reinhardt de Waal.
Grondontledings word gedoen om die grondsoort, kleipersentasie en diepte van die beperkende keerlaag te bepaal.
Onkruidbeheer behels skoffel of spuit voor plant, ’n gedeelte gras- en breëblaardoder net na plant en die res van die onkruiddoder op die vyfblaarstadium. Dié hoogloopspuit word ingespan vir presisiebespuiting en winteronkruid word na strooptyd getakel.
Die veefaktor behels ’n kommersiële stoet vir speenkalfproduksie.
Kultivarkeuse word gemaak op grond van opbrengspotensiaal, siekte- en wurmbestandheid en winsgewendheid.

Bewerkings word volgens twee praktyke toegepas. Hoëpotensiaalsandgronde word gerip op die ry met stoppelbewerking om verdigting en winderosie te beperk. Minimumbewerking word op lande met ’n hoër kleipersentasie gedoen om bewerkingskoste so laag as moontlik te hou vir vogbewaring en om erosie te beperk. Presisieboerdery word op lande toegepas deur middel van chemiese ontleding op 2 ha-ruitpatrone, waar suurheid en swael differensieel deur kalk en gips reggestel word. Regstellings van fosfaat (P) en kalium (K) word ook differensieel gedoen. Bemesting behels dat chemiese monsters van 25% van lande jaarliks getrek word en kalk, stikstof (N), P en K word volgens opbrengspotensiaal neergesit. Mikro-elemente word hanteer deur blaarmonsters wat deur middel van bespuiting reggestel word.

Kultivarkeuse word gebaseer op opbrengspotensiaal, siekte- en wurmbestandheid asook winsgewendheid. Opbrengsmikpunte word bepaal met langtermynreënvalpatrone en historiese opbrengste op elke land. Bepaling van die grondsoort, kleipersentasie en diepte van die beperkende keerlaag word deur grondontledings gedoen. Verder speel die beskikbare ondergrondse vog ’n beduidende rol in die mikpunte. Verskeie navorsingsproewe word by Damkraal Boerdery gedoen, waaronder kultivar-, blaar­bespuiting-, entings-, bewerkings- en bemestingsproewe.

Plaagbeheer word strategies benader. Swamme en bakterieë op sojabone en Alternaria word deur middel van spuitprogramme beheer, terwyl springhaasrotte met lokaas wat met die hand toegedien word, beheer word. Damkraal Boerdery se onkruidbeheer behels skoffel of spuit voor plant asook ’n gedeelte gras- en breëblaardoder net ná plant wat opgevolg word met die res van die onkruiddoder op vyfblaarstadium. Presisiebespuiting met ’n hoogloopspuit word ingespan en winteronkruid word na strooptyd getakel. Te veel reën kan die uitwas van onkruiddoders tot gevolg hê wat veroorsaak dat die lande nie lank genoeg skoon bly nie.

Die instandhouding van masjinerie is vir Gideon uiters belangrik om die gebruik en betroubaarheid daarvan te verseker.
Minimumbewerking word op lande met ’n hoër persentasie klei toegepas.

Gideon se finansiële bestuur behels nie net goeie advies nie, maar gesonde beginsels om die sukses van Damkraal Boerdery te verseker. Finansiële mikpunte sluit in om soveel as moontlik te spaar sonder om produksie in te boet; om sover moontlik eie kapitaal te gebruik en om as produ­sent berekende risiko’s te neem sonder om die boerdery te benadeel. Dit is vir Gideon van kardinale belang om die presiese insetkoste per hektaar aan te teken sowel as die opbrengs van elke land. Vooruitbeplanning is ’n vereiste en met data oor die presiese koste per hektaar, kan Gideon Damkraal Boerdery se gelykbreekpunt met vertroue bepaal. Hy kan dan daarvolgens ingeligte besluite neem in verband met uitbreidings, bewerkings en instandhouding.

Meganisasiebestuur op trekkers, selfaangedrewe spuite en stropers word volgens diensrekords bepaal – die instandhouding van masjinerie is uiters belangrik om die gebruik en betroubaarheid daarvan te verseker. Bykomend tot Damkraal se vragmotors, word vervoerkontrakteurs gebruik om graan weg te ry.

Damkraal Boerdery het ’n sterk arbeidsmag en maak gebruik van deeltydse arbeiders as die beeste gewerk word. Gideon en twee plaasbestuurders is verantwoordelik vir die besluitneming en uitvoering betreffende gewasse in die besigheid, terwyl ’n verdere twee plaasbestuurders die beeste, weidings, brandpaaie en hei­nings hanteer.

Bykomend tot Damkraal se vragmotors, word vervoerkontrakteurs gebruik om graan weg te ry.

Gideon hanteer self die bemarking van sy produkte deur te kyk na weerpatrone wat beide die Suid-Afrikaanse en die Chicago-mark beïnvloed sowel as grafieke en tendense van verskeie bemarkers. Hy bemark selde graan wat nog nie in die silo is nie. Bo en behalwe sy suksesvolle boerdery, dien Gideon ook op die bestuur van die Makwassie-boerevereniging, is hy ’n lid van die Vaalbank-studiegroep, penningmeester, diaken en hy beklee verskeie voorsittersposte. Verder is hy oortuig dat grondhervorming net kan werk waar daar mentorskap betrokke is. Hy glo landbou is die koskas van die land en produsente moet eenvoudig winsgewend produseer om volhoubaar te bly, aangesien die sektor direk en indirek enorme hoeveelhede werksgeleenthede skep.

Hy is ook van mening dat daar beslis weer na etanolproduksie gekyk kan word en dat navorsing ingespan moet word om bestaande kunsmisfabrieke te laat produseer. Gideon se toekomsplanne sluit die groei van die besigheid in met verhoogde opbrengste deur beter praktyke toe te pas en om verder die opbrengskapasiteit op die plaas te realiseer. Met 40 oeste agter die rug, is Gideon se ervaring van graanproduksie en as mentor vir die jonger geslag van onskatbare ware.

JP MEINTJES, VILJOENSKROON

JP Meintjes het grootgeword op ’n plaas in die Virginia-distrik, maar nadat die myne in 1988 hul grond oorgekoop het, het sy pa na die huidige plaas by Viljoenskroon getrek. JP was nog op laerskool en alhoewel dit aan die begin vir die Meintjes-gesin moeilik was om hul voete te vind in die nuwe wêreld, het JP se pa die grond met goeie praktyke, harde werk en deursettingsvermoë uitgebrei en die boerdery laat groei.

JP en Esri Meintjes en hul vier seuns, SJ, JP jr., Hendrik en Schalk op die plaas Kruispan naby Viljoenskroon.

Na skool het JP vir ’n jaar op ’n groot saaiplaas in Amerika gaan werk en in 2000 voltyds saam met sy pa en broer begin boer. In 2007 – met ’n mielieprys van R300/ton – moes hulle weer eens ’n plan in moeilike tye maak en JP het in Johannesburg begin werk by ’n maatskappy wat graan op Safex verhandel. Al was dit moeilik en ’n aanpassing vir ’n plaasseun in die stad, was JP na twee jaar weer voltyds terug op die plaas met hope ondervinding van die korporatiewe wêreld en kennis van hoe om mense, vergaderings en ’n hele paar besigheidsaspekte te hanteer.

JP se pa is in 2009 oorlede en sy broer kort daarna. Hy is weer in die diep kant gedompel, maar danksy genade en die goeie praktyke wat hy by sy pa geleer het, het die boerdery stelselmatig weer sy voete gevind. JP bestuur Kruispan soos ’n volwaardige besigheid met waardevolle insette en hulp van die finansiële be­stuurder en getroue administratiewe span. Nuwe tegnologie vorm ’n belangrike skakel in die boerdery en al die toerusting op die plaas is met die nuutste tegnologie toegerus. JP is ’n voorstander van investering in nuwe tegnologie wanneer dit beskikbaar raak, om die besparing oor die lang termyn te benut.

Daar word op mielieverbouing gefokus en die boerdery is besonder goed daarvoor ingerig.

Hy verbou witmielies op ongeveer 5 700 ha sonder ’n oorlê­stelsel, aangesien watertafellande geneig is om te nat te word as dit vir ’n jaar oorlê. JP verkies dus om die vog optimaal te benut en plant die lande jaar op jaar. Alhoewel die gronde ook geskik is vir sojabone en sonneblom, word die fokus totaal op mielieverbouing geplaas en die boerdery, wat daarvoor ingerig is, word so optimaal benut. Soveel so dat hulle ’n ongelooflike gemiddeld van 9,88 kg graan/mm reën kon stroop danksy die regte praktyke en sisteme. Alhoewel die boerderypraktyke sedert sy pa se tyd onveranderd gebly het, wend JP tegnologie aan om die praktyke te verbeter en beter toe te pas.

Kultivarkeuses word bepaal deur die verskillende gronde en verskeie kultivars word aangeplant. Verder word kultivars wat die voorafgaande jaar die hoogste opbrengs gelewer het, op die meeste van die lande geplant. Saadkultivarproewe word jaarliks aangeplant en prestasie word oor ’n paar seisoene gemonitor. Opbrengs word bestuur deur maksimum kunsmis toe te dien waar nodig en lande word bekalk om die pH reg te hou. Grond word elke vyf jaar omgeploeg vir deurlugting en om voedingstowwe te hersirkuleer.

Bewerkingspraktyke behels lande wat na strooptyd met 45 grade dwars geskoffel word om stoppels uit te haal en te skuif. Dit bied terselfdertyd ’n bietjie bedekking en die bewerking maak die winteronkruid dood. Daarna word tussen 600 mm en 900 mm gerip op dieselfde ry as die vorige jaar as gevolg van ’n eweredige stelsel en ammoniak en KCl word toegedien. Lande word met Roundup skoon gehou en vir planttyd gerolstaaf net voor die planter. Die spuit loop direk daarnaas om grasdoder te spuit om skoon lande te verseker. Vier tot ses weke na opkoms word geskoffel en die laaste kunsmis word toegedien deur middel van ’n topbemesting. Lande word ook vir die laaste keer gespuit.

Die veekomponent bestaan uit 150 beeste op 630 ha vir kommersiële speenkalfproduksie. Kruispan se grondontledings word driejaarliks op eenhektaarintervalle gedoen, gevolg deur presisietoediening van kalk. Kunsmis en saad word standaard toegedien en lande wat kalk ontvang het, word geploeg om die kalk goed in te werk. Grondontledings bepaal verder hoeveel kunsmis toegedien moet word om maksimum opbrengste te verseker. Blaarvoedings word deur middel van lugbespuiting toegedien voor pluim. Chemiese toedienings vir plaagbeheer word met spuite gedoen en gekontroleerde maatskappye is verantwoordelik vir berokingstoediening. Die vernaamste on­kruide word met gras- en onkruiddoders beheer en meganiese beheer deur middel van rolstaafbewerking word gebruik om weerstandigheid teen te werk.

Meganisasiebestuur loop soos ’n goed geoliede masjien.

Finansiële beplanning en rekordhouding is die belangrikste komponent van JP se besigheid en alle besluite word daarvolgens geneem. Besluite word geskoei op finansiële inligting en kontantvloeiprojeksies. Volledige rekordhouding wat 20 jaar terug strek, is beskikbaar en word in ag geneem by nuwe beplanning. Gedetailleerde vasleggings van finansiële data word in ’n boekhouprogram vasgevang en JP en sy finansiële bestuurder bestudeer twee maal per week die kontantvloeiprojeksies en begrotings intensief. Strategies word alle boerderybesluite op grond van hierdie projeksies geneem en ten einde beplanning te vergemaklik, word projeksies vir die volgende twee tot drie jaar opgestel.

Meganisasiebestuur loop soos ’n goed geoliede masjien en daar word rekord gehou van alle trekkers met ’n vervangingsbeleid rondom 7 000 ure of vyf jaar waar moontlik. Werktuie word deurlopend gemonitor deur John Deere se operasionele sentrum. Kleiner trekkers wat ligter werk doen, is op ’n langer vervangingsbeleid. Subkontrakteurs word slegs op trokke en vir lugbespuiting gebruik.Kruispan beskik oor ’n professionele ketelmaker wat verantwoordelik is vir die regmaak en instandhouding van alle toerusting en masjinerie op die plaas aangesien tydsberekening van kritieke belang is.

Die veekomponent bestaan uit 150 beeste op 630 ha vir kommersiële speenkalfproduksie.

Die boerdery het twee hoofbestuurders, elk met ’n span bestuurders en werkers wat onderskeidelik verantwoordelik is vir sekere funksies, afhangend van wat op watter stadium in die seisoen benodig word. Met ’n goeie span voltydse en deeltydse seisoenale arbeiders word prestasiebonusse maandeliks en jaarliks uitbetaal.

JP hou sy vinger op die pols en doen alle bemarking self. Graan word verhandel deur ’n makelaar wat die ooreenkomstige allokasie direk met die koper bewerkstelling. Vir bemarkingsbesluite word Amerikaanse graanpryse, die rand/dollar-wisselkoers, plaaslike en internasionale weerstoestande asook wêreldgraanvoorraadvlakke as inligtingsbronne gebruik. Kruispan se silokompleks het tans ’n graanopbergingskapasiteit van 12 500 ton met beplanning om kapasiteit vir ’n addisionele 10 000 ton op te rig. JP is ’n groot voorstander van plaassilo’s en die ideaal – veral in ’n jaar soos dié waar silo’s vol geraak het – is maar om oor eie opbergingsfasiliteite te beskik. Kruispan het ’n silobestuurder sowel as gradeerder in die seisoen vir in- en uitlaai om die graad en vog tussen die buise te bestuur. Silo’s word jaarliks berook as voorkomingsmaatreël.

Met sy kennis het JP vinnig ’n leemte in die distrik waargeneem met betrekking tot die vervoer van graan, kalk en kunsmis vir produsente. Hy het dus ’n vervoer­maatskappy gestig en kan so terselfdertyd sy eie boer­derybedrywighede diens. Kruispan Logistics (Pty) Ltd bestaan uit ’n vloot van agt vragmotors en maak gebruik van subkontrakteurs wanneer die behoefte vir meer kapasiteit bestaan.

Kruispan se silokompleks kan 12 500 ton berg en JP beoog om addisionele kapasiteit van nog 10 000 ton op te rig.

JP glo in die rol van georganiseerde landbou met bedinging vir en namens die produsent om goeie verhoudinge met die regering te bewerkstellig, asook voortdurende navorsing ten opsigte van die graanbedryf en om namens die produsent op te tree teen onregverdige prysverhogings. JP is lid van die plaaslike studiegroep en was op Landbouweekliks se 200ste episode. Hy is betrokke by die gemeenskap deur taxidienste vir skoolkinders, mediese dienste, vervoer vir werkers en hul families dorp toe, sportgeriewe en die instandhouding van ’n sokkerveld wat saam met die SAPD in Viljoenskroon geborg is.

Sy toekomsvisie is geskoei op voedselproduksie en die deur­slaggewende belangrikheid daarvan vir elke land – selfs meer so vir Suid-Afrika. Suid-Afrikaanse graanprodusente produseer die goedkoopste kwaliteitvoedsel ter wêreld en daar sal altyd ’n aanvraag na die voedsel wees. ’n Goeie verhouding tussen produsente en die regering sal verseker dat landbou suksesvol en vooruitstrewend kan wees. JP se langtermynplan is om steeds suksesvol en veilig te produseer en om die huidige boerderybedrywighede in alle vertakkings uit te brei, naamlik om meer grond te bewerk, die logistieke afdeling na ander distrikte uit te brei en om die opberging van graan op Kruispan te verdubbel. Tegnologie het die vermoë om groei moontlik te maak en JP mik om sover as moontlik totaal onafhanklik te wees.

ANDRÉ BRINK, DURBANVILLE

André Brink het in 1985 saam met sy pa op die familieplaas, Groot Phesantekraal, begin boer tot sy pa se afsterwe in 1996, waarna hy die besigheid oorgeneem het en sy vier sibbe uitgekoop het. Alhoewel kontantvloei ’n enorme probleem was, was dit tog nodig om die moeilike besluite te neem om die pad vorentoe te bepaal. Met ’n Landbank-lening en hemelhoë rentekoerse, het André met mening begin boer en kort daarna sy eerste grond bygehuur.

Hy is baie bevoorreg om saam met sy twee seuns, Rennie en Jeandré, te boer. Aangesien hy op ’n lae basis begin boer het, is die uitbreiding saam met die kinders die ideale manier om die vinger op die pols van risikobestuur te hou. Dié gemengde saai- en veeboerdery het in 1998 wingerde aangeplant en vandag word daar met ’n verskeidenheid van gewasse, waarvan sommige waarde tot die veekomponent toevoeg, geboer. Bo en behalwe die boerdery en wingerdbedrywighede het André ook die voorreg gehad om self eiendom te begin ontwikkel, wat die vryheid van kapitalerisiko-uitleg teweeggebring het.

Die Groot Phesantekraal-opstal, geleë by Durbanville in die Wes-Kaap, is die tuiste van die Brinks waar André, Ronelle en hul twee seuns koning kraai. Marizanne, die dogter, is gelukkig nie té ver van die plaas af nie en kom kuier gereeld.

Die Brinks boer in ’n koring-medics-stelsel. Dié stelsel, waar ’n land elke tweede jaar met koring geplant word, werk goed op Groot Phesantekraal, aangesien koringoeste na medics goeie graad en opbrengs lewer. ’n Groot veekomponent benut verder die medics-weiding goed. Met uitsonderinge sal historiese oesdata gebruik word en koring met gars of hawer vervang word. Kampe wat nie in ’n medics-stelsel is nie, word afgewissel tussen koring en gars, gevolg deur kanola. Hawer en voergars word oorweeg of kampe wat nie goeie koringoeste gelewer het nie en kampe wat graan opgehad het word 99% van die tyd met kanola opgevolg. Indien kanola histories nie werklik op die spesifieke land presteer het nie, sal lupiene aangeplant word. Die afwisseling tussen graan- en peulgewasse is om grasbeheer so goed moontlik toe te pas. Die medics bied ook geleentheid om onkruidbeheer beter toe te pas en om die grond op te bou.

Kultivarkeuse word gemaak op grond van historiese data en kultivarproewe – André probeer altyd die nuutste kultivars plant. Plaasproewe word aangeplant om nuwe kultivars te evalueer. Op Groot Phesantekraal word minimumbewerkingspraktyke gevolg vir vog­bewaring en om organiese materiaal en lewe in die grond te behou. Grond word dus so min as moontlik versteur. Presisieboerdery word toegepas met opbrengsdata wat vanaf stropers ingesamel word. Presisiegrondmonsters word geneem en grondregstellings deur middel van presisiestrooiers gedoen. Kunsmisstrooiers en spuite is ook toegerus vir presisietoediening. Verder word nuwe chemiese proewe gereeld op die plaas gedoen – die belangrikheid van nuwe produkte in die mark om met die verandering in swamme en onkruide by te bly, kan nie onderskat word nie.

Rennie en Ronelle saam met André, wat genomineer is as Graanprodusent van die Jaar.
Van links is Rennie Brink, Alzena Gomes, Kobus van Zyl, Toit Wessels, Deon Bergh, André Kirsten, Dirk Strydom, Jozeph du Plessis, André Brink, Gerrie Ludick, Jaco Hechroodt en Christiaan Vercueil.

By die bemestingsprogram word streng gekyk na wat die gewas benodig en sal kan onttrek as dit kom by stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K). Medics is ’n goeie stikstofbinder wat die plaas se stikstoftoediening en -rekening met rasse skrede laat daal het – Groot Phesantekraal se N-toediening is van die laagste in die omgewing. Om goeie P-vlakke in die grond te behou, word gereelde presisieregstellings gedoen. N en K word toegedien soos nodig met N-blaartoetse wat gereeld geneem word om vlakke binne plante te bepaal. Wanneer huurgrond in swak toestand verkry word, sal hulle organiese bemesting strooi om grondlewe en -gesondheid op te bou. Toegeruste spuite kan produkte variërend toedien en kampe wat na grondontledings baie lae kopervlakke toon, word dienooreenkomstig reggestel. Die beleid is om nie te oorbemes nie en besluitneming word geskoei op behoefte.

Plaagbeheer word toegepas vir oogvlek en witroes op die koring en swartstam en Sclerotinia op die kanola. Met wingerde op die plaas moet daar aan al die streng maatreëls van die Wyn- en Landbou- Etiese Handelsvereniging (WIETA) voldoen word met protokolle in plek vir opberging van plaagbeheermiddels en stoor van leë chemiese houers. Lugbespuiting word slegs gebruik op lande wat te nat is vir die selfloopspuit. Onkruid op die koring en gars word voor die vyfblaarstadium met ’n hele spektrum van verskillende mengsels bespuit. Grasdoders op kanola word gespuit wanneer die meeste grasse opgekom het en breëblaarmiddels word ietwat later toegedien.

Finansiële bestuur word op konserwatiewe beplanning, goeie rekeningkundige stelsels en die bestuur van kontantvloei gebaseer. Die aanstelling van ’n finansiële bestuurder en die waarde­toevoeging ten opsigte van die boekhouding en meetbaarheid het ’n enorme verskil aan die boerderybedrywighede en beplanning gemaak. Om te meet en te evalueer, is vir André van kardinale belang en die neem van berekende risiko’s sowel as die bestuur van uitdagings word hierop geskoei. Goeie rekordhouding gee insig oor die toekoms – met Groot Phesantekraal se jaarbeplanning en dag-tot-dag begrotings kan André ter enige tyd ingeligte besluite neem gegewe die kontantvloei en posisie. Hy beplan op die langtermyngemiddeld van beskikbare inligting en kyk na historiese tendense om beter te presteer.

Kultivarkeuse word gemaak op grond van historiese data en kultivarproewe.

Meganisasie word noukeurig bestuur en ure word weekliks op die masjineriebord opgedateer met die opvolgende diens­ure om tydige dienste te verseker. Algemene trekkers tot en met 180 perdekrag (PK) word oor die algemeen tussen 5 000 en 6 000 ure vervang en stropers is op ’n siklus van 12 tot 15 jaar tensy onontbeerlike nuwe tegnologie die besluit beïnvloed. Die beginsel wat André in die boerdery toepas, is om ordentlik genoeg te beplan om versiende genoeg te wees dat geen terugdraai nodig is nie.

Groot Phesantekraal huisves ’n span voltydse arbeiders met deeltydse arbeiders wat vir die wingerde aangewend word. Dag-tot-dag take word so effektief moontlik afgehandel en waarneming en terugvoering van werkers word in ag geneem by besluitneming. In ’n bestuurshoedanigheid het Ronelle die wynafdeling met ’n fyn hand oorgeneem en dienooreenkomstig uiters suksesvol bemark. Oggendkoffie-ontmoetings is ’n instelling op Groot Phesantekraal en elke dag word doelgerig aangepak. Dit gee vryheid aan elke spanlid om voort te gaan indien een skakel dalk ontbeer.

Implemente is op ’n vervangingsrotasie en word na oestyd van voor tot agter gefynkam.

Die Brinks bemark ’n gedeelte van hul koringoes by Wes-Kaap Graanprodusente (Edms.) Bpk. (WKG) en die res volgens inligting en prys. Die kanola word direk by Soill be­-mark volgens hul minimumprysmetode. Inligting van verskeie organisasies en landboubesighede word gebruik as bron om ingeligte bemarkingsbesluite te neem.

Hoewel André lank voorsitter van die plaaslike landbouvereniging was, het hy nou die leisels oorgegee en Rennie en Jeandré is tans op die bestuur, gee advies en is betrokke by die plaaslike skole en gemeenskap. Die boerdery dra alle skooluitgawes, koste, klere en vervoer van die personeel se skoolgaande kinders en bied studiebeurse aan.

Meganisasie word noukeurig bestuur en ure word weekliks opgedateer om tydige dienste te verseker.

André glo dat die voordeel van grond en eienaarskap in gemeenskappe gesetel moet bly, waar die liefde vir die grond en area sal bydra tot suksesvolle hervorming. Mentorskap is verder van uiterste belang vir sukses. “Uit landbou, vir landbou” is sy benadering tot die befondsing van georga­niseerde landbou, aangesien die belangrikheid om die nodige strukture in stand te hou en onderhandeling met die regering namens produsente nie onderskat kan word nie.

Tegnologie is die oplossing vir die toekoms van die graanbedryf se winsgewendheid en behoeftebepaling rakende toediening van produkte en regte kultivars is die pad vorentoe. Die Brinks se langtermynbeplanning sluit onder meer in om nog hektare te bekom en waarde toe te voeg met betrekking tot die gradering van hul grane. Om die regte ding op die regte tyd te doen, is vir hulle baie belangrik en besluite oor beskikbaarheid van toerusting word hiervolgens geneem.

Alhoewel die saaiery die kollig steel, is die veekomponent ’n integrale deel van die boerdery en benut dit die medics-stelsel ten volle.

Toekoms- en opvolgbeplanning is topprioriteit, aan­gesien die uitdagings om ’n boerdery deur twee of drie geslagte te behou sonder om alles op te breek, ’n werklikheid vir die meeste produsente is. Groot Phesantekraal se beleid maak voorsiening vir ’n uittreeklousule wat stipuleer dat indien iemand nie meer wil boer nie, hulle geakkommodeer sal word met ’n ander besigheidsgeleentheid, wat sal verhoed dat die plaasopset uitgekoop of opgebreek word.

André is besig om sy droom uit te leef en het dieselfde geleentheid aan sy seuns gebied – met ’n paar reëls. Beide die seuns het na hul studies teruggekom plaas toe as deel van ’n span. Die plaas se infrastruktuur en alles waarmee gewerk word, kan deur ’n ring getrek word. Niks word halfpad gedoen nie en die plaas word op so ’n manier onderhou dat dit lekker is om by die plaashek in te ry. Respek vir die verlede – van die geboue op die plaas dateer uit die sewentienhonderds – en om verder te bou en uit te bou, deurweek alles wat op die plaas gedoen word.