Sonneblom en sojabone se bemesting word dikwels afgeskeep wanneer bemestingsbeplanning op die plaas gedoen word, maar die voorsiene tekorte aan oliesaad in die wêreld en huidige goeie produkpryse plaas hernude fokus op dié gewasse as goeie en alternatiewe wisselbougewasse. Kunsmispryse het egter as gevolg van wêreldgebeure die hoogte ingeskiet en produsente probeer om sin uit die situasie te maak. In hierdie artikel word gepoog om weer die basiese beginsels van die bemesting van hierdie gewasse binne die huidige konteks te bekyk.
Die fundamentele uitgangspunt in die bemesting van enige gewas is om genoegsame voedingstowwe vir die produksie van die oes op die land te voorsien en terselfdertyd noodsaaklike vlakke van voedingstowwe in die grond te handhaaf en waar nodig op te bou. Terwyl bemestingsbeplanning altyd op ’n verwagte opbrengsmikpunt gebaseer word, kan daar in enige seisoen minder of meer bemesting deur die gewas benodig word as wat gedurende die seisoen toegedien is. Daar kan dus in enige gegewe seisoen ’n surplus of ’n tekort aan spesifieke voedingstowwe ontstaan. Indien die gewas minder voeding benodig as wat toegedien is (’n surplussituasie), kan voedingstowwe in baie gevalle oorgedra word na die daaropvolgende seisoen. As ’n tekort egter ontstaan, sal die opbrengs volgens Liebig se Wet beperk word tot die laagste spar in die vaatjie (wat die beperkende faktor verteenwoordig).
Dit is dus uiters belangrik dat die bemesting van enige gewas holisties beskou word met grondvrugbaarheid as die vertrekpunt van bemestingsbeplanning. Inherente grondvrugbaarheid tree as buffer op in die goeie seisoene wanneer die plant se behoefte die voeding uit die sak oorskry. Die opbou van grondvrugbaarheid moet altyd deel van die langtermynbeplanning wees om volhoubare en winsgewende produksie te verseker.
Daar word deesdae sterk gefokus op rooster- en presisie-ontledings om grondvrugbaarheid te verbeter. Hiermee word die bekalking van die grond gevarieer volgens die kalkbehoefte op verskillende gedeeltes. So kry nie net die pH aandag nie, maar ook die beskikbaarheid van noodsaaklike elemente soos kalsium (Ca), magnesium (Mg) en kalium (K). In werklikheid speel die regstelling van grondvrugbaarheid ’n belangrike rol by die produksie van sonneblomme en sojabone omdat beide hierdie breëblaargewasse gevoelig is vir grondsuurheid en beperkte wortelstelsels het. Die basiese beginsel van goeie vrugbaarheidsbestuur is vir hierdie gewasse dus net so of selfs meer belangrik as vir mielies. Die neiging in die verlede om hierdie gewasse op vlak, onvrugbare of marginale gronde te plant en mielies op die meer vrugbare gronde te verbou, het nooit die produksie van die gewasse tot hul reg laat kom en gehelp om hulle produksiepotensiaal ten volle te ontwikkel nie.
Onttrekking van voedingstowwe
Die onttrekking van voedingstowwe volgens die beplanningsopbrengs en die beskikbaarheid van voedingstowwe in die grond (met onlangse grondontledings) bly die basis van enige goeie bemestingsvoorstel.
Aangesien mielies meestal as die hoofgewas beskou en normaalweg goed bemes word, kan die wanpersepsie ontstaan dat sonneblomme en sojabone ligte voeders is wat nie veel bemesting vereis nie. As ’n mens egter die onttrekkingsyfers van sonneblom en sojabone met mielies (Tabel 1) by dieselfde opbrengsvlakke vergelyk, is dit duidelik dat hierdie gewasse eintlik swaar voeders is wat groot hoeveelhede van sekere elemente onttrek.
’n Sojaboonopbrengs van 2 t/ha verwyder dieselfde hoeveelheid kalium as ’n 15 t/ha-mielieopbrengs! Indien hierdie gewasse swak (of glad nie) bemes word, soos soms in die geval van sojabone, beteken dit dat die grond “gemyn” word en dat die reserwes wat in die toekoms benodig gaan word, uitgeput raak. Die grond kan moontlik tydelik in ’n gedeelte van die behoefte voorsien, maar op lang termyn kan dit ernstige gevolge inhou, veral as daar in ’n opvolgende seisoen reserwes benodig word om in ’n goeie jaar te produseer.
Bemesting van sonneblom
Alhoewel sonneblom die laagste behoefte vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium by die normale beplande opbrengsvlakke het, is die voldoende voorsiening van hierdie makrovoedingstowwe (asook swael [S]) noodsaaklik vir die suksesvolle verbouing van die gewas. Sonneblom reageer gewoonlik baie goed op aanvullende voeding soos blaarbespuitings in kombinasie met groeistimulante en -reguleerders. Die uitdaging is egter dat die gewas skielik hoog groei en dat dit moeilik en/of duur is om ná die rosetstadium verdere bemesting of selfs blaarvoeding toe te dien. In die geval van sonneblom is dit dus belangrik dat die nodige voedingstowwe vroeg in die seisoen beskikbaar is.
Terwyl sonneblom soos alle plante die volle reeks mikrovoedingselemente benodig, bly die voorsiening van boor (B) uiters belangrik by hierdie gewas. Boor beweeg moeilik in die plant en ’n boortekort kan tot ernstige verliese lei as blomme begin val. Alhoewel daar kunsmismengsels beskikbaar is wat boor bevat, is die effektiewe voorsiening daarvan aan die plant met kunsmis (deur die grond en die wortels) nie gewaarborg nie en moet die spuit van boor en ander mikro-elemente steeds deur die seisoen volgehou word.
Bemesting van sojabone
Die bemesting van sojabone is noodsaaklik omdat die gewas groot hoeveelhede fosfaat en veral kalium gedurende die seisoen verwyder. Ongelukkig het die persepsie ontstaan dat sojabone maar op suur, onvrugbare gronde geplant kan word en dat dit ook nie goed op “vars” kunsmis reageer nie. Die praktyk het egter die teendeel bewys en goeie produsente weet dat sojaboonproduksie op vrugbare en goed opgeboude grond die beste resultate lewer. Aangesien die bandplaas van kunsmis wel ’n risiko inhou wat die inenting kan benadeel, verkies produsente dikwels om eerder die kunsmis vooraf uit te strooi en dan sonder kunsmis naby die saad te plant. Dit kan slegs effektief wees op goed opgeboude gronde waar die fosfaatstatus voldoende is om genoeg fosfaat vir die jong saailing beskikbaar te hê.
Fosfaat wat dan vir die seisoen gegee word, vervang die fosfaat wat gedurende die seisoen gebruik gaan word. Verder bly dit wenslik om addisionele kalium te verskaf, selfs in gronde wat normaalweg hoog in dié element toets, omdat alle kalium in die grondontleding nie noodwendig beskikbaar is nie. Soos sonneblom, reageer sojabone baie goed op groeistimulante, die toevoeging van mikro-elemente en biologiese aanvullings. Die meeste sojabone wat produseer word, is geneties gemodifiseer om glifosaatweerstandig te wees (GM). Dit beteken egter nie dat die gewas nie teruggehou word deur die toediening van glifosaat nie en addisionele stimulasie en versterking voor die bespuiting help gewoonlik om die effek daarvan te verminder.
Verder bind die rhizobium wat geassosieer word met sojabone, stikstof en gebruik die plant uiters groot hoeveelhede daarvan (soortgelyk aan ’n 10 ton-mielieopbrengs) met ’n 2 t/ha-sojaboonoes. By besonder hoë opbrengsvlakke in hoëpotensiaalareas het dit praktyk geword om addisionele stikstof en swael op die R4-R5-groeistadia toe te dien om opbrengsvlakke te help verhoog. Op hierdie groeistadiums word die vermoë van die rhizobium om stikstof te bind, nie meer benadeel nie.
Strategieë vir die komende seisoen
In hierdie tye van prysonstabiliteit en hoë insetkoste word beplanning vir die komende seisoen al hoe moeiliker. Daar is ’n groot versoeking om bemestingsprogramme afwaarts aan te pas en daardeur koste te probeer besnoei. As ’n mens egter die behoeftes van die gewasse in ag neem, maak dit nie werklik sin om op groot skaal te sny aan bemesting nie, aangesien dit op lang termyn onvoorsiene en ernstige negatiewe implikasies kan hê. Hou eerder by dit wat in die spesifieke omgewing werk en sny marginale gronde wat hoë risiko inhou, uit. Gaan vir die beste moontlike produksie op die goeie gedeeltes en gebruik die tyd om marginale gedeeltes te verbeter vir die volgende seisoen. Op die manier gun jy jouself die beste kans om die tawwe tye te oorleef.