Behaal só sukses met sojabone in die Wes-Vrystaat

Gepubliseer: 5 September 2022

1386
Hendrik Linde, landboukundige, Pannar Saad

Onlangse gebeure in die wêreld het gesorg vir groot onsekerheid en met insetkoste wat die hoogte inskiet, is daar groot druk op die landbousektor geplaas. Dit beteken dat winsmarges al hoe kleiner raak, wat die produsent forseer om sy boerdery selfs meer effektief te bestuur.

Alhoewel die verhoogde graanpryse effense verligting gee, is dit verstaanbaar dat daar na alternatiewe gewasse buiten mielies gekyk word om die wins per hektaar te probeer verhoog. Die watertafelgronde in die Wes-Vrystaat het die vorige seisoen onder erge versuiptoestande deurgeloop en dit lyk tog of sojabone die versuipskade beter as mielies kan hanteer. Die een groot rede hiervoor is dat sojaboonwortels – anders as by mielies – aanhou groei wanneer die gewas begin blom. Die sukses met sojabone stimuleer die be­langstelling in die gewas. Hier volg ’n paar wenke en observasies om die kans vir sukses met sojabone te verhoog.

Grond
Die eerste aspek wat aandag vereis, is om te bepaal waar die sojabone verbou gaan word. Dit word aanbeveel om sojabone op die beste gronde te verbou, met vlak en marginale lande wat eerder vermy moet word.

Plantdatum
Plantdatum is altyd ’n moeilike onderwerp, omdat niemand weet wanneer dit genoeg sal reën om die nodige plantvog te verseker nie. Die ideale plantdatum vir sojabone in die Wes-Vrystaat is egter van die begin tot einde November. Sojabone is die afgelope paar seisoene met groot sukses tot selfs einde Desember aangeplant, maar dan speel ander faktore – soos om die regte groeiklas en plantestand aan te plant – ’n rol. Daar is egter ’n gevaar om te vroeg in die warm, westelike produksiegebied te plant. Die hoë aantal hitte-eenhede wat in die westelike dele ondervind word, kan die vegetatiewe groei en ontwikkeling van sojabone oorstimuleer. Dit kan tot omval lei en sodoende die oesproses en die opbrengs negatief beïnvloed.

Kultivarkeuse
Dit is uiters belangrik om die regte kultivar vir die omgewing en die plaas te kies. Proefresultate in die omgewing is ’n goeie vertrekpunt en produsente behoort dit te komplementeer met hul eie proewe en deur te kyk wat op hulle plaas onder hulle bewerkingspraktyke presteer.

Enting en bemesting
Dit is noodsaaklik om entstof van goeie gehalte te gebruik om die saad mee te ent. Waar sojabone vir die eerste keer op ’n land geplant word, is dit belangrik om tydens die plantproses addisionele entstof in die plantvoor toe te dien. Onthou dat die Rhizobium sp. (Bradyrhizobium japonicum) wat sojaboonwortels infekteer om stikstof (N) uit die atmosfeer te bind, nie natuurlik in Suid-Afrika se gronde voorkom nie. Die Rhizobium-stam wat die meeste gebruik word (WB74) is al vir meer as 20 jaar in gebruik, en die huidige sojaboonkultivarseleksieprogram word met behulp van hierdie stam uitgevoer.

Probeer verseker dat genoegsame knoppiesbakterieë op die wortels ontwikkel sodat die plant in sy eie behoefte kan voorsien. Om hoë opbrengste van 3 t/ha tot 3,5 t/ha te behaal, is dit raadsaam om addisionele N toe te dien. Wees egter versigtig om nie te hoë N-peile in die band naby die saad te plaas nie. Sojabone gebruik ’n magdom energie om Rhizobium-knoppies op die wortels te vorm. Indien die plant nie in ’n stikstof-negatiewe periode verkeer nie, sal dit nie seine aan die wortels stuur om wel te begin stikstof bind nie. Sojabone benodig 75 kg tot 105 kg N/ton graan en ongeveer 187 kg N om 3 ton graan/ha te produseer. 1

’n Grondontleding behoort gebruik te word om te bepaal watter bemesting om toe te dien. Sojabone benut grondkaliumreserwes (K) besonder goed. Onthou egter dat waar hoë sojaboonopbrengste behaal is, daar in die bemesting van die daaropvolgende gewas vir die K wat deur die oes onttrek is, gekompenseer moet word. Dít help om moontlike skade, soos stam- en wortelvrot by mielies, te vermy as gevolg van ontbrekende K-vlakke in die grondprofiel. Daar word nie ’n groot reaksie gekry deur K-topbemesting nie – dit word eerder aanbeveel om K voor plant in die grond toe te dien.

Grondvoorbereiding
’n Diep, primêre bewerking word aanbeveel voor sojabone geplant word. Penwortelgewasse is meer geneig om wortels horisontaal te laat groei indien ’n kompaksielaag teenwoordig is. In die teenwoordigheid van so ’n kompaksielaag word slegs ’n klein gedeelte van die grondprofiel benut en selfs ’n kort droogteperiode kan dan die opbrengs negatief beïnvloed.

Plantdiepte
Die Wes-Vrystaatse sandgronde is uniek en bied vele uitdagings wat bestuur betref. Plantdiepte is een onderwerp waaroor daar heelwat verskillende opinies is. Volgens lite­ratuur is die ideale plantdiepte vir sojabone 2,5 cm tot 3 cm. Dit is waar vir gronde met ’n redelike kleipersentasie, maar op sandgronde kan droë klimaatstoestande gepaard met ’n warm en droë westewind die prentjie vinnig verander. Om hierdie rede is dit beter om eerder 4 cm tot 5 cm diep te plant en dit word met sukses deur baie produsente toegepas. Probeer sover as moontlik om nie voor-oopmakers te gebruik nie. Dit skep onnodige walletjies wat die strooppro­ses bemoeilik en verhinder dat waardevolle graan aan die onderkant van die plante gestroop kan word.

Onthou dat sojabone vir ten minste drie dae in nat grond moet lê om genoegsame vog op te neem om te ontkiem. Sojabone het ongeveer 50% van sy gewig in water nodig om te begin ontkiem, teenoor ’n mie­lie wat ongeveer ’n derde van sy gewig in water nodig het. As die produsent bekommerd raak en voor-oopmakers wil gebruik, moet daar eerder gewag word vir genoegsame plantvog of daar kan na opkoms van ’n roller gebruik gemaak word om die land weer gelyk te rol. Deur net kouters te gebruik, bly die grond gelyk en dit bevoordeel die stroopproses.

Saaidigtheid
Rywydte speel ’n belangrike rol in die bepaling van die regte plantpopulasie. ’n Goeie algemene reël is om saad nie nader as 2,5 cm binne-in die ry te spasieer nie, ongeag van rywydte. Vir die kultivars wat aangepas is in die Wes-Vrystaat is dit nie altyd nodig om so ’n hoë plantpopulasie te hê nie, aangesien kultivars ’n groot aantal sytakke vorm wat goed teen ’n laer plantestand kan kompenseer. Daar is egter ’n gevaar om ’n te lae plantestand aan te plant omdat die plante dan ’n groot aantal sytakke vorm wat op die grond gaan lê en nie gestroop kan word nie. ’n Ander gevaar is dat die onderste peule op die plante te laag hang en dus nie gestroop kan word nie. Om dié rede word aanbeveel om die saad nie verder as 4 cm van mekaar binne-in die ry te spasieer nie.

Kultivarkeuse
Kies kultivars wat in die omgewing en onder produksietoestande goed presteer met ’n geskiedenis van stabiliteit oor seisoene. In die Wes-Vrystaat is daar dele waar die watertafel redelik diep is en hier is dit veral belangrik om kultivars te kies wat oor ’n diep en sterk wortelstelsel beskik. Probeer ook om ’n pakket uit verskillende groei­klasse saam te stel. Die volgorde waarin hulle geplant word, is gewoonlik van die vinnigste tot die stadigste kultivar. Dit het ook die voordeel dat die stroopproses moontlik verleng kan word. Al is die kultivars tans op die mark nie so geneig om oop te spring nie, bly dit steeds ’n risiko, veral tydens nat toestande soos hierdie seisoen waar dit amper onmoontlik was om in sekere lande in te kom om te stroop.

Opkoms
Sandgronde is geneig tot korsvorming, veral as die grondvog baie hoog is. Indien korsvorming wel voorkom, kan ’n vlak rolegbewerking gedoen word om die kors op te hef. Rol egter slegs binne die eerste drie dae na plant om te voorkom dat die stammetjie van die saailing onder die saadlobbe afgebreek word. ’n Mens is byna nooit spyt as ’n land gerol is nie, maar wel dikwels as dit nie gedoen is nie.

Plantpopulasie kan ’n groot rol in die opkoms van sojabone speel: Hoe groter die binneryspasiëring is, hoe groter is die gevaar dat korsvorming die opkomsproses benadeel. Hoe nader die sade aan mekaar lê, hoe makliker kan die sojaboonsaailinge die grond oopkraak en op dié manier die kors tot ’n groot mate ophef.

Na opkoms
Daar is ’n paar dinge wat na die opkoms van sojabone moet geskied. Onkruidbestryding bly soos by alle gewasse ’n uiters belangrike faktor en hoe langer die saadbed onkruidvry kan wees, hoe meer voordelig vir die produsent.

Dit word aanvaar dat ongeveer 75% van sojabone se blommetjies afgespeen word en geen bydrae tot opbrengs sal lewer nie. 2 Om hierdie rede behoort onkruide bespuit te word al het die sojabone reeds begin blom. Die onkruide sal ’n groter negatiewe invloed op die opbrengs hê as ’n enkele drag blommetjies wat moontlik dood­gespuit kan word. Verken sojabone gereeld deur die groeiseisoen vir enige wurmvreetskade. Insekte moet betyds beheer word voordat die insekdruk te hoog raak. Indien daar ongeveer vyf wurms per lopende meter waargeneem word, is dit raadsaam om ’n insekdoderbespuiting te doen. Dit is ’n goeie praktyk om gebruik te maak van insekdoders wat oor ’n redelike nawerking beskik, om moontlike toekomstige infestasie ook te probeer beheer.

Siektes
Die laaste paar seisoene was ideaal vir die ontwikkeling van swamsiektes op gewasse. Sojabone is ongelukkig nie vrygestel van siektes soos Sclerotinia wat ook op sonneblomme voorkom nie. Dit is ’n siekte wat die afgelope seisoene groot ekonomiese implikasies gehad het. Swamdoders behoort voorkomend gespuit te word om plante gesond te hou en potensiële siekte-infeksies te beperk.

Stroop
Die stroopproses is ’n besonder be­langrike deel van die verbouing van sojabone. Die tydige stroop van die gewas sal die potensiële oopspring van peule tot ’n groot mate beperk en verseker dat al die moeite wat die produsent deur die seisoen gedoen het, in die stropertenk beland. Die gebruik van ’n “fleks”-tafel word sterk aanbeveel om te verseker dat die sojabone so laag as moontlik gestroop word. Maak ook seker dat die intrekdrom (reel) en die grondspoed baie naby of gelyk aan mekaar is. Die intrekdrom moet nie te hoog gestel word nie, aangesien die plante dan nie teenaan die mes gedruk en maklik afgesny word nie, wat veroorsaak dat die plante van die tafel afval.

Moenie in die strik trap om sonneblom en sojabone op dieselfde tyd te stroop nie. Onthou dat sonneblom onder normale omstandighede op ongeveer 120 dae tot 150 dae na opkoms gestroop word en dat sojabone ongeveer 140 dae tot 160 dae tot stroop neem. Talle produsente het al ondervind dat albei gewasse gelyktydig stroopge­reed is en dan word opbrengs op een van die gewasse ingeboet. Begin eerder vroeg in die seisoen om sonneblom te plant, gevolg deur sojabone en dan mielies en maak klaar met sonneblom.

Slotsom
As ’n gewas met vertroue geproduseer word, kan daar aandag aan die fyner aspekte gegee word om ’n ekstra inkomste te verseker. Die goue reël by gewasverbouing bly egter om die basiese dinge reg te doen, wat die kans vir sukses verhoog. Daar is nie ’n silver bullet by sojaboonverbouing nie. Gebruik gesertifiseerde saad en die regte kultivarpakkette. Kies entstof reg en ent dubbel indien moontlik. Kies die regte gronde om op te plant en vermy te vinnig plant, aangesien sojabone teen ’n uiters hoë saaidigtheid geplant word. Plant diep genoeg om te verseker dat genoegsame vogopname plaasvind soos nodig vir goeie ontkieming en om ’n goeie opkoms en plantestandvestiging op die gewas te verseker. Hou die aanplanting dop vir enige siektes en plae en maak seker dat die oes in die silo kom.

Bronne

  1. Fertasa-bemestingshandleiding, 2016. p 355.
  2. Soybean growth and development, https://www.dekalbasgrowdeltapine.com