Dié ernstige skade aan grond kan voorkom word

Gepubliseer: 4 Julie 2022

1622
Dr André Nel, onafhanklike agronoom
Dr Hendrik Smith, bewaringslandbou­fasiliteerder,
ASSET Research

Erosie van ons grond is vanjaar weens die hoë reënval besonder erg – en dit deur ons eie toedoen ten spyte van al die kennis en inligting wat ons het!

Kwesbaarheid van ons grond
Grondkundiges het in die verlede uitsprake oor ons grond gemaak waarvan ons opnuut moet kennis neem: Dit is dat ons grond besonder kwesbaar vir erosie is met ’n lae veerkragtigheid of herstelvermoë en dus besondere beskerming benodig. Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO, 2019) beskou erosie as een van die toptienbedreigings vir grond wat hoofsaaklik deur verkeerde landboupraktyke veroorsaak word.

Die noodsaak van grondbewaring het sy beslag van owerheidskant in die Grondbewaringswet van 1947 gekry. Tans val grondbewaring onder die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet Nr. 43 van 1983). Die doel hiervan is “… om voorsiening te maak vir die bewaring van die natuurlike landbouhulpbronne van die Republiek deur die instandhouding van die produksiepotensiaal van grond deur die bekamping en voorkoming van erosie”.

Te oordeel na die omvang van die erosie wat vanjaar plaasgevind het (Foto 1), lyk dit nie of die wet in sy doel slaag om ons kwesbare gronde te beskerm nie, veral in gebiede waar baie graan geproduseer word, soos die Vrystaat en Noordwes.

Onherstelbare erosie wat in die 2021/2022-seisoen op bewerkte grond deur swaar reën teweeggebring is. Dit kon met bewaringslandboupraktyke voorkom word.

Tans word die woord “gronderosie” selde gehoor. ’n Mens wonder soms of ons eenvoudig ons oë vir gronderosie toeknyp of dalk uit onkunde nie besef dat erosie, stadig maar seker, volhoubare graanproduksie ondermyn nie. Die gevaar is dat ’n gebrek aan die nakoming van die wet en onkunde oor die gebruik van ons onvervangbare hulpbron, naamlik grond, vernietigend kan wees.

Argeologiese studies wys daarop dat onkunde oor die volhoubare benutting van hulpbronne en gronderosie die primêre oorsaak van die ondergang en selfs verdwyning van verskeie gemeenskappe in antieke tye was. Erosie, soos klimaatsverandering en biodiversiteitsverlies, sal eenvoudig gestuit moet word om volhoubare gewasproduksie te verseker. Anders is die opmerking dat ’n mens uit die geskiedenis leer dat mense nie uit die geskiedenis leer nie, ook op ons van toepassing.

Erosie is ’n natuurlike proses
Gronderosie wat deur afloopwater veroorsaak word, is ’n natuurlike en stadige proses wat in balans is met die tempo van die grondvorming. Boerdery-aktiwiteite, veral grondbewerking, laat die skaal betekenisvol in die guns van erosie swaai soos in Foto 1 gesien kan word. Ons verloor eenvoudig meer grond as wat na­tuurlik gevorm word.

Bewerking gee aanleiding tot die vernietiging van die grond se organiese materiaal. In die sowat 100 jaar van bewerking het die organiesemateriaalinhoud van ons reeds kwesbare grond met 50% of meer afgeneem. ’n Afname in organiese materiaal gaan gepaard met ’n afname in die stabiliteit van grondaggregate en -struktuur. Dit bevorder die ontwikkeling van ’n infiltrasiebeperkende kors aan die oppervlak van die grond wat weer afloop bevorder, asook die verlaging in grondwaterhouvermoë en verhoging in erosiekwesbaarheid.

Die verhoging van die kwesbaarheid kan duidelik in Foto 2 en Foto 3 gesien word. Twee bogrondkluite, met ’n tipiese klei-inhoud van 16%, is sowat 4 m vanaf mekaar in ’n proef naby Ventersdorp geneem, een van ’n bewerkte perseel en een van ’n perseel onder bewaringslandbou. Die kluite is elk op ’n draadraam in water geplaas.

Foto 2
Foto 3: Die verskil in aggregaatstabiliteit van bewaringslandbou- en bewerkte grond is ooglopend na 15 sekondes (Foto 2) en 30 minute (Foto 3) verloop het vandat die kluite in die water geplaas is. Nege maande het verloop sedert die grond bewerk is en dit het steeds geen aggregaatstabiliteit om weerstand teen erosie te bied nie.

Dit is duidelik dat die kluit vanaf die bewerkte grond geen aggregaatstabiliteit het nie aangesien dit binne 15 sekondes geheel en al geblus het. Dit sou geen weerstand teen die erosie van vloeiende water kon bied nie. In teenstelling toon die kluit uit die bewaringslandbouperseel ’n besonder goeie aggregaatstabiliteit ten spyte van die lae klei-inhoud en dus die vermoë om weerstand teen erosie te bied.

Bogrond belangrikste en kwesbaarste
Wat verder belangrik is, is dat die boonste laag grond (A-horison) erodeer en dit word gewoonlik elders buite die bewerkte land gedeponeer waar dit ander pro­bleme soos besoedeling kan veroorsaak.

Die klei, organiese materiaal, mikroörganismes en voedingselementinhoud van die sediment is gewoonlik veelvoudig hoër as die inhoud van die grond. Dit is dus die waardevolste komponente van die bogrond wat weggevoer word. Boonop kom ’n groot deel van die voedingselemente daarin van kunsmis, kalk en gips wat ten duurste toegedien is.

Erosietempo
Grond se erosiekwesbaarheid varieer baie van plek tot plek. Groot dele van die Noordwes en Vrystaat is besonder kwesbaar weens die golwende landskap, sanderige grondtekstuur en bewerking van die grond.

Die gemiddelde landswye langtermynwaterero­sietempo onder akkerbou word op sowat 12,6 ton grond/ha/jaar beraam (Le Roux et al., 2008). Dit beteken dat daar gemiddeld meer as 2 ton grond verlore gaan vir elke ton mielies wat geproduseer word. Die watererosietempo op bewerkte grond met steilerige hellings oortref die landsgemiddelde waarskynlik ver. In KwaZulu-Natal is ’n erosietempo van 25 t/ha/jaar al gevind en die betrokke grond het al 20% van sy produksiepotensiaal oor 50 jaar verloor. Die FAO beraam dat grond sy produksie­potensiaal teen ’n gemiddelde tempo van 0,4% per jaar verloor waar daar redelike ernstige erosie voorkom.

Vanjaar se ernstige erosie is dalk net die begin van wat voorlê. Klimatoloë voorspel dat die intensiteit van reënbuie gaan verhoog soos klimaatsverandering toeneem. Iets moet dus daadwerklik gedoen word aangesien gronderosie die volhoubaarheid van graanproduksie in die hele land bedreig.

Doeltreffende teenvoeter
Tans bestaan ’n eenvoudiger en uiters doeltreffende manier om erosie weer tot na aan die natuurlike tempo te kry en dit is deur middel van bewaringslandbou. In bewaringslandbou is die erosietempo baie minder as die erosietempo van bewerkte grond. Volgens Montgomery (2007) kan die erosietempo onder konvensionele bewerkingspraktyke tot 49 t/ha/jaar wees, terwyl dit onder bewaringslandbou tipies rondom 2 t/ha/jaar is, maar dit kan selfs grond herstel en opbou waar dit goed toegepas word! Bewaringslandbou is die toepassing van geenbewerking, die behoud van ’n deklaag en wisselbou tussen gewasse. Hoe beperk dit erosie?

Eerstens herstel die aggregaatstabiliteit en die infiltrasie­ver­moë van die grond. Afgesien van die drastiese verskil in aggregaatstabiliteit tussen bewerkte en onbewerkte grond, het bloot die teenwoordigheid van ’n deklaag ’n betekenisvolle invloed op die “erosiekrag” van die afloop (Foto 4 en Foto 5).

Foto 4
Foto 5: Erosie op bewerkte grond (Foto 4) net na die plant­aksie teenoor onbewerkte grond (Foto 5) in ’n proef kort na ’n relatief klein, maar harde reënbui. Die foto’s toon duidelik hoe geenbewerking en die oesreste die afloopwater en gepaardgaande erosie beperk het.

In ’n studie naby Potchefstroom is die afloopwater van onbedekte en bewerkte persele oor die grootste deel van ’n reënval­seisoen opgevang en gemeet (Stern et al., 1990). Die grond is bewerk en een behandeling net so gelaat, terwyl ’n tweede behandeling met 3 ton strooi/ha bedek is.

Sowat 64% (of 200 mm) van die reënwater het van die onbedekte grond afgeloop teenoor die 5% (of 15 mm) vanaf die bedekte grond. Dit is voor die hand liggend dat 200 mm afloop 13 keer meer erosie as 15 mm water kan meebring.

Die deklaag speel veral ’n uiters belangrike rol. Dit absorbeer die kinetiese energie van reëndruppels en selfs die chemiese dispergering van aggregate en verbeter die grondinfiltrasietempo. Die vorming van ’n dun beperkende infiltrasiekors op die grond word voorkom (hierdie onder­werp is in ’n vorige artikel bespreek). In proefwerk by Ottosdal en Ventersdorp het die beperking van afloop en die verhoogde onderskepping van reënwater die opbrengs van mielies met sowat 40% verhoog. Meer nog, die droogterisiko is ook beperk.

Produsente wat na bewarings­landbou oorgeskakel het, bevestig die doeltreffendheid daarvan om afloop en erosie te bekamp. Opmerkings soos gronddamme wat leeg bly of dat die water wat nou uit hul lande loop silwerskoon is, word gereeld gehoor.

Slotsom
Al die bewyse wat ons tans het, toon dat bewaringslandbou kan regkry wat wetgewing nie kon regkry nie – die voorkoming van gronderosie. Verder is daar ’n belangrike meevaller en dit is dat opbrengste en winste oor tyd op hierdie gronde verhoog.

Bronne

  1. FAO. 2019. Soil erosion: the greatest challenge to sustainable soil management. Rome. 100 pp. Licence: CC BY-NC-SA 3.0 IGO.
  2. Le Roux, JJ, Morgenthal, TL, Malherbe, J, Pretorius, DJ & Sumner, PD, 2008. Water erosion prediction at a national scale for South Africa. Water SA, 34(3), 305 – 314. https://DOI:10.4314/WSA.V34I3.180623. Accessed 4 April 2022.
  3. Montgomery, DR. 2007. Soil erosion and agricultural sustainability. Proceedings of the National Academy of Sciences of the United States of America, 104(33):13268 – 72.
  4. Stern, R, Laker, MC & Van der Merwe, AJ. 1990. Field Studies on Effect of Soil Conditioners and Mulch on Runoff from Kaolinitic and Illitic Soils. Aust. J. Soil Res, 29, 249 – 261.