Aalwurms maak amok in eendeweer

Gepubliseer: 4 Julie 2022

612
Dr Sonia Steenkamp, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Min het ons geweet toe die eerste donker wolke verlede jaar opsteek, dat dit nog vir lank sou reën dat die water spat. Nie dat enige produsent hierdie tipe “gegewe perd” in die bek wil kyk nie, maar sommiges het effens meer gekry as wat hulle selfs vir twee seisoene nodig gehad het.

Op hierdie plase het dit nie noodwendig voor die wind gegaan nie. Sommige produsente moes toekyk hoe die moeilikheid stuk-stuk begin uitbreek. As die aanplantings nie versuip het nie, het die plante siek geword of maar redelik oes gelyk. Was dit nou van die baie reën wat versuiptoestande veroorsaak het? Miskien, maar nie noodwendig nie. Kom ons kyk ’n bietjie wat het in hierdie nat tye in die grond gebeur.

Die grond lewe
Baie van die wesentjies wat deel van hierdie donker wêreld in die grond uitmaak, kan nie met die blote oog gesien word nie. ’n Groot gedeelte van hierdie “onsigbare” grondbewoners is nie noodwendig onskuldig nie en kan ongemerk moeilikheid veroorsaak, veral as die plante enige tipe stres ervaar, insluitende te veel water.

Aalwurms is een van die ramp­okkers wat so amok kan maak. Hulle is so klein dat 20 tot 30 van hulle kop aan stert op die dikte van ’n tiensentstuk kan pas en kan dus net met ’n mikroskoop gesien word. Nie net is hulle op die oog af onsigbaar nie, maar simptome van hulle skade kan boonop maklik verwar word met voe­dingstekorte en versuipskade. Net soos met versuiping of voedingstekorte sal die plante wat deur aalwurms aangeval is, vergeel of ver­dwerg. Die kans wat die hoë reënval en gevolglike dekmantel van oënskynlike versuiptoestande vir hulle kon bied om amok te maak, is met oorgawe deur die aalwurms aangegryp.

Knopwortelaalwurmskade aan ’n pampoenwortel.

Hoe natter hoe beter
Aalwurms is eintlik waterdiertjies wat in die dun waterlagie wat rondom sandkorrels sit, beweeg. Omdat hulle so klein is, kan hulle nie vreeslik ver op eie stoom beweeg nie. Hulle het dus die nat toestande gebruik om effektief verder te versprei met water wat van besmette lande afloop. Boonop het die plante wat reeds onder stres van die oorvloedige water was, ook baie min­der “weerstand” teen aalwurms as normaal­weg – net soos ’n mens wat makliker siek raak in die winter as hy reeds verkouerig is. Die aalwurms het dus makliker toegang tot kos, wat tot gevolg het dat hulle vinniger kan aanteel, met getalle wat vinniger styg as onder normale omstandighede. Die skade wat hulle aan die wortels aanrig, maak boonop die pad vir patogene oop om die wortel binne te dring wat die siektesimptome vererger.

Doen deeglike ontleding
’n Jaar wat te nat is, skep dus ’n uitstekende teelaarde vir aalwurms. Dit sal wys wees vir die produsent om plant- en grondmonsters vir aalwurmontleding in te stuur indien simptome waargeneem word, veral as vergeelde en verdwergde plante in kolle in die land voorkom. ’n Hoër aalwurmbevolking aan die einde van hierdie seisoen sal beteken dat daar meer as genoeg eiers is vir verdere infeksie in die volgende seisoen. As die aalwurmontleding toon dat baie aalwurms teenwoordig is, sal die produsent weet om die volgende seisoen aalwurmdoders voorkomend toe te dien.