Oor die afgelope paar dekades het ons gewoond geraak aan ongelooflike bevolkingsgroei, vernaam in die Oosterse lande soos China, Indië en Indonesië. Met beleid kon China dit omdraai en is die Chinese populasie nou op ’n afwaartse kurwe.
Oral word baie vinnige verandering beleef, soos gesien oor die afgelope paar jaar. Nou word daar verder voorspel dat wat in die volgende dekade gaan gebeur die wêreld vir ewig gaan verander – veral in landbou. Dit is skokkend as ’n mens begin luister en dink wat alles kan en gaan gebeur, vernaam as ons na die realiteite kyk wat globaal om ons afspeel. Dit is niks nuuts nie, maar terug by populasie, word daar voorspel dat die bevolkingsgroei op die Afrika-kontinent anders as in die res van die wêreld gaan wees. Dit gaan nie net druk op infrastruktuur, voedselproduksie en voedselbeskikbaarheid plaas nie, maar ook op politieke stabiliteit. Dit is logies dat ’n jonger bevolking nodig is om ouer mense te onderhou en te ondersteun. In ’n land soos Japan, waar daar deesdae meer volwasse doeke as babadoeke verkoop word, is hierdie druk vir seker groter as in ander wêrelddele.
Globalisering het ons gewoond gemaak aan wêreldhandel en ekonome se fokus was vir lank op komparatiewe voordeel gewees. In ander woorde beteken dit dat nasies hulle produksie spesialiseer daar waar hulle ’n voordeel het en goedkoper kan produseer. Dit is alles goed en wel en maak sin in ’n omgewing waar op-die-nippertjie-logistiek (just-in-time logistics) glad verloop, maar die wêreld se uitdagings die afgelope drie jaar het die risiko’s van hierdie uitgangspunt duidelik uitgewys.
Ons weet tog wat die produksiepotensiaal in Afrika is, maar die vraag is hoe ons as Afrikane dit gaan regkry om dié potensiaal sinvol (en volhoubaar) te ontsluit. Ten spyte van al die negatiewe en gevaarligte, weet ons dat tegnologie in talle fasette aan ons kant is. Alhoewel dit nie goedkoop kom nie, is tegnologie een van die enigste drywers wat deflasionêr is – wat dus koste per eenheid kan verlaag. Met energie wat tans een van die grootste uitdagings is asook die sondebok vir inflasie, is dit moeilik om die voorspellings dat die wêreld binne die volgende 20 jaar ’n oormaat energie gaan hê, te glo! Ons sien dat die eerste samesmeltingskragstasie (fusion power plant*) in 2035 aktief behoort te wees om verder by te dra tot ander hernubare energiebronne en dalk kleiner en plaaslike verspreidingsnetwerke wat meer betroubaar as nasionale netwerke gaan wees.
Die tweede groot verandering wat naby is, veral vir die Afrika-platteland, is kommunikasienetwerke. Die impak van wyer strekkende hoëspoedkommunikasie gaan heel waarskynlik die gevolg wees van laerfrekwensienetwerke. Hiermee saam word die wêreld van sensors en ander moontlikhede ontsluit wat ons manier van werk – in die besonder op plaas- en bedryfsvlak – vir altyd gaan verander. Vir die optimis en sy vriende klink dit maklik en rooskleurig, maar ons weet net harde werk en kreatiewe idees gaan ons suksesvol hou.
Daarom is dit belangrik vir Graan SA om lede te vra om saam te dink en te bly skaaf aan die doelwitte waarop ons fokus en wat ons najaag. Ekonomiese volhoubaarheid bly ons hooffokus, maar ons konsentreer ook op die jonger geslag wat meer betrokke moet raak asook die absolute noodsaaklikheid van die kommersialisering van opkomende produsente. Verder is dit uiters noodsaaklik dat Graan SA as bedryfsorganisasie ’n wyer verteenwoordiging kry om sodoende uit een mond te kan onderhandel en sake te kan dryf. Daarvoor is beter en meer effektiewe samewerking met die waardekettingrolspelers van deurslaggewende belang.
Baie dankie aan Pieter Geldenhuys, ’n toekomskundige, vir ’n klomp inspirasie en idees om ons gefokus te hou op die toekoms en met hoop verby al die negatiewe te laat kyk. Ek weet dit is die praktiese manne, vroue en kinders wat met hierdie groot en nuwe idees ons wêreld gaan verander en ’n beter plek maak. Kom ons hou aan saam dink en droom, daar is opwindende hoop! Lekker boer!