Laat jou grond vir jou werk

Liané Erasmus, intern, ASSET Research
Gepubliseer: 3 Mei 2022

1527

Dink hieroor na: Hoe moet een voel wat nie verstaan nie of wat nie verstaan word nie? Moeder Aarde praat ’n taal van harmonie, volhoubaarheid en diversiteit. Ons wend egter nie ’n poging aan om hierdie taal aan te leer, te verstaan, te interpreteer en te praat nie. Waarmee laat dit ons? ’n Verhouding vol konflik, verwarring, swak kommunikasie, min respek en uiteindelik geen vriendskap nie. Dit belemmer immers ons vermoë om ’n beter toekoms saam te bou.

Is ons as produsente nie in dieselfde scenario vasgevang met die natuur nie? Dit is ’n situasie waar al twee probeer kommunikeer, maar nie mekaar se taal verstaan nie. Gelukkig is daar talle riglyne oor hoe ons hierdie nuwe taal van herlewingslandbou kan aanleer.

Daar moet begin word by die begin – die grond. So sê dr Ademir Calegari, ’n Brasiliaanse dekgewasspesialis. Hy het by die onlangse herlewingslandboukonferensies wat in Reitz en Ottosdal aangebied is, verduidelik hoe noodsaaklik dit is om met akkurate grondontle­dings te begin sodat die regte “diagnose” gemaak kan word om jou grond gesond te kry. Daar is byvoorbeeld makro- en mikrominerale in grond teenwoordig wat ’n invloed op mekaar het. Te veel van een mineraal kan die beskikbaarheid van ’n ander beïnvloed. Dit is dus belangrik om ’n balans tussen hierdie elemente te handhaaf.

In gronde waar die mineraalbalans deur gewasproduksie versteur is en waar plantsiektes geassosieer met spesifieke gewasse voorkom, kan dekgewasse gebruik word om die probleem aan te pak. Dr Calegari het verduidelik dat elke dekgewasspesie ’n unieke oplossing het vir sekere probleme. Daarom is dit belangrik om die probleme in die grond te identifiseer en daarvolgens die regte dekgewasmengsel te kies.

Dekgewasse speel ’n belangrike rol in herlewingslandbou. Adrian Bignell, ’n herlewingsprodusent van Zambië, en Pablo Etcheberry, ’n Argentynse herlewings- en beesprodusent, het hul paadjies na sukses met die gehoor gedeel.

Gerrie Trytsman van ASSET Research (links) en dr Ademir Calegari van Brasilië (regs).

Dekgewasmengsels
Bignell glo dat sy geheim vir groot opbrengste in gesonde grond­biologie, -struktuur en -diepte lê; daarom plant hy dekgewasmengsels wat hy hoofsaaklik weer plat rol. Op dié manier verskaf hy genoegsame materiaal aan verskeie grondorganismes om dit na grond- organiese materiaal te verwerk. Hy bedek ook so sy grond wat dus beskerming bied teen drastiese temperatuur- en vogveranderings. Dekgewasse lei tot ’n diverse reeks plantwortels in die grond wat met wortelafskeidings verskillende komponente van grondbio­logie aanvul. Verder lok die verskillende plante insekte wat voordelig is vir bestuiwing en dit help om die lewensiklusse van peste en plae te onderbreek.

Hoëdrukbeweiding
Etcheberry beoefen soortgelyke praktyke, maar sy fokus lê hoofsaaklik by hoëdrukbeweiding en hoe dit in samewerking met dekgewasse vir hom groter opbrengste tot gevolg het. Dekgewasse het sy aantal weidae vermeerder omdat die aanplantings meer as een keer bewei kan word. Dit het ook sy grond se drakrag verhoog. Hy het ontdek dat sy wins per hektaar meer is wanneer hy kilogram vleisproduksie per hektaar verhoog eerder as om hoër dragtigheidspersentasies, speengewig, speenpersentasie en wins per koei na te jaag. Terselfdertyd doen die beeste die werk van normale implemente, hulle benut alle plantmateriaal effektief en los ’n laag bemesting op die grond. Op die manier bevorder hy grondgesondheid en boer hy op ’n volhoubare wyse saam met die natuur.

Frits van Oudtshoorn, ’n graskenner, verduidelik hoe voordelig hoëdrukbeweiding is en dat ’n verhoging in toenemend smaaklike grasspesies in natuurlike veld gesien kan word onder hierdie stelsels.

Gesonde grond
Danie Slabbert, ’n herlewingslandbouprodusent van Reitz, het die voordele en omvang van herlewingslandbou vasgevang deur die volgende vrae te beantwoord:

  • Hoekom moet jy die groot verandering van konvensionele boer­derypraktyke na herlewingslandboupraktyke maak?

Bewerkte grond degradeer daagliks teen ’n hoë tempo. Slabbert het die deelnemers daarop attent gemaak dat grond- en water­erosie ’n algemene verskynsel is op bewerkte lande en in oorbeweide natuurlike veld. Vee oorbewei en wei selektief op natuurlike veld. Kompaksielae vorm onopsigtelik as gevolg van grondbewer­king en plantwortels toon dus baie keer swak indringingsvermoë. Gronde is “dood”: Dit het min lewende grondorganismes of organiese materiaal, dit is nie in staat om sonder aanvullings genoegsame voedingstowwe te bied vir plante en diere nie, en dit het ’n swak struktuur met ’n lae wateropgaringsvermoë. Deel van die opsigtelike resultaat is ook ongewenste peste, onkruide en indringerplantspesies wat kop uitsteek.

Dit alles lei tot verhoogde kunsmis­insette, die gebruik van meer chemikalieë, verlaagde veegetalle en produksie as gevolg van verlaagde drakrag van veld, oftewel verhoogde voerinsette om kuddes te onderhou – en uiteindelik ’n gat waarin produsente hulleself al hoe dieper begrawe.

  • Hoe kan herlewingslandboupraktyke hiermee help?

Hierdie praktyke streef om saam met die natuur in plaas van daarteen te werk. Gesonde gronde is komplekse, diverse en selfvoorsienende sisteme. Dit weerspieël ’n eindelose, volhoubare wisselwerking tussen grondorganismes, plante en diere.

Grond is inderdaad in staat om die produsent se mees produktiewe, pligsgetroue en bekostigbare “werknemer” te wees. Grond moet volgens sekere beginsels bestuur word en die regte “werktuie” moet gebruik word.

Plante en plantwortels is uitstekende gereedskap om grond gesond te hou. Dit lewer voordelige wortelafskeidings wat verskillende organismes op hul beurt be­voordeel. Wortels lê voedingstowwe vas, dit is organiese materiaal wanneer dit afsterf en dit belug en onder­steun die struktuur van grond. Gesonde gronde bied meer lewe, koolstof, water, beskikbare plantvoedingstowwe en stabiele produksie van voedingryke produkte.

DF Fyfer, ’n herlewingsprodusent van Vryburg, verduidelik hoe ’n funksionele veldbees in ’n hoëdrukbeweidingstelsel lyk. Volgens hom is diere, gewoonlik grootraamkoeie wat swak rumenvul toon, wollerige pelse het en lusteloos na die volgende weistrook beweeg, nie gelukkig in hierdie toestande nie.

Grond moet so min as moontlik versteur word
Grond vereis ten alle tye ’n goeie bedekking om dit teen omge­wingsuiterstes te beskerm. Bedekte grond sal minder erosie hê, meer vog vasvang, minder temperatuurverandering ondergaan en ’n gunstige omgewing skep vir grondorganismes om te vermeerder en organiese materiaal te verwerk.

Grond vra ook vir ’n verskeidenheid van werktuie, soos meer gewas- of plantdiversiteit, gewasrotasies, dekgewasse asook die gebruik van plante en organismes geassosieer met sekere toestande en die natuur se ritme.

Laastens kan grond ook baat vind by ’n veekomponent. Vee bied natuurlike hoefimpak om korse te breek en oorblywende plantmateriaal te vertrap. Boonop word organiese kunsmis in die vorm van mis en urine in die grond teruggesit.

Hoe kan jy die verandering wees en maak?
Elkeen wat ’n stukkie grond besit, is as’t ware ’n rentmeester soos Slabbert uit Genesis 1:12 aangehaal het. Hy het ook aangehaal uit Job 12:7-8 wat sê: “Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.”

Slabbert het die volgende praktiese wenke met die gehoor gedeel:

  • Begin by jou grond, want alles kom van daar af. Bekamp die verlies van vrugbare bogrond en bedek kaal gronde. Vul die biologie van gronde aan sodat mikrobepopulasies in die grond kan herstel.
  • Maak optimaal gebruik van plante. Plant ’n meer diverse reeks van plante/gewasse. Wissel gewasse af en plant gras, brassicas (koolgewasse) en peulplantmengsels wat as veevoer bewei of gerol kan word om as materiaal bo-op die grond te dien.
    Integreer jou gewasverbouingstelsel met vee. Boots die natuur na deur groot troppe diere deur jou lande of veld te bestuur, met genoegsame rus en herstel van die natuurlike veld. Vertrapping van plantmateriaal dien as bedekking vir die grond en uitskeidings as bemesting.

Ter afsluiting
Enige groot verandering is moeilik sonder ondersteuning. Veran­dering ten gunste van die volhoubaarheid van jou boerderypraktyk begin by die onuitblusbare passie in jou hart. So het Etcheberry elke luisteraar bemoedig. Omring jou met medeprodusente wat jou herinner aan die uiteindelike sukses van herlewingslandboupraktyke, ten spyte daarvan dat dit tydsaam mag raak. Geen resep is perfek nie, eksperimenteer tot jy ontdek wat vir jou werk!