Knap waterbestuur laat tonne styg

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

1013

Deur hul watertafelgronde in die Hoopstad-distrik korrek te bestuur, het Kobus en Neels Eksteen daarin geslaag om vanjaar ’n rekordmielie-oes te stroop.

In die afdeling vir mielies wat in die watertafelgebied verbou word, het die twee broers op die plaas Rustvlei op droëland die eerste plek behaal met ’n rekordopbrengs van 13,13 t/ha met ’n Pioneer-baster, P 2927WYR.

Neels en Kobus se graanboerdery bestaan uit 70% mielies, 10% sojabone en 20% sonneblom. Die grootste gedeelte van hulle mielie-aanplantings, naamlik 80%, is met die wenkultivar geplant. Hoewel sonneblom in die verlede ’n groter deel van hul saai­boerdery uitgemaak het, plant hulle deesdae minder sonneblom as gevolg van Sclerotinia-stam- en -kopvrot wat ’n ernstige probleem is en lande besmet. Hulle sal wel in seisoene wanneer die hoeveelheid vog hulle nie toelaat om al hul sojabone en mielies te plant nie, meer sonneblom plant.

Die gedeelte wat ingeskryf is vir die Groei vir Goud-kompetisie het die vorige jaar sonneblom op gehad. Hoewel hulle op die spesifieke blok ’n dubbelsyfertonnemaat gerealiseer het, was die gemiddelde opbrengs oor die plaas heen vir al hulle mielie-aanplantings 5,1 t/ha. Plek-plek het die stroper se monitor by 8,5 t/ha gedraai.

Op die land wat ingeskryf is, het hulle 715,50 mm reën vir die seisoen ontvang, wat beteken dat hulle 18,35 kg graan/mm vog gestroop het. Die watertafelgrond waarop hulle produseer, het ’n kleikeerlaag op ’n gemiddelde diepte van ’n meter wat verhoed dat die vog buite bereik van die plant se wortels wegsypel. “In sekere jare is dit ’n seën, maar in ander jare kan dit versuipskade meebring as die afloop nie bestuur word nie,” sê Kobus.

Die insetkoste vir dié blok mielies was R677,93/ton en as dit na koste per hektaar verwerk word: R 8 902,58/ha. Hulle insetkoste was dieselfde op al die lande, behalwe waar hulle kalk toegedien het. “Ons insetkoste stem redelik ooreen met die gemiddeld van die omgewing, maar insetkoste het die afgelope paar jaar geweldig gestyg. Ons het hierdie styging waargeneem in kunsmis, diesel, plaag- en onkruidbeheermiddels, saad asook arbeid. Ons grootste bekommernis is die beskikbaarheid van baie van hierdie produkte vir die huidige produksieseisoen,” voeg Kobus by.

Kobus en Neels Eksteen het vanjaar ’n rekordmielie-oes gestroop.

’n Plan met wind en water
Een van die uitdagings in hulle omgewing waarmee ander produ­sente ook gekonfronteer word, is die wind wat gedurende en na planttyd waai. “Die wind kan veroorsaak dat die ontkiemende plantjies stik of dit beskadig die saailinge. Ons trek windvore om die wind te stuit en wanneer die vore toewaai, moet ons maar die proses herhaal. Dit help altyd as daar bietjie reën val in hierdie tyd.”

Hy sê in hierdie toestande moet hulle al hul praktyke aanpas om eerstens die mielieplantjies gelyktydig op te kry en dan om die saailinge teen die wind te beskerm sodat hulle steeds die beplande plantpopulasie per hektaar behou. Winderosie is ’n ernstige probleem en die Eksteens het ’n hele paar planne om die saailinge te beskerm gedurende die eerste paar weke om hulle so sterk as moontlik te kry.

Hulle het twee jaar gelede die plantrigting van die land waarin die kompetisieblok is, met 90 grade gedraai. “Dit het gehelp dat die oortollige water uit die lande in die plantvoor teen die skuinste kon uitloop en vinniger dreineer. Van ons lande lê teen ’n laagte en dit help om die plantjies teen die wind te beskerm.”

Grondontledings gee deurslag
Die grondsamestelling op hulle plaas wissel van sandgrond tot dele met rooigrond met ’n kleipersentasie van 15%. Kenmerkend van die watertafelgrond is die voghoudende keerlaag op ’n diepte van 1,4 m tot 1,7 m. Die Eksteens laat elke jaar ’n kwart van die grond ontleed. “Die grond is in kwarte opgedeel en dieselfde gedeelte word dus elke vier jaar ontleed. Die grond­ontledings word deur SGS NviroCrop gedoen. Ons neem hulle aanbevelings en ons kuns­misagent meng dan vir ons die regte mengsel om toe te dien. Ons volg presisieboerderypraktyke om die toedienings korrek te doen en om die kalk variërend te strooi.” Voor die 2020-plantseisoen het hulle 115 kg N, 28 kg P en 18 kg K op die gedeelte wat ontleed is, toegedien.

Hulle volg ’n mate van verminderde bewer­king deur tandwerktuie te gebruik. Direk nadat hulle gestroop het, volg hulle op met ’n rolmoer agter die stroper. Die stoppels word gedurende die winter op die land gelaat om te verhinder dat die bogrond wegwaai, maar dit help ook om vog te bewaar.

Wanneer die lande vir planttyd voorberei word, begin hulle met ’n vlak skoffelbewerking met ’n V-vormige tandimplement. Direk daarna volg hulle op met ’n skeurploegbewerking. “Die vlak skoffelbewer­king sny die stoppels en onkruid se wortels onder die grond af wat help dat dit nie vog uit die grond onttrek nie. Die stoppels word dan oor die land versprei en terselfdertyd maak ons die lande gelyk,” sê Kobus.

Teen middel September werk hulle die kunsmis voor planttyd in. Hulle span rolstawe in om die opslag en die onkruid dood te maak en seël dan die plantvore. Die grondvog en -temperatuur bepaal die plantdatum. Voordat hulle plant, sal hulle eers ’n vogbepaling doen om te kyk of die lande genoegsaam deurnat is. Grondtempe­ratuur is ook belangrik volgens Kobus.

Wanneer hulle plant, werk die rolstawe weer voor die planter om opslag en dubbeltjies dood te maak en agter die planter doen hulle die eerste onkruidbespuiting. Hulle plant rywydtes van sowat 1 m vir mielies en sojabone.

Gedurende die oorgangstydperk ná winter tot in die somer bewei hulle van die lande net om die beeste deur te help totdat hulle vroeg somer na die weidings geskuif word. “Ons laat nie die beeste op al die lande wei nie. Ons het gevind dat die beeste sekere onkruid versprei wat moeilik op die groter lande beheer word. Ons sal hulle wel op die oesreste op kleiner lande sit wat maklik is om te spuit as die onkruiddruk verhoog.”

Seisoenale uitdagings
“Die 2020/2021-seisoen se uitdaging, wat dikwels ook ’n groot bekommernis was, was die baie reën wat in die tweede helfte van die plantseisoen geval het. Die seisoen het normaal begin en die mielies het mooi ontkiem. Ons het die harder dele gerol om seker te maak dat die stand reg is en hier en daar vore aan die kant van die lande getrek as ’n maatreël teen die wind,” verduidelik Kobus.

Wat onkruidbeheer betref, word die eerste bespuiting direk agter die planters gedoen as ’n voorkomende maatreël. 48 dae na die plantdatum doen hulle die tweede bespuiting. Kobus sê egter dat hulle hierdie tydperk in die toekoms gaan verkort sodat hulle beter verspreiding van die onkruiddoder op die grond kan kry. Hy vertel net voor hulle met die tweede bespuiting begin het, het daar heelwat reën geval en kon hulle nie in die lande inkom nie. Teen die tyd wat hulle wel kon inkom, was die mielieplante al te hoog en die blare so groot en ruig dat hulle nie die tweede bespuiting kon doen nie. Hulle kon gelukkig die gedeelte wat vir die kompetisie ingeskryf is ’n tweede keer spuit met ’n hoogloopspuit.

“Omdat die nuwe basters se groei­periodes korter is en dit onder optimale toestande ook vinniger groei, gee die blare gou ’n sambreeleffek wat veroorsaak dat die on­kruiddoder nie die grond behoorlik bereik nie. Laat reën het ons ook laat besluit om hierdie tydperk te verkort omdat ons sukkel om in die land in te kom met die toerusting,” sê hy.

“Die feit dat ons op heelwat van ons lande nie ’n tweede onkruidbespuiting kon toedien nie, het duidelik uitgewys hoe belang­rik onkruidbeheer is en watter invloed hierdie kompetisie vir voeding op die mielies het.”

Tydens plant meng hulle ’n poeier van Metson met die saad in die saadbakke wat help om wortelontwikkeling te stimuleer. Afhangend of dit ’n droë of ’n nat jaar is, sal hulle oorweeg om ’n swamdoder ook saam te meng as voorkomende maatreël teen swamsiektes.

In die verlede het hulle vir al die saadmaatskappye proewe geplant, maar die afge­lope paar jaar plant hulle net hul eie proewe om te bepaal watter kultivar vir hulle die beste opbrengs en wins gaan oplewer.

Die broers se raad aan jong produsente is om altyd op hoogte te wees van graanpryse, maar ook van tendense in die graanmark. Hulle dink dit is ’n goeie opsie om vas te stel of daar nie ander of beter platforms of kanale is waar die graan bemark kan word nie. Nog ’n voorstel is om te kyk of graan op die plaas gestoor kan word. Hulle erken dat die koste hieraan verbonde hoog is, maar meen ’n produsent spaar heelwat aan opbergingskoste oor die lang duur as hy sy eie graan kan stoor.

Volgens Kobus is ’n mens se pa maar altyd jou mentor en kan enige jong mens baie van hul ouers leer – nie net waardes nie, maar ook uit hulle ondervinding. “Later van tyd leer jy maar deur jou eie ervaring en foute asook by medeprodusente, landbou-organisasies en inligting wat in die media beskikbaar is.”

Kobus se bakkie tussen die mielielande – hulle het 13,13 t/ha met P 2927WYR gestroop.