Unieke oplossings vir besproeiingsbestuur

Uys Meiring, bestuurder (markontwikkeling): Spesialiteitsoplossings, Omnia Nutrilogie®
Gepubliseer: 1 September 2021

1123

Die sukses van Omnia Nutrilogie® se OFOS™- en ONAS™-stelsels lê daarin dat die korrekte hoeveelheid en konsentrasie voedingstowwe in besproeiingswater na die plant se voedingswortels vervoer word.

Konsentrasie van voedingselemente in besproeiingswater is noodsaaklik vir effektiewe sproeibemes­ting. Hierdie konsentrasies is grond-, gewas- en groeistadiumspesifiek.

Die bogenoemde stelsels het ten doel om die verbruik van voedingselemente onder sproeibemesting te optimaliseer en kan in ’n wye reeks besproeiingstelsels aangewend word – van hoogs gesofistikeerde kortsiklus-drupstelsels tot eenvoudige bemestings­programme deur spilpunte.

Optimalisering van bemesting deur doeltreffende besproeiingsbestuur
Effektiewe besproeiingsbestuur is deurslaggewend in die produksie van hoëgehalte- landboukundige produkte. Besproeiingstelsels toon dikwels beperkings met betrekking tot die frekwensie van lewering en volume, asook drukverskille en lang afstande na die waterbron. Nietemin kan sproeibemesting met klein aanpassings en gefokusde bestuur suksesvol toegepas word.

Die strewe na volgehoue optimale opbrengste, druk op die effektiewe benutting van besproeiingswater sowel as die verwagte kleiner wortelvolume tydens intensiewe besproeiing, maak die gebalanseerde en effektiewe toediening van voedingselemente in die beskikbare grondvolume om die wortels noodsaaklik.

Elke voedingselement het ’n bepaalde invloed op die opbrengs en/of gehalte van die oes. Hierdie impak van kritieke voeding­stowwe is die kern van Omnia se benadering tot gebalanseerde bemesting. Die benadering van programgebaseerde voeding in volgehoue produksiestelsels leen hom tot tegnologiese programmatuur wat maklik en prakties op plaasvlak aangewend kan word.

Wat behels OFOS™ en ONAS™?
Omnia se uitgebreide kennisbasis en betrokkenheid op plaasvlak is met groot vrug aangewend om werkbare oplossings vir sproeibemesting te ontwikkel. Die unieke Suid-Afrikaanse produksie-omge­wing, hoë tegniese standaarde en eenvoud was ’n integrale deel van hierdie ontwikkeling.

Die OFOS™- en ONAS™-stelsels maak dit moontlik om die konsentrasie van voedingselemente te manipuleer sonder om ’n legio produkte en hoogs gesofistikeerde inspuittoerusting te gebruik. Die konsentrasie van plantvoeding kan met minimale bestuursinsette van een fenologiese stadium na ’n ander gemanipuleer word om in die plant se behoefte te voorsien.

OFOS™ en ONAS™ bestaan uit verskeie fasette wat die volgende insluit:

  • Spesifiek geformuleerde produkte binne ’n twee- of drie-tenk­stelsel;
  • rekenaargebaseerde voedingsprogramme;
  • beproefde beheer en kontrolestelsels;
  • gebruikersvriendelike moniteringstelsels;
  • plantvoedingskonsentrasie (die Michaelis Menten-beginsel) as grondslag;
  • wetenskaplik ondersteunde aanbevelings; en
  • ’n plaaslike agronomiese en navorsingsondersteuningsnetwerk.

Die formulering van kunsmismengsels vir spesifieke plantvoedings­behoeftes is ’n algemene praktyk. Die OMNI™-produkreeks is egter saamgestel sodat die produsent steeds die inisiatief binne sy bepaalde omstandighede behou. Deur ’n twee- of drietenkstelsel te gebruik, kan enkele produkte aangewend word om ’n verskeidenheid gewasse in verskillende groeistadia effektief te bemes.

Gebruikersvriendelike rekenaarprogrammatuur word gebruik om aanbevelings te doen en kan met intermediêre rekenaarvaardigheid bemeester word. Dit bestaan op die oomblik uit Microsoft Excel-spreivelle wat aan ’n databasis (GIS) gekoppel is. Die ontwikkeling van toepassings om plantvoeding onder besproeiing te optimaliseer, is ook reeds ver gevorder.

Die bogenoemde databasis word deur of vir die produsent onderhou en bly sy eiendom. Die beheer en kontrolestelsels word ook binne die programmatuur onderhou. Deur eenvoudige insette hiertoe te maak, kan uitgebreide kontrole- en beheerinligting bekom word. Hierdie inligting kan help om koste te bespaar vanweë die vermindering in toedienings- en berekeningsfoute.

’n Voorbeeld van die kontrolefunksies is om te bepaal hoeveel kunsmis oor eenheidstyd toegedien is. Die monitering van veral besproeiing en plantvoeding maak die opstel van toekomstige aanbevelings eenvoudiger. Die vordering van die bemestingsprogram deur die groeiseisoen kan noukeurig gemonitor word met die gevolg dat aanpassings tydig gemaak kan word.

Kontak die Omnia-landboukundige in jou omgewing vir meer inligting.

* OFOS™ (Omnia Fertigation Optimisation System)
* ONAS™ (Optimised Nutrient Application System)