In 2018 het SA Graan/Grain berig oor die Reitz Akademie – die breinkind van verskeie rolspelers, waaronder Graan SA en Hoërskool Reitz, wat op daardie tydstip in die beginstadium was. Hoërskool Reitz is die nommertweekleinskool in die land, gebaseer op die leerdertal en getal onderskeidings in 2020. Daar is tans 416 leerders. SA Graan/Grain het met die nuwe skoolhoof, Uys le Roux, gesels om uit te vind hoe dit met hierdie projek gaan.
Toe ons laas met skoolhoof Werner Prinsloo gesels het, was die droom om teen 2021, 200 leerders in jul landbouprogram te hê. Hoe ver is julle van daardie droom af?
Die oorspronklike plan was om in 2019 af te skop. Toe Werner bedank het, is die proses vertraag. Die grootste faktor was dat ons besef het dat ons ons eie kurrikulum moes skryf wat fokus op en spesialiseer in bewaringslandbou en presisieboerdery.
Volgens ons kennis bestaan daar nie so iets op skool- of naskoolse vlak nie. Dit het beteken dat dit duurder was en langer geneem het as wat ons gedink het. Ons het wel in 2020 met die graad 10-kurrikulum as ’n proeflopie met ons leerders van Hoërskool Reitz afgeskop. En toe kom COVID. Daar is goeie lesse in die proefjaar geleer en ons is steeds positief dat Reitz Landbou-akademie ’n wêreldklasinstelling in landbou kan wees en baie leerders gaan trek.
Hoeveel belangstelling kry julle? Is dit merendeels van mense uit die omgewing of provinsie?
Meestal plaaslik en in die Oos-Vrystaat. Ons het al navrae van Noordwes gekry. Die akademie is nog in sy kinderskoene. Hoe verder ons vorder, hoe meer belangstelling sal ons kry.
Jul opset verskil van ’n akademiese skool in byvoorbeeld ’n klein stad of groot dorp wat landbougerigte vakke aanbied in die sin dat julle die betrokkenheid van groot rolspelers soos VKB, Graan SA en natuurlik die landbougemeenskap het. Wat meer bied julle leerders in hierdie rigting as bogenoemde tipe skool?
Wat ons onderskei van gewone akademiese skole met landbouvakke, is juis die unieke landboukurrikulum wat ons geskryf het en wat los staan van die Onderwysdepartement. Dit plaas ons in ’n ander klas. Die kurrikulum sluit bewarings- en presisieboerdery in en bestaan meestal uit praktiese onderrig. Die bedryf het ons help skryf aan die kurrikulum met wat hulle graag daarin wil hê.
Sou ’n skoolverlater wat landbouvakke geneem het en jul praktiese kursusse gevolg het, regstreeks suksesvol tot die arbeidsmark kan toetree? Of is die moontlike oorbruggingsjaar ’n beter opsie?
Die hoofdoel van die akademie is om waarde tot leerders toe te voeg sodat hulle markgereed is om by instansies soos Sernick, John Deere, Standard Bank, Graan SA en VKB verder opgelei te kan word. Die akademie wil graag topstudente aan sy vennote lewer om vir daardie studente werk te verseker.
Vertel meer oor die oorbruggingsjaar?
Ons wag vir ons akkreditasie om afgehandel te word – dit is ’n langdradige proses. As dit in plek is, gaan ons vir seker na ’n oorbruggingsjaar kyk.
Daar is ook sprake van ’n aanlyn kursus?
Ja, beslis. Ons ondersoek die moontlikheid dat studente die teorie van die huis af doen en die praktiese aspek in Reitz. Ons is baie opgewonde om dit in samewerking met ander vennote te doen wat tans in die bedryf is.
Wie mag daarvoor inskryf?
Enigeen van enige ouderdom, van enige plek af. Daar is geen akademiese vereistes nie, omdat dit ons eie kurrikulum is.
Hoe lank sal die praktiese sessies duur?
Uurlange praktiese sessies sal weekliks plaasvind en daar sal ook tydens skoolvakansies praktiese opleidingskampe in Reitz wees.