As gevolg van die COVID-19-pandemie en gevolglike inperking moes almal vinnig aanpas by ’n veranderende wêreld. Nie net is ons persoonlike lewens daardeur beïnvloed nie, maar ook alle aspekte van besigheid en onderrig. ’n Veilige werksomgewing is deesdae ook belangriker as ooit.
Dit is noodsaaklik dat werkgewers én werknemers verantwoordelikheid vir ’n veilige werksomgewing neem. Volgens wetgewing moet werkgewers ’n gesonde en veilige werksomgewing verseker, die bedreigings en risiko’s by die werksplek bepaal en die nodige stappe doen om dit te elimineer of te beheer. Werknemers se verantwoordelikhede ingevolge die wetgewing oor beroepsgesondheid en -veiligheid sluit in dat personeel redelike sorg moet dra vir hul eie veiligheid en gesondheid asook dié van ander persone wat deur hul optrede of versuim geraak kan word. Hulle moet verder met hul werkgewer saamwerk om ’n werksomgewing wat vry is van gevare en gesondheidsrisiko’s te verseker.
Pandemie verander die reëls
Volgens advokaat Bernard Lombard van Excelsis Group, het die pandemie veroorsaak dat aanpassings aan bepaalde wetlike aspekte rakende beroepsveiligheid gemaak moes word. Net soos met die verantwoordelikhede en pligte rakende beroepsveiligheid, is dit nodig om relevante inligting te hê oor die inperkingsregulasies wat gereeld verander.
Hy sê COVID-19 het onsekerheid oor wat toelaatbaar is binne die werksomgewing gebring. “Die pandemie veroorsaak dat bepaalde dinge wat voorheen toelaatbaar was, nie meer aanvaarbaar is nie en dit wat ontoelaatbaar was, nou gedoen moet word.” In die verlede mag ’n werkgewer nie vir ’n werknemer wat siekverlof neem, uitgevra het oor sy mediese toestand nie, omdat die reg van die werknemer groter was as die werkgewer se behoefte aan inligting. Dit het verander aangesien ’n veilige werksomgewing nou van kritieke belang is.
“Die werkgewer is nou geregtig daarop om COVID-verwante mediese inligting te bekom sonder die werknemer se toestemming. ’n Veilige werksomgewing is dus belangriker as enige individu se reg op privaatheid. Die verantwoordelikheid word hierdeur op die werknemer geplaas om die werksomgewing veilig te hou vir sy kollegas deur eerlik te wees indien hy/sy enige simptome ervaar of kontak gehad het met ’n persoon wat positief vir COVID-19 getoets het,” sê Bernard.
Goeie COVID-19-bestuurspraktyke
Die belangrikste bestuurspraktyk is dat produsente riglyne moet opstel oor hoe dinge op die plaas hanteer gaan word sodat dit konsekwent toegepas kan word. Produsente moet verseker dat voldoende reëlings getref word vir basiesehigiënepraktyke en ander noodsaaklike bepalings om COVID-19 te beveg. Die verskaffing van die nodige persoonlike beskermende toerusting asook die aanbring van ontsmettingsmiddels op strategiese plekke word wetlik vereis.
Bernard stel voor dat produsente gereeld ’n risiko-analise doen om te bepaal waar moontlike risiko’s mag opduik. Dié inligting sal help om maatreëls in plek te stel om dit te beperk. Die deurlopende monitering van personeel deur die voltooiing van daaglikse gesondheidsvraelyste kan help om risiko’s vinnig te identifiseer. “Vind byvoorbeeld uit waar personeel wat nie op die plaas woon nie, oor ’n naweek was en of hulle volgens die inperkingsmaatreëls opgetree het. Plaaswerkers wat op die plaas woon, moet risiko’s vermy soos om dorp toe te gaan.”
Die werkgewer moet ook behoorlike kontrole of protokolle hê vir wanneer ’n werknemer enige COVID-19-simptome toon of in kontak was met iemand wat positief getoets het. Hierdie riglyne bepaal wat “kontak” is. Noue kontak beteken dat ’n persoon binne 1 m van aangesig tot aangesig kontak gehad het of langer as 15 minute in ’n geslote ruimte was met ’n persoon met COVID-19 wat steeds “aansteeklik” was, dit wil sê van twee dae voor tot tien dae nadat hul simptome begin het. Volgens die Departement van Gesondheid moet isolasie gesien word as siekverlof en is ’n mediese sertifikaat nie daarvoor nodig nie. Daar moet verder ’n geskikte plek wees vir personeel om te isoleer waar ander werknemers nie blootgestel word nie.
Inentings teen COVID-19 het wêreldwyd baie bespreking uitgelok. Volgens Bernard is daar tans pro forma-beleide uitgereik oor inentings. Die meeste van Excelsis Group se landboukliënte laat die besluit aan die werknemers oor. “Die wat vir die inentings wil gaan, moet ’n dag verlof gegun word om dit te doen. Help hulle om te registreer en verskaf vervoer na en van die inentingsentrum af,” noem Bernard. Indien iemand newe-effekte ondervind, moet hy/sy ook twee tot vyf dae siekverlof gegun word om te herstel.
Bernard stel voor dat produsente ’n risiko-analise oor elke posvlak doen en dan bepaal watter invloed die inentings op die boerdery-onderneming gaan hê. “’n Werkgewer mag wel vereis dat die inenting verpligtend is vir diegene in noodsaaklike poste,” voeg hy by.