Beste Grootneef
AG Visser het toentertyd die volgende gevleuelde woorde uit ’n pen laat vloei:
“As ou tant Siena straat op loop
Om antipon of spek te koop,
Sê dié wat pad maak: Dank die Heer!
En sit hul sware stampers neer”
Ek wonder wat die volksdigter nóú sou sê met die geil slaggate wat oral uit die paaie dop.
Die ander dag op pad dorp toe, kom ek op ’n bondel mense in die pad af. Van ver af het dit nes ’n protes gelyk, maar nader aan die vergadering kon jy sien hier is ernstige sake wat onder die loep geneem word. Eerstens was daar die vlagswaaier om jou met ’n rooi vlag te verwelkom. Die boodskap met ’n driftige swaai van die vlag was duidelik: “Slêg af!” Wat ’n man dan ook terstond doen, want voor in die baan staan ’n geel “ompad/detour”-bordjie op drie bene.
En dan sien jy die slaggat. Ou Neef, groot en wyd – maar dié een het nie ’n kans gehad om te ontsnap nie. ’n Volle vyftien man het die gat omsingel. Twee met grawe en die res in toesighoudende hoedanigheid, met die hoofman wat in ’n kruiwa sit-lê, bene uitgestrek en tikkend op ’n selfoon.
In die tien minute wat ons moes wag vir die “ry/go”-bordjie om in ons guns te swaai, was die vyftienman-span se plan om die bielie van ’n gat toe te kry geensins duideliker as met ons aankoms nie. Behalwe dat een spanlid sy posisie verander het deur ’n ander boud oor die graaf se steel te parkeer.
Ou Neef, toe ek die middag van die dorp af terugkeer, ry ek weer in dieselfde padwerke vas. Maar ek kon my oë nie glo nie. Die gat het jou wrintiewaar die span omseil en het steeds oop en bloot in die pad gelê. Hoe dit moontlik was vir die gat om sy lyf Mannetjies Roux te hou, sal nugter alleen weet – maar ’n volle vyftienman-span kon die gat nie vasvat nie.
Die padwerkers was intussen jolig besig om klaar te maak. Die twee sitkieries en die kruiwa is argeloos agter op ’n lorrie gelaai.
En so, ou Neef, het ’n slaggat in een oggend verduidelik hoe werksetiek nou eintlik werk. Dit gaan lank nie meer om die werk te doen nie – dit gaan bloot oor om op te daag. Môre is mos nog ’n dag om die gat uit te kyk.
Met die verbyry het ek ’n windskewe padbord aan ’n ysterpaal sien hang. Op die bord was ’n enkele “!”. Asof die teken die pad beter sou maak. In die truspieël het ek die gapende gat sien lê en wag vir die nagverkeer.
Ou Neef, toe ek ’n week later daar verbyry, was die gat nog net so. Maar aan die gat se ander kant was die remmerke en glasstukke die stille getuies van die tragedie wat plaasgevind het. Ek het eers later verneem van die kar wat vir die gat uitgeswaai het en voor ’n bakkie beland het.
As die gat toegestop was soos dit moes – sou Edenville se gemeenskap nie ’n begrafnis vir Lomon moes reël nie.
Ou Neef, herkou ook aan dié een: Met die paaie wat oral in die Vrystaat uitmekaarval – hoe gaan die kos van die platteland tot in die stede kom?
Groete
Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.