Voervloeiprobleme iets van die verlede met hawer

Joubert Swanepoel, Agricol
Gepubliseer: 26 Februarie 2021

3261

Hawer (Avena sativa) is ’n veelsydige kleingraan wat in die verlede grootliks vir die graanmark aangeplant is. Weens die gewas se goeie voedingswaarde en droëmateriaalproduksie, word dit deesdae ook as ’n belang­rike weidingsgewas beskou.

Veeprodusente kan hawer, wat ook oor relatief goeie hergroei-eienskappe beskik, aanplant om voldoende groenvoer vir die winter te produseer. Wintergraangewasse soos hawer word jaarliks regoor Suid-Afrika in groot hoeveelhede aangeplant as winterweiding vir skape, bokke en beeste. Kleingrane sluit onder meer die volgende gewasse in: hawer, korog en stoelrog, koring en gars. Hawer kan in verskillende groeiklasse gedeel word, naamlik lente- (kort groeiseisoen), intermediêre (mediumgroeiseisoen) en wintertipes (lang groeiseisoen).

Hawer wat in die lentetipe groeiklas val, is nie baie koue­behoeftig nie en sal vinniger weigereed wees as wintertipes. Lentetipe hawer produseer egter nie groot volumes blaarmassa nie. Dit word meestal aanbeveel vir sy graanproduksievermoë en is dus minder populêr vir die doel van groenvoer, in vergelyking met wintertipes wat gekenmerk word deur baie hoë blaarproduksie. Slegs indien weiding baie vinnig benodig word, sal dit raadsaam wees om ’n gedeelte van die aanplanting met lentetipes te plant. Intermediêre en wintertipe hawer het ’n langer kouebehoefte (vernalisasieperiode) voordat dit reproduktief raak. Intermediêre en wintertipe hawer produseer groter volumes voer as gevolg van hul stoelvermoë en kan tot laat in die seisoen produseer.

Plantdatums moet verkieslik versprei word om te verseker dat al die aanplantings nie gelyktydig weigereed is nie. Beplanning is dus van uiterste belang. Die saaidigthede van lentetipes onder droëlandtoestande is 25 kg/ha tot 50 kg/ha en onder besproeiing 75 kg/ha tot 125 kg/ha (afhangende van die mate van besproeiing). Intermediêre en wintertipes se saaidigthede is ook 25 kg/ha tot 40 kg/ha onder droëlandtoestande en 75 kg/ha tot 125 kg/ha onder besproeiing (afhangende van die mate van besproeiing). Die vestigingstyd sal van streek tot streek wissel, maar is normaalweg van middel Februarie tot middel Mei. In die koue areas eindig planttyd einde April.

Hawer kan ook met verskeie gewasse gekombineer word om produksie en voerinname deur vee te verhoog. Hierdie kombinasies sluit gewasse soos Japannese radyse, stoelrog en Persiese klawer in. Dit is wel raadsaam om altyd ’n goeie peulgewas te kombineer met ’n groenvoer-haweraanplanting. Die voordele van ’n peulgewastoevoeging is alombekend, naamlik stikstofbinding, verbetering van die algehele verteerbaarheid van die aanplanting asook ruproteïenverhoging.

Gewone wieke en weiwieke raak al hoe meer populêr onder produsente as ’n peulgewastoevoeging saam met haweraanplan­tings. Die aanbevole saaidigtheid is 5 kg tot 8 kg wieke saam met die hawersaad vir droëlandtoestande en 16 kg/ha onder besproeiing. Dit is ook raadsaam om die wiekekomponent as weiwieke (50%) en gewone wieke (50%) te plant (8 kg + 8 kg). Hoewel weiwieke oor uitstekende hergroeivermoë beskik, is die saad hardskalig en vind kieming oor ’n langer periode plaas in vergelyking met gewone wieke wat sagsadig is en baie vinnig ontkiem en groei. Die mengsel in kombinasie met wieke sal dus verseker dat daar vanaf die eerste weidingsiklus reeds baie benutbare gewone wieke tussen die hawer teenwoordig sal wees.

Kultivars
Agricol is bekend as ’n leier in somer- en winterweidingsgewasse. Produsente kan staatmaak op die volgende hawerkultivars vir kwaliteitgroenvoer hierdie winter:

Pallinup en Dunnart – hierdie lentetipe hawers is gewoonlik ses tot agt weke na plant weigereed en kan ook oorweeg word vir die vinnige produksie van kuilvoer of hooi, maar beide kultivars is veral bekend vir die produksie van ontbytgraan.

Overberg – wat ’n intermediêre tipe hawer betref, is Overberg in ’n klas van sy eie. Die kultivar het ’n laer kouebehoefte as ’n egte wintertipe en sal ook vroeër begin produseer. Overberg is geskik vir produksie onder droëland en besproeiing. Dit kan ook aangewend word vir beweiding, kuilvoer en hooiproduksie.

Magnifico – hierdie egte wintertipe hawer het ’n hoë kouebe­hoefte en produseer normaalweg smaaklike weiding vanaf Mei tot einde September. Een van die kultivar se groot voordele is sy besonder hoë opbrengspotensiaal met betrekking tot groenvoerproduksie, kuilvoer en hooi­produksie. Sien Grafiek 1.

Grafiek 1: Verwagte piekproduksiefases van verskillende kleingrane gebaseer op ’n middel Maart-plantdatum.

Oranjeriviermengsel – die mengsel bestaan uit korog (24%), Pallinup (24%), Overberg (24%) en Magnifico (28%). Agricol het die Oranjeriviermengsel ontwikkel vir volhoubare produksie deur die wintermaande. Aangesien al die komponente in hierdie mengsel in verskillende groeiklasse val, verskil die piekproduksietyd ook vir elke gewas, wat ’n verlengde tyd van produksie beteken. Die mengsel kan as dekgewas tussen boorde en op lande gebruik word asook vir hoëgehalteweiding vir veeprodusente.