Die reëndans

Gepubliseer: 25 Februarie 2021

1366

Beste Grootneef

Op Oujaarsnag het dit vroegaand in beide die ooste en die weste geblits – met die veraf dreuning van onweerswolke op die horison. In die laat nag het die reëndans met enkele druppels op die sinkdak begin. En toe is die hemelse sluise oopgemaak met ’n simfonie van blitse, reën en dreuning in perfekte harmonie.

Op Nuwejaarsdag het die wolke vroegoggend oopgemaak sodat die son ook die wonder kon aanskou. Hoe die vleie loop en die damwal die nuwe water by sy uitlope verby stoot. Die veld was vrolik.

Ou Neef, ’n Nuwejaar met ’n reënbeker wat oorloop, is ons nie elke jaar beskore nie. Die wonderlike is dat die oorvloed van reën nie net tot ons geweste beperk is nie, maar dat die reëndans deur die Kalahari tot in die Noord-Kaap se droogste streke ’n draai gemaak het. Met die Kalahari wat blom, lyk die vragte lusern wat kwalik ses maande terug soontoe aangery is, skielik so nietig. Want die veld se spens loop oor met nuwe weiding in oorvloed.

In die Vrystaat staan die mielies geil. Dit lyk of alles onder besproeiing aan­geplant is. Mooier as al die saadadvertensies in landboublaaie. Met sonneblom netjies in gelid en die vroegstes wat al geel blomkoppe oopmaak. Ou Neef, as jy mooi stilstaan en luister, kan jy vanjaar die graan hoor groei.

Die rooigras staan heuphoogte in die veld. ’n Trop beeste raak letterlik weg in die kamp as hulle vroeg loop lê. Dis eers as hulle lui-lui voor die bakkie se gedreun opstaan dat jy kan sien daar loop beeste in die kamp.

Ou Neef, soms neem ons die gawe van voorspoed as vanselfsprekend. Asof dit uit eie vermoë moontlik is. Maar kan jy net dink hoe hierdie COVID-jaar in die Suidland sou wees met ’n warm, droë seisoen en swak oeste? Laat ons maar stil dankbaar wees vir hierdie uitsonderlike mooi seisoen wat vir vol silo’s en genoeg kos sal sorg.

Hoe meer dae, hoe meer dinge. Buurman vertel anderdag tydens ’n hoekpaalkuier dat hy al vir die laaste paar weke saans ’n sopie van dáái veemedisyne vat. Buurman sê hy voel pure perd. Nie ’n hoesie of kuggie te bespeur nie.

“Maar,” seg Buurman, “die goewerment moet die mense met die wit jasse en die dik brille vra om ’n geen teen COVID in witmielies in te teel.” Buurman vat ’n trekkie aan sy pyp en meet die horison met ’n veraf kyk. “Hoekpaal tot hoekpaal,” beduie hy in al vier windrigtings. “As hulle ’n geen in mie­lies kon inteel om ’n wurm se tande stomp te kry, waarom kan hulle nie ’n geen in mielies laat stapel wat ’n virus die wyk laat neem nie?”

Met dié wenk aan die wêreld se wetenskaplikes, groet Buurman en kies koers na sy bakkie. Met die draai van die aansitter, kom daar ’n vrolike runnik uit die voertuig. Buurman wuif vir oulaas en vat die pad na sy opstal. Die son is aan die sak. ’n Man wil darem betyds vir sy daaglikse sopie medikasie wees. Met eish, ja!

Groete op die oosgrens.

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.