Berging beïnvloed saadkwaliteit só

Gepubliseer: 25 Februarie 2021

1452
Corné van der Westhuizen,
Pannar

Agteruitgang van saad is die verlies aan saadkwaliteit, lewensvatbaarheid en lewenskragtigheid as gevolg van nadelige omgewingsfaktore (Kapoor et al., 2010) en is dus ’n ongewenste en nadelige kenmerk van saad in die landbousektor. Kwaliteitsverliese kan voorkom tydens die produksiefase, verpakkingsfase asook tydens die opbergings- of stoorfase.

Die agteruitgang van saadkwaliteit word hoofsaaklik toegeskryf aan temperatuur, relatiewe humiditeit, saadvoginhoud en die negatiewe inwerking van mikro-organismes en insekte.

Saadagteruitgang word duidelik waargeneem in ’n afname in die ontkiemingspersentasie, ontwikkeling van swak saailinge met swak groeikragtigheid, verlaagde lewensvatbaarheid en uiteindelik­ dooie saad (Maity et al., 2000; Tilebeni & Golpayegani, 2011). Soos reeds genoem kan kwaliteitsverliese tydens die produksiefase, die verpakkingsfase en die berging van saad (beide berging in fabrieke deur die saadverskaffer en berging op die plaas by die finale verbruiker) voorkom.

Tipes kwaliteitsverliese
Kwaliteitsverliese tydens saadproduksie word ook veldverwering genoem. Die oestyd van ’n gewas hang af van die rypwordingstyd en die fisiologiese volwassenheid daarvan. Die voginhoud van saad met fisiologiese volwassenheid is steeds hoog, naamlik 50% tot 55%. Vanweë die hoë voginhoud kan die saad nie dadelik kommersieel geoes word nie. Dit moet vir ’n afdrogingsperiode op die plant gestoor word totdat die vog voldoende verlaag het om meganiese oes toe te laat sonder om die saad onnodig te beskadig. Tydens hierdie afdrogingsfase kan omgewingstoestande ’n groot rol speel in die finale saadkwaliteit. Die fisiologiese ouderdom waarop die saad geoes word, beïnvloed dus die kwaliteit van saad, ontkie­ming, lewenskragtigheid, lewensvatbaarheid en ook opbergbaarheid daarvan (Khatun et al., 2009).

Saadkwaliteitsverliese kan ook voorkom tydens die oes- en hanteringsfases. Verliese tydens hierdie fases kan veroorsaak word tydens die dors van die saad, meganiese prosessering, hantering, droging en vervoer. Meganiese skade tydens hierdie fase het die grootste effek op saadkwaliteitsverlies tydens opberging. Saad wat te droog is tydens prosessering is geneig tot meer meganiese skade. Sodanige skade kan fisiese gebreke wees van noodsaaklike saaddele. Gebreekte saadhuide laat byvoorbeeld vroeë en maklike toegang van mikroflora toe, maak die saad kwesbaar vir aanvalle deur swamme en verminder die opbergingsperiode (Shelar, 2008).

Die saadopbergingsomgewing het ’n besonder groot effek op die langlewendheid en kwaliteit van die saad. Opberging van saad begin reeds so vroeg as wanneer die saad fisiologies ryp is en eindig met ontkie­ming. Die totale opbergingsperiode kan verdeel word in verskillende fases:

  • Berging op die land tydens afdroging (fisiologiese volwassenheid tot oes)
  • Oes tot prosessering (pakhuis)
  • In pakhuis (pakhuis)
  • In transito (padvervoer)
  • In leweringsdepots (pakhuis)
  • Eindverbruiker (plaasstoor)

Die saadmaatskappy het in al hierdie stappe, naamlik die produksie-, verpakkings- en ber­gingsfases streng kwaliteitskontroles in plek met deurlopende kwaliteitstoetse om die finale saadkwaliteit te kan waarborg. Die uitsonde­ring op dié reël is wanneer die finale produk aan die produsent gelewer word en vir lang periodes onder wisselende plaastoestande geberg word.

Faktore wat saadkwaliteit tydens opberging beïnvloed
Tipe saad
Saad se opbergbaarheid word aansienlik beïnvloed deur die soort of tipe saad. Sommige gewasse soos soja-, suiker- en grondbone se opbergbaarheid is aansienlik korter as dié van byvoorbeeld mielies en sekere weidingsaad.

Aanvanklike saadkwaliteit
Saad van goeie kwaliteit met ’n hoë ont­kiemingspersentasie en groeikragtigheid stoor beter as saad van swakker kwaliteit met laer kieming en groeikragtigheid. Saad met ’n hoë kieming kan ook besonder vinnig binne ’n paar maande agteruitgaan wanneer dit onder ongunstige omstandighede opgeberg word. Die belangrike implikasie hiervan is dat slegs saad van hoë gehalte oorgedra moet word van een seisoen na ’n volgende.

Voginhoud
Die hoeveelheid vog in die saad is waarskynlik die belangrikste faktor wat saad se lewensvatbaarheid tydens die opber­gingsfase beïnvloed. Tabel 1 toon die voginhoud en opbergingsperiode van graansaad by temperature laer as 32°C vir saad met ’n baie hoë kieming en groeikragtigheidspersentasie aan die begin van opberging.

Relatiewe humiditeit en temperatuur tydens opberging
Relatiewe humiditeit en temperatuur is verreweg die belangrikste faktore wat die opbergingsperiode van saad bepaal. Saad bereik ’n taamlik spesifieke en kenmerkende voginhoud wanneer dit blootgestel word aan konstante humiditeitsvlakke. Hier word verwys na die ewewigsvogvlak.

Die handhawing van die ewewigsvogvlak tydens opberging is ’n funksie van die relatiewe humiditeit en tot ’n mindere mate tempe­ratuur. By die ewewigsvogvlak vir ’n gegewe humiditeitsvlak is daar nie ’n netto toename of verlies aan graanvog nie. Indien die saad in ’n opbergingsomgewing geplaas word waar die humi­diteitsvlak hoër of laer is as die ewewigsvogvlak van die saad, vind daar ’n netto toename of verlies van vog plaas totdat die saadvog weer ’n ewewigsvogvlak met die nuwe omgewing en saadvoginhoud bereik. Vir saad om die ewewigsvogpunt te bereik is ’n tydsame proses en dit gebeur nie oornag nie. Die tydsverloop hang af van die tipe saad, aanvanklike voginhoud, die gemiddelde relatiewe humi­diteit en temperatuur. Tydens opberging in ’n oop stoor (nie-geseëlde omgewing) varieer saadvoginhoud as gevolg van aansienlik wis­selende humiditeits­vlakke in die omgewing.

Temperatuur speel ook ’n belangrike rol in die langlewendheid van saad. Insek- en swamontwikkeling neem toe met ’n toename in temperatuur binne die normale biologiese aktiwiteitsgrense van saad. Hoe hoër die voginhoud van die saad, hoe meer negatief word die saad deur hoë temperature beïnvloed. Die verlaging van temperatuur en saadvog is dus ’n effektiewe manier om die saadkwaliteit in opberging te handhaaf.

’n Algemene riglyn wat oorsee rakende die storing van saad gebruik word, is dat die somtotaal van die temperatuur (in °F) en relatiewe humiditeit nie die waarde van 100 moet oorskry nie. As die temperatuur van die stoorkamer dus 60°F (15,5°C) is, mag die relatiewe humiditeit nie hoër as 40% wees nie (60 + 40 = 100) (Craven et al., 2018). Wanneer hierdie formule dus toegepas word (met die nodig omskakeling na °C) kan die maksimum relatiewe humiditeit wat by verskillende temperature moet heers, verkry word. Dit sal verseker dat saadkwaliteit nie tydens storing afneem nie. Die verhouding tussen tempe­ratuur en relatiewe humiditeit kan grafies uitgedruk word soos in Grafiek 1. Indien ’n stoor ’n gemiddelde temperatuur van 35°C het, mag die relatiewe humiditeit binne die stoor nie hoër as 5% wees nie (Craven et al., 2018).

Grafiek 1: Maksimum toelaatbare relatiewe humiditeit by verskillende temperature om die vinnige agteruitgang van saad te verhoed.
Bron: SA Graan/Grain, Maart 2018, Craven et al.

Algemene beginsels by saadopberging
Die volgende beginsels moet toegepas word om goeie opberging te bewerkstellig:

  • Opbergingstoestande in die stoor moet droog en koel wees.
  • Daar moet effektiewe insekbeheer in die saadstoor wees.
  • Toepaslike sanitering van die saadstoor is noodsaaklik.
  • Graanvog moet toepaslik wees vir die tipe opberging.
  • Slegs saad van goeie kwaliteit met goeie kieming, groeikrag­tigheid en ’n goeie produksie/verpakkingsgeskiedenis moet geberg word.

Konstruksie-eienskappe vir ’n goeie saadstoor

  • Die stoorkamer moet geen vensters hê nie, met slegs een deur wat toepaslik geseël en gesluit kan word.
  • Fondasie moet van klip of sement en 90 cm bo die grond­vlak wees. Materiaal vir die mure kan van steen, sement, hout of metaal wees.
  • Die vloer moet geteël wees en enige krake wat vorm, moet geseël word.
  • Konstruksie van die vloer, muur en dak moet sodanig wees dat geen krake kan vorm waarin insekte kan skuil nie. Alle gapings rond­om kragpunte, bedrading, ventilasie en deure met geseël wees.
  • Ventilasie-openinge moet ontoeganklik wees vir insekte en voëls.

Saadstoorbestuur
Daar is ses hooftipes organismes geassosieerd met saad in berging, naamlik swamme, bakterieë, insekte, myte, voëls en knaagdiere. Goeie sanitering in die saadstoor word benodig om te help teen insek- en knaagdierbeheer. Enige saad wat gemors het, moet opge­vee en verwyder word weg van die bergingsarea. Vir knaagdier­beheer in die stoor moet stasies met chemiese lokaas gebruik word. Die vloer en mure kan ook gereeld met ’n nawerkende insekdoder gespuit word. Vir die oordrag van saad van een seisoen na ’n volgende, kan die saad in die stoor of verkieslik onder ’n seil berook word. Doen enige insekgifbespuitings, chemiese knaagdierbeheer en beroking in oorleg met ’n toepaslike chemiese agent.

Soos reeds genoem, is temperatuurbeheer in die saadstoor een van die omgewingsfaktore wat ’n uiters groot uitwerking op die lang­lewendheid van saad het. Hoe laer die tempertuur, hoe langer handhaaf die saad sy kiemingspersentasie en groeikragtigheid. Met die konstruksie van die saadstoor moet aandag dus gegee word aan ventilasie en indien moontlik (by langtermynberging van saad) verkoeling. Dit moet ook geïsoleer wees teen temperatuurskommelings.

Bronne

    1. Astegar, ZR, Sedghi, M & Khomari, S. 2011. Effects of accelerated aging on soybean seed germination indexes at laboratory conditions. Not Sci Biology, 3(3), 126 – 129.
    2. Balesevic-Tubic, S, Maleneiae, D, Tatiae, M & Miladinovic, J. 2005. Influence of aging process on biochemical changes in sunflower seed. Helia, 28(42), 107 – 114.
    3. Bhatia, VS, Yadav, S, Jumrani, K & Guruprasad, KN. 2010. Field deterioration of soybean seed: Role of oxidative stress and antioxidant defence mechanism. Journal of Plant Biology, 32(2), 179 – 190.
    4. Biabani, A, Boggs, LC, Katozi, M & Sabouri, H. 2011. Effects of seed deterioration and inoculation with Mesorhizobium cicerion yield and plant performance of chickpea. Australian Journal of Crop Science, 5(1), 66 – 70.
    5. Copeland, LO & McDonald, MB. 2001. Principles of Seed Science and Technology. Kluwer akademiese uitgewers, Boston, p.330.
    6. Farhadi, R, Rahmani, MR, Salehi-Balashahri, M and Sadeghi. 2012. The effect of artificial ageing on germination components and seedling growth of Basil (Ociumum basilicm.) seeds. Journal of Agriculture and Food Technology, 2(4), 69 – 72.
    7. Ghassemi-Golezani, K, Bakhshy, J, Raey, Y & Hossainzadeh-Mahootchy, A. 2010. Seed vigor and field performance of winter oilseed rape (Brassica napus L.). Cultivars. Not. Bot. Hort. Agrobot. Cluj., 38(3), 146 – 150.
    8. Jatoi, SA, Afzal, M, Nasim, S & Anwar, R. 2001. Seed deterioration study in pea, using accelerated ageing techniques. Pakistan Journal of Biological Sciences, 4(12), 1490 – 1494.
    9. Kapoor, N, Arya, A, Siddiqui, MA, Kumar, H & Amir, A. 2011. Physiology and biochemical changes during seed deterioration in aged seeds of rice (Oryza sativa L.). America Journal of Plant Physiology, 6(1), 28 – 35.
    10. Kapoor, R, Arya, A, Siddiqui, MA, Amir, A & Kumar, H. 2010. Seed deterioration in chickpea (Cicer arietinum L.) under accelerated ageing. Asian J Plant Sci., 9(3), 158 – 162.
    11. Kibinza, S, Vinel, D, Come, D, Bailly, C & Corbineau, F. 2006. Sunflower seed deterioration as related to moisture content during ageing, energy metabolism and active oxygen species scavenging. Physiologia Plantarum, 128(3), 496 – 506.
    12. Krishan, P, Nagarajan, S, Dadlani, M & Moharir, AV. 2003. Characterization of wheat (Triticum aestivum L.) and soybean (Glycine max L.) seed under accelerated aging condition by proton nuclear magnetic spectroscopy. Journal of Seed Science Technology, 31, 541 – 550.
    13. Mohammadi, H, Soltani, A, Sadeghipour, H & Zeinali, E. 2011. Effect of seed aging on subsequent seed reserve utilization and seedling growth in soybean. International Journal of Plant Production, 5(1), 65 – 70.
    14. Shelar, VR, Shaikh, RS & Nikam, AS. 2008. Soybean seed quality during storage: A review. Agricultural Review, 29(2), 125 – 131.
    15. Simic, B, Popviae, R, Sudaric, A, Rozman, V, Kalinovic, I & Cosic, J. 2007. Influence of storage condition on seed oil content of maize, soybean and sunflower. Agriculturae Conspectus Scientificus, 72(3), 211 – 213.
    16. Verma, SS, Tomer, RPS & Verma, U. 2003. Loss of viability and vigor in Indian mustard seeds stored under ambient conditions. Seed Res., 31(1), 98 – 101.
    17. Int. J. LifeSc. Bt & Pharm. Res. Vol. 2, No. 3, July 2013. Seed deterioration: a review.
    18. Jyoti and Mirza Hasanuzzaman, PhD. Department of Agronomy, Sher-e-Bangla Agricultural University. Seed storage.
    19. Craven, M, Van der Wat, M & Saayman-du Toit, J. Saadgrootte, kieming en groeikragtigheid van mielies bekyk. SA Graan/Grain, Maart 2018.