Wie dink jy is jy?” was die woorde wat ons Minister van Polisie, Generaal Bheki Cele, ’n boer die ander dag toegesnou het. Ek ken nie die boer nie en weet nie presies wat al die omstandighede was waarin die situasie afgespeel het nie, maar uit die aard van my werk verteenwoordig ek boere en daarom het ek my die smalende opmerking aangetrek.
Ek het dae en nagte daaroor nagedink en die vraag oor en oor in my gedagtes probeer beantwoord. Die nag na die Senekal-insident kon ek nie slaap nie. Ek het oor die generaal se woorde nagedink en sy vraag probeer beantwoord. Dit wat hierna volg, is my beste poging, Generaal:
My naam is Jannie, Generaal. Ons het so ’n paar keer ontmoet toe jy die Adjunkminister van Landbou was. Soos jy neem ek ook verantwoordelikhede in hierdie land op. Dalk nie so groot soos joune nie, maar ek vorm ’n skakel in die ketting wat vir ons mense kos op die tafel sit. Die deel waarvoor ek spesifiek verantwoordelikheid neem, is die graan. Dis nou die pap en brood wat ons mense eet en die voer wat die diere vreet sodat ons kan braai en KFC by vergaderings geniet. Selfs die kaas op die borde na jou fênsie driegangaandete, word gemaak van die melk wat beeste gee wat ons mielies vreet.
Ek is nie elke dag op die TV en in die koerante en voor die kameras by moordtonele of in die townships tussen die mense nie – maar sien, Generaal, die kos wat ons geproduseer het, is daar. Jy sal dieselfde kos ook in die eetsale vind daar by die Zondo-kommissie, wat al die onreg moet aanhoor wat teenoor ons mense gepleeg is. Jy sien, Generaal, kos is oral en ons het dit geproduseer. Dis wie ons is, nie wie ons dink ons is nie.
Dis ons vrouens, Generaal, wat die siek plaaskinders dorp toe aanry – selfs in die nag. Dis hulle wat buite die skoolhekke sit en bid vir die kinders … en vir die onderwysers om ’n nuwe geslag op te voed wat nie sal steel en korrup sal wees nie. ’n Volgende geslag wat ander nie sal vermoor en hulle eiendom vernietig nie. Wat sal opstaan in die nag om ’n koei te gaan help kalf en ’n planter te kalibreer om ’n beter oes te lewer sodat daar genoeg kos is vir ons mense – en ook vir jou kinders, Generaal! Dis ons vrouens wat vir die mense op die plaas leer lees en naaldwerk doen om hulle menswaardigheid te herstel. Ons leer hulle van Jesus wat hulle sondes vergewe en wat vir almal ’n nuwe lewe kan gee. Ons bid saam met hulle vir reën as die son neerbak op die Afrika-kontinent en die oeste wegbrand. Ons sing en dans saam met hulle as daardie reënbui uitsak oor droë mielielande. Dis ons, Generaal, wat ’n baal voer daar langs die township afgelaai het in die winter vir die beeste wat so maer is en rondswerf tussen die vullis op soek na kos. Ons slaan brande dood wat ander mense aangesteek het. Dis wie ons is, Generaal, nie wie ons dink ons is nie.
Vir ons wat in die kantore werk … Wel, Generaal, ons het laas nag en die naweek gesit en besigheidsplanne skryf en insette bestel vir ons swart boere in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap sodat hulle op hul een hektare mielies kan plant. Dis al kos wat hulle waarskynlik dié jaar sal kry. Sien, daai vrouens kyk uit vir ons bakkies wat oor die bult kom met die insette, sodat hulle kan kos produseer vir hulleself. Hulle kyk nie juis uit vir jou blink, swart kar met die blou ligte nie, want hulle weet jou woorde en beloftes is leeg en maak nie hulle mae vol nie. Ons leer hulle van bewaringslandbou en kalibreer en hoe om tegnologie te gebruik sodat hulle hul menswaardigheid kan terugkry. Dis wie ons is, Generaal, nie wie ons dink ons is nie.
As jy my naam by SARS gaan opsoek, sal jy sien dat ek elke maand sedert Januarie 1985 my belasting betaal het. Ook by Tshwane se munisipaliteit sal jy sien dat my water-en-ligte-rekening op datum is, al gooi hulle soms nie my asblik uit nie en al brand my straatlig nie. Ek betaal selfs e-tol – baie dae weet ek nie meer lekker waarom nie. Ek het geen uitstaande verkeersboetes teen my naam nie en ek was nog nooit in my lewe in die hof vir ’n oortreding nie. Dis dalk waarom jy nie heeltemal seker is wie ek is nie.
Ek sou jou graag meer wou vertel, Generaal, maar ek dink tog dat ek jou smalende vraag op my eenvoudige manier probeer beantwoord het. Ons bid vir jou, Generaal, vir wysheid om jou groot en belangrike werk te doen, sodat ons almal veilig kan wees om ons rol te vervul om kos te voorsien vir jou en al ons mense.