Chemiese en organiese kunsmis saam beste N-bron

Hein Barnard, VS Agri
Gepubliseer: 9 Julie 2020

3169

VS Agri is uniek in die sin dat die maatskappy oor die vermoë beskik om enige tipe voedingsbron te verskaf om sodoende in elke denkbare voedingsbehoefte te voorsien. Elke produsent het sy eie voorkeure of afkeure wanneer dit kom by bemesting of ’n onwrikbare geloof in ’n sekere produk.

Plantvoeding – die beste van drie wêrelde
Die grondslag bly natuurlik deeglike grondontledings ten einde die voedingstatus van die grond te bepaal. Daarna volg die gewas- en grondspesifieke aanbevelings asook die keuse en samestelling van spesifieke voedingsbronne om in die plant se behoeftes te voorsien. Die fokus in hierdie artikel val meer spesifiek op Avison (organiese en halforganiese kunsmis) asook ammoniak as stikstofbron.

Avison – die beste van twee wêrelde
Organiese bemesting, hetsy deels of ten volle, is deesdae een van die gonswoorde in landbou. Almal streef na volhoubaarheid – veral na winsgewende produksie, maar natuurlik ook na die onderhoud en versorging van die grond.

Die voordele van organiese bemesting is legio, maar die belangrikste kan as volg saamgevat word:

  • Dit bevorder mikrobelewe in die grond – die algemene gesondheid en vrugbaarheid van gronde word bevorder.
  • Organiese materiaal (koolstof) word toegevoeg.
  • Voedingstowwe word deurlopend en oor ’n langer tydperk deur die seisoen beskikbaar gestel.
  • Mikro-elemente word aangevul – hetsy deur die hoendermis of wat andersins addisioneel toegevoeg word.

Gefermenteerde hoendermis is die basis van die Avison-reeks se produkte en beslaan óf 100% van die produk óf nagenoeg 40% waar chemiese produkte bygevoeg word. Die groot voordeel van hierdie reeks produkte is dat letterlik enige voedingselement deel kan uitmaak van ’n spesifieke mengsel.

Die beste van twee wêrelde – chemiese voedingselemente wat dadelik beskikbaar is vir plantopname asook voedingselemente wat deurlopend deur die groeiseisoen vrygestel word vir opname.

Ammoniak – die beste van een wêreld
Ammoniak (NH3-gas) het as stikstofbron nie sy gelyke nie. Die toediening van NH3-gas direk in die grond is ’n praktyk wat al jare in die landbou toegepas word. NH3 (vloeistof onder druk in spesiale drukhouers) word by die regte grondvogtoestande agter ’n tandimplement onder die grond as gas toegedien (dit gaan oor in gasvorm met vrylating en sit dan 825 keer uit). Die NH3 reageer met water om NH4+ (positiewe lading) te vorm, wat dan aan die negatief gelaaide grondkolloïde geadsorbeer word. Hierdie is ook een van die redes waarom verliese weens loging minimaal plaasvind. Stikstof in die vorm van NH4+ asook in die vorm van NO3 (laasgenoemde is wel blootgestel aan loging weens die negatiewe lading) is beskikbaar vir plantopname.

Avison-kunsmis bied die beste van twee wêrelde – chemiese voedingselemente wat dadelik beskikbaar is vir plantopname, asook voedingselemente wat deurlopend deur die groeiseisoen vrygestel word vir opname.

Die ideaal bly om NH3 vóór plant toe te dien, maar dit kan ook met groot sukses as topbemesting aangewend word. Prakties werk ammoniak uitstekend in kombinasie met organiese en/of chemiese kunsmis, waar die kunsmis vooraf uitgestrooi word (meestal deur besproeiing) en die toediening van gas daarna volg. Die stikstof en ander voeding wat die plant benodig vir optimale groei is dan reeds in die grond en lê gereed om opgeneem te word.

Aanvullende voordele van ammoniak kan as volg opgesom word:

  • Dis die mees ekonomiese stikstofbron (82%-konsentrasie).
  • Daar is minimale loging, dit is dus langer beskikbaar vir plant­opname.
  • Dit lewer ’n bydrae tot aalwurmbeheer.
  • Dit dra ook by tot springhaasrotbeheer.
  • Die slotsom is: verbeterde opbrengs en kwaliteit.

Pro Gas Solutions help produsente reeds vir die afgelope tien jaar om die volle voordele van ammoniak te benut. Die maatskappy roem hulle op die korrekte toepassing van die tegnologie en die produsent word deurentyd gedurende die proses ondersteun om die korrekte toediening en kalibrasie van toerusting asook veiligheid te verseker.

’n Wenkombinasie – die beste van drie wêrelde met ammoniak as stikstofbron in kombinasie met chemiese en organiese kunsmis.