Gewoonlik sou ek hierdie tyd van die jaar iets oor NAMPO geskryf het. Vandag (begin April) sit ek in my huiskantoor en probeer my bes om steeds ’n verskil te maak in die Covid-19-omgewing met al sy inperkinge. Ek lees wat die manne met die dik brille skryf oor hoe die wêreld na Covid-19 gaan lyk en probeer verstaan wat ons nou te doen staan.
Wat ek ten minste nou reeds besef, is dat niks ooit weer dieselfde gaan wees nie. Die geskiedenis sal sekerlik die detail opskryf oor alles wat gebeur en wat verander gaan word. Een grondbeginsel is egter dat mense nog steeds sal eet en dat kos geproduseer moet word. Handel tussen lande gaan beslis beïnvloed word en verwerkers gaan waarskynlik anders na hulle verskaffers kyk asook na die roetes wat die insette moet aflê voor dit by die fabrieke uitkom.
Alhoewel daar beslis ’n impak op landbou gaan wees, dink ek daar gaan ook ’n groot impak op georganiseerde landbou wees. Toe die inperkingstydperk aanbreek, was dit tyd vir produsente om op die knoppie van georganiseerde landbou te druk. Dit is soos ’n versekeringspolis. ’n Mens huil gereeld oor die premies, maar jy besef deeglik as jy dit die dag nodig het, jy baie dankbaar is jy het dit betaal. Die wat dit nie het nie, kyk dan wild rond en deel maar net beskuldigings uit. Ten skrywe hiervan het ek die volgende waargeneem:
- Die samewerking op die hoogste vlak was uitstekend. Ons het die inligting gedeel, dit is nie bevraagteken nie en die besluite is geneem en oornag in die Staatskoerant gepubliseer. Dit was wonderlik. ’n Mens wonder onwillekeurig hoekom dit nie altyd so kan wees nie. Een gesamentlike visie en doel en siedaar!
- Landbou is besonder goed georganiseer. Ons inligting is van hoë gehalte, dis beskikbaar en ons netwerke word deur bekwame, kundige mense bestuur. Navrae kan onmiddellik beantwoord word en die kwaliteit van die inligting is uitstekend. Ons is nie ver verwyder van grondvlak nie.
- Ons het ’n reusebate in BFAP (die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid). Die data en die modelle wat hulle het, kan saam met hul kundige mense elke moontlike scenario bepaal. Dit gee baie vertroue in die beleidsbesluite wat geneem moet word.
- Die Graan SA-kantoor kon binne dae na ’n mobiele, virtuele eenheid omgeskakel word om produktiwiteit te handhaaf. Ja, ek mis my direkte ondersteuning in die kantoor om te help telefoon antwoord en mense verwys, in plaas daarvan om alles eers uit te luister en dan in elke geval te moet verwys. Na Covid-19 gaan die manier waarop ons as organisasie werk waarskynlik ook nie weer dieselfde wees nie. Ons netwerke van mense en vloei van inligting kon ongestoord voortgaan.
- Dit is ’n ideale tyd om te sien wie hand opsteek as daar ’n krisis is. Dis wanneer mense se ware kleure na vore kom in terme van kundigheid en vermoë om aan te pas. Vinnige besluite beteken jou kennis moet nie iewers op ’n rekenaar of by tannie Google wees nie. Jy moet dit op jou vingerpunte hê – om met ’n verskeidenheid van los brokkies inligting te kan prentjies maak en oplossings bied vir die probleme wat in die pad van ’n land se voedselsekerheid staan.
- Ons verwys dikwels daarna dat mense ons belangrikste bate is. Dit is so. Die onderlinge verhoudinge en kundigheid van mense is dit wat ons deurtrek. So ook ons geloof. Stelsels en infrastruktuur kan net werk as mense dit bedryf. Landbou het ’n groot bate in ons mense, wat nie net passievol daaroor is nie, maar oor die verhoudings beskik om dit te maak werk.
Ek vertrou dat die omstandighede so sal verander dat ons wel later vanjaar NAMPO sal kan aanbied. Hopelik kan ons dan lekker oor ’n koppie koffie of so iets gesels oor hoe ons as land Covid-19 oorkom het. Welgedaan, SA Landbou (Edms.) Bpk.!