Nuwe kultivar vir besproeiing verras

Gepubliseer: 26 Februarie 2020
AJ Steyn, Pioneer SA

2972

Die ultravinnige, geel besproeiingsbaster P1197YHR asook P1197R en P1197 is die afgelope seisoen vir die eerste keer in Suid-Afrika aangeplant, as gevolg van die kultivar se indrukwekkende prestasies van tot 33 t/ha in opbrengskompetisies in die VSA. Die geskiedenis het egter al bewys dat kultivars van elders wat hier getoets word, nie altyd dieselfde prestasie handhaaf nie as gevolg van geografiese voorkeure vir grond- en klimaatstoestande. Die verrassing was dus aangenaam met strooptyd toe dié kultivar wel uitstekend presteer het in vergelyking met bewese bestaande kultivars in Suid-Afrika. Dit is ook redelik wyd in die besproeiingsareas geplaas en het konstant oor ’n uiteenlopende reeks grondsoorte presteer.

Plantgrootte en kop:plant-verhouding
Omdat die kultivar as ’n ultrakort groeier beskou word, is dit aangeplant teen tussen 90 000 en 100 000 plante per hektaar. Die kultivar presteer geweldig goed onder besproeiing en teen hierdie populasies. Plantestand sal in die komende seisoen meer breedvoerig ondersoek word.

Die plantgrootte is medium en die kop:plant-verhouding is ± 40%. Die plant droog egter vinnig af aan die einde en krimp baie ineen. Dit is hier waar die kultivar se spoed eintlik tot sy reg kom. Die afgedroogde plante is relatief klein en verloor baie plantmateriaal bokant die koppe teen strooptyd. Dit moet dus betyds gestroop word om te verhoed dat die plant té droog word, degenereer en koppe verloor.

Omdat die algemene rywydte onder besproeiing 0,75 m is, sal ’n stand van 95 000 ideaal wees. Daar moet egter nie minder as 90 000 in 0,91 m-rye aangeplant word nie. Indien die stand onder vol besproeiing laer as 90 000 is, kan opbrengs afneem omdat daar minder kompensasie op kopgrootte by die P1197-platform voorkom as by ander kultivars, soos byvoorbeeld 31D22YR.

Wat maak van P1197YHR ’n wenkultivar?
Tydens die 2018/2019-seisoen is P1197YHR ingesluit by ’n redelike aantal proewe in die Noord-Kaapse besproeiingsgebied. Die opbrengsdata het sy prestasie bevestig deurdat die kultivar bykans al die proewe waar dit ingesluit was, gewen of baie naby aan die wenkultivar presteer het (sien Grafiek 1).

Grafiek 1: Die gemiddelde opbrengste behaal in die 2018/2019-seisoen word in ton per hektaar aangedui in die wit blokkie bo die histogram. Die oranje blokkie dui die aantal proewe aan, terwyl die geel blokkie gemiddelde vog by stroop aantoon.

Die P1197-platform het ’n besonder goeie “staygreen”-eienskap wat verseker dat fotosintaat vir langer na die pitte gekanaliseer word. Hierdie baster vereis goeie bestuur. Deur byvoorbeeld rooispinmyt so goed moontlik te beheer, kan die volle opbrengspotensiaal verseker word.

Kultivareienskappe word op ’n skaal van 1 tot 9 beoordeel waar 1 swak of min is en 9 goed of baie. Vir stamsterkte asook staanvermoë word ’n 8 toegeken – wat dit twee baie positiewe eienskappe vir ’n besproeiingsbaster maak. Soos reeds genoem is, word die kop nie te hoog gedra nie, wat die omvalrisiko baie klein maak.

In vergelyking met kultivars tans in gebruik in besproeiing, is die afdroging van P1197YHR besonder vinnig. Hiervoor word ’n 8 toegeken, wat die kultivar by uitstek geskik maak vir aanplanting na ko­ring. Dit is 0,6% droër by stroop (oor 10 vergelykings) as byvoorbeeld P1184YR, wat tot dusver die vinnigste geel kultivar by Pioneer was. Die P1197-platform beskik oor ’n baie mooi graan en pitgewig wat bydra tot die goeie opbrengste. In al die proewe was graankwaliteit uitstekend.

Siektepakket
Omdat hierdie ’n tipiese, vinnige “corn-belt”-baster is, sal daar in areas met ’n hoë siektedruk voorkomend bespuit moet word vir blaarsiektes. Soos verwag, word ’n 5 vir noordelike blaarskroei, ’n 3 vir grysblaarvlek en ’n 5 vir bruinroes toegeken. Die kultivar se toleransie vir kop- en pluimbrand is aanvaarbaar.

Opsomming
Die P1197-platform is ’n bestuursbaster waarmee uitstekende opbrengste behaal kan word. Wanneer daar ’n beperkende faktor, byvoorbeeld te min water of katioonwanbalanse in die grond is, is dit waarskynlik nie die regte kultivar om te gebruik nie. Dié baster sal presisieboerdery komplementeer en sal nie teleurstel in terme van opbrengs indien die beperkende faktore uitgesorteer is nie.