Maart-maand is Kongres-maand. Die Graan SA-leierskap en -personeel deurkruis die land om op grondvlak met die lede te praat en te luister. Daar word terugvoer gegee en saam planne gemaak oor wat ons kan doen om produsente volhoubaar te maak. Ons kuier soms tot laat in die aand en luister ook mooi na die harte van mense. Ons hoor van boerderyprobleme en ook die seer van die platteland. Ons land en sy mense kry swaar, oral!
Die binneland het goeie reën gekry en die vooruitsigte vir ’n beter oes is beslis daar. Selfs in die suidelike dele van die Wes-Kaap was daar op plekke goeie reën wat elke graanprodusent hoop gee. Aan die weer en die pryse van ons graan, kan Graan SA maar min doen. Tog luister ek met hoop na die entoesiasme waarmee die navorsers praat oor die werk wat hulle doen om die risiko’s van klimaatsverandering beter te probeer verstaan en om oplossings te soek om hierdie risiko’s beter te bestuur. Net toe ek mooi begin dink dat die ekonomie (winsgewendheid) en klimaat ’n groter bedreiging as grondhervorming vir graanprodusente inhou, steek onteiening sonder vergoeding (EWC) weer kop uit. ’n Nuwe gedagte om die howe uit die proses te haal wanneer oor vergoeding gepraat word, kan mos nooit reg wees nie. Elke mens moet die reg hê om sy saak iewers te stel waar onafhanklikheid die besluitnemer is.
Terwyl die proses om die Grondwet te verander maande neem en seker ook miljoene kos, moet produsente die weer en die ekonomie trotseer. Ons eerste prioriteit moet bly om volhoubaar te boer, eerder as om ons oog net op die politieke speelbal van onteiening sonder vergoeding te hou. Daar is ’n gedugte span kundiges wat die EWC-proses volg en ons saak stel. Die samewerking met die regering om nuwe planne te maak om die landbou (en die ekonomie) te laat groei, is beslis ook rede vir nuwe hoop. Landbou is goed georganiseer en die leiers werk saam om vir die regering aan te dui wat eerste aandag moet kry. Nuwe internasionale markte en beter biosekuriteit sal help dat ons meer kan produseer en uitvoer.
Baie jare gelede het ek graag die program The A-Team op televisie gekyk. Die uiteinde van elke program was basies dat die helde wen en dan het die spanleier afgesluit met die boodskap dat hy daarvan hou as ’n plan tot uitvoering kom.
So ’n plan van Graan SA, wat ek fyn dophou, is die een om nuwetegnologiesaad vir ons produsente te bekom, om mededinging in die bedryf te verhoog en om beter saadpryse en diens te kry. Die eerste aanduidings is dat die eindpunttantieme-strategie alreeds tot heelwat nuwe koringkultivars gelei het en dat nuwe saadmaatskappye hulle vlerke in Suid-Afrika begin sprei. Die saadpryse van sojabone het betekenisvol verlaag en daar is heelwat nuwe tegnologiebeloftes in die pyplyn wat ons almal opgewonde maak.
Ek wil graag afsluit deur erkenning te gee aan twee van ons personeellede wat verlede maand uit diens getree het. Jane McPherson en dr Willie Kotze het vir baie jare aan die hoof van ons ontwikkelende boere se program gestaan. Toe ek by Graan SA aangesluit het, was hulle alreeds hier. Hulle het met ywer, passie en vindingrykheid vir die landbousektor gewys hoe moeilikhede oorkom kan word en dat nuwe boere ’n kommersiële opbrengs kan behaal – selfs op ’n klein stukkie grond. Jane en Willie, ons salueer julle!