Wiele
Indiese waarde vir geld
Jannie Rossouw, motorliefhebber en besoekende professor, Wits Besigheidskool
Gepubliseer: 31 Julie 2024
Indië het in 2022 die mylpaal as die land met die grootste bevolking ter wêreld bereik en is tans ook die wêreld se vyfde grootste ekonomie.
Ek is dus nie verbaas dat Indië ’n groot voertuigvervaardiger is nie. Afgesien van ander modelle wat daar vervaardig word, is Indië natuurlik bekend vir die Mahindra.
Mahindras word reeds vir meer as 20 jaar in Suid-Afrika verkoop. Kyk rond, want iewers in die omgewing is ’n ou Mahindra wat nog elke dag hard en pligsgetrou werk. Hierdie voertuie het hul reputasie in Suid-Afrika gevestig.
Party van hierdie harde werkers kom uit Mahindra se monteringsaanleg in KwaZulu-Natal, wat bydra tot plaaslike werkskepping.
Met ’n uitstekende reputasie vir betroubaarheid, is ek nie verbaas om te sien dat 1 163 Mahindras in Maart 2024 in Suid-Afrika verkoop is nie. Hulle het ’n omvattende reeks handelsvoertuie wat alle smake, sakebehoeftes en sakke pas.
Die Bolero-bakkie is die intreemodel teen ’n prys van R208 099 (Mei 2024). Geen ander werkesel in die Suid-Afrikaanse bakkiemark kan met hierdie prys meeding nie.
Hulle bakkiereeks sluit natuurlik ook die Karoo-dubbelkajuitbakkie (spesiale uitgawe) in. Plaaslik is dit die topmodelbakkie van hierdie vervaardiger. Die prys van die Karoo-bakkie wissel tussen R628 099 en R643 099 (Mei 2024), afhangend van spesifikasies. Die reeks het spesiale name soos Dawn, Dusk en Storm, afhangend van die kleur van die bakwerk.
Ek het met die topmodel-Karoo met ’n outomatiese ratkas gery en was verbaas wat die voertuig teen hierdie prys vir kopers bied. Hier is inderdaad ’n waardeproposisie vir kopers in moeilike ekonomiese tye. Die Karoo gee die indruk van onstuitbaarheid op alle padoppervlakke.
Mahindra verkoop ook drie verskillende sportnutsvoertuie in Suid-Afrika. Die intreevlak XUV 300 se prys is R271 099 (Mei 2024) en die topmodel Scorpio N verkoop teen R608 199 (Mei 2024). Laasgenoemde het besonder goed gevaar in Suid-Afrika se jaarlikse Motor van die Jaar-kompetisie, te midde van strawwe mededinging.
Ten spyte van die wisselvallige wisselkoers van die rand, is daar nog waarde vir geld in die Suid-Afrikaanse motormark vir diegene wat rondkyk. Mahindra verstaan dat kopers onder finansiële druk is en bied gehaltevoertuie vir diegene wat daarna soek.
Hatfield Motor Group se Mahindra-tak in Woodmead het die Karoo-dubbelkajuitbakkie vir doeleindes van hierdie artikel beskikbaar gestel.