Voorspel jou kuilvoer se snyvenster só

Philip Fourie, Pioneer-landboukundige
Gepubliseer: 30 Oktober 2025

528

Mieliekuilvoer is die belangrikste deel van ’n gebalanseerde voerkraal- of melkeryrantsoen. Die stysel in mieliekuilvoer is die energiebron van die rantsoen en ook die goedkoopste vorm van stysel.

Van die belangrikste faktore vir kuilvoer van goeie kwaliteit sluit in:

  • sny teen die regte vogpersentasie, met ander woorde die droëmateriaalwaarde (DM-waarde);
  • bunkerkompaksie; en
  • die tydsduur vanaf kerf tot toemaak van die kuilvoerbunker, met ander woorde die afsluit van suurstof.

Die belangrikste faktor is egter die regte tyd vir kerf en kuilvoer maak.

Pioneer Saad het die afgelope drie jaar ondersoek ingestel na die gebruik van ’n kuilvoermodel om snytyd te voorspel vir Suid-Afrikaanse kuilvoerprodusente.

Om die prentjie beter in te kleur is dit nodig om ’n tree terug te gee en net eers na die agtergrond van snytyd te kyk.

Melklyn
Om te bepaal wanneer die regte tyd is om mielies te sny, is dit nodig om vas te stel waar die melklyn op die kop is. Dit bly die maklikste uit-die-bakkie-op-die-land-manier om snytyd vas te stel. Die ideaal is om te sny vanaf 50%-melklyn. Teen 50%-melklyn behoort die DM-waarde 35% te wees.

Figuur 1. Verskil tussen die optimale en nie-optimale snyvenster.

Wat is die nadele verbonde aan die melklynbepaling?

  • Spilpunte is gewoonlik homogeen en maklik, maar droëlande is nie so eenvoudig nie.
  • Fisiese landinspeksies vanaf dag 95 behoort vyfdaagliks plaas te vind, en nader aan 50%-melklyn moet inspeksies driedaagliks gedoen word.
  • Op droëland is daar heelwat variasie tussen grondvorms en potensiale, en selfs meer waar kontoere ter sprake is.

Dit bly noodsaaklik om steeds die DM-toets in ’n lugbraaier of mikrogolfoond te doen. Dit bevestig hoe akkuraat die melklyn bepaal is. Die air fryer-toets is ’n standaardmanier wat gebruik word om die DM-waarde vas te stel en neem gewoonlik 30 tot 35 minute per monster.

Goeiegehalte- en homogene kuilvoer
Goeiegehalte- en homogene kuilvoer verhoog voerinname. Die gehalte en homogeniteit verminder pH-fluktuasies in die rumen. Veranderlike pH’s veroorsaak dat die diere meer tyd spandeer aan herkou om die pH te stabiliseer, wat lei tot verminderde voerinname en swakker groei of lae melkproduksie. Vra jouself af: As jy die dier was, sou jy die smaakliker of minder smaaklike voer wou vreet? Jou hoofdoel as bestuurder is om maksimum voerinname te verseker.

Snytydvenster-voorspelling

    1. Wat is die doel agter die gebruik van Granular Link om die snytydvenster te voorspel?

    2. Dis ononderhandelbaar om meer homogene kuilvoer van beter gehalte in die bunker te kry.
    3. Dit verminder die logistieke nadele van landevaluasies ten opsigte van melklynbepaling.
      1. Jy gaan nie fisiese melklynbepaling weggooi nie, maar dit eerder net op die vooruitgeskatte datums doen.
      2. Deur dit só te doen, bou jy ’n addisionele kontrole vir jouself in om te verseker dat die model korrek is.

Die toekoms in kuilvoerproduksie
Die model gebruik satellietbeelde vanaf dag 1, maar voorspellings vind eers plaas vanaf die 60ste dag na aanplanting. In die meeste gevalle begin produsente ultra-vinnige basters in Suid-Afrika sny vanaf 106 dae, wat beteken dat die model die skattings binne die daaropvolgende 50 tot 70 dae bepaal.

Die aanbeveling neem die volgende in aanmerking:

  • Die mieliebaster wat geplant is (groeilengte)
  • Die beskikbare landinligting (NDVI en ander indekse)
  • Effektiewe worteldiepte (gronddiepte)
  • Die weerdata tydens die groeisiklus
  • Plantestand
  • Besproeiing of droëland

Aanbeveling
Met alles in die vorige paragraaf in ag genome, word ’n snyvenster aanbeveel met verwysing na verskillende DM-waardes.

Wat is die voordele van die gebruik van die model?

  • Jy kan in die gerief van jou kantoor jou snytyd begin beplan sonder om onnodige tyd op die landery self te spandeer.
  • Melklynbepaling word net gebruik as bevestiging van die model se voorspelling.
  • Snykontrakteurs kan voortydig bespreek word; die gehalte van die kuilvoer sal verhoog word deur dit nader aan die regte DM% te sny.
  • 32% DM mag dalk net te nat wees om te begin sny, maar dit help om tydige beplanning te verbeter.

Droëlandaanbeveling
Die toekoms van mielieverbouing in Suid-Afrika lê daarin om aan die tegnologiese voorpunt te wees en daar te bly. ’n Verhoging in opbrengs vind plaas deur klein positiewe inkremente. Dit is hoekom daar na presiese verbouing oorgeskakel word om die meeste uit beskikbare hulpbronne te kry.

Hoekom al die koste en uitdagings van presisieboerdery aangaan en dan kuilvoersnytyd as minder belangrik beskou? Dit is tyd vir ’n vars uitgangspunt oor die hantering van kuilvoer.

Een so ’n voorbeeld is om gebruik te maak van Granular Link om snytyddatum te voorspel – dit verbeter die homogeniteit binne die kuilvoerbunker.

Figuur 2. Die oorspronklike land as ‘n geheel gesny.
Figuur 3. Dieselfde land, verdeel in snydatums, op grond van groeikondisies om optimale DM% en homogeniteit in die bunker te kry.

In die voorbeeld (Figuur 4) is daar nie ʼn groot verskil tussen die kontoere nie, maar hoe steiler die kontoer en hoe groter die grondverskille, hoe duideliker sal die verskille tussen die kontoere wees. Dit is duidelik dat as jy op 35% DM sou begin sny, jy eerder Blok A en dan Blok C sou begin sny voordat Blok B gesny word, aangesien blokke A en C vinniger vog verloor as gevolg van omgewings- en grondverskille.

Figuur 4. Dieselfde land, verdeel in snydatums volgens satellietdata.

Die nadeel van so ’n presiese sny is dat die kuilvoerbunker naby die land moet wees en dat jy van jou eie vervoer na die bunker gebruik moet maak. Indien dit ver is en/of ’n kontrakteur gebruik word vir vervoer, word die land as ’n geheel voorspel. As mikotoksiene vir jou as melkprodusent belangrik is, sal dit maklik wees om die kopskuif te maak.

Uitdagings
Dis noodsaaklik om soveel moontlik data van verskillende mieliebasters in die model in te samel – veral die aantal dae tot blom – want die blomdatum is jou veiligheidsnet om te verseker dat die aanbeveling korrek is. Bestaande mieliebasters word deesdae baie vinnig vervang deur nuwer basters, elk met sy eie groei-eienskappe.

Pioneer is besig om VT- en R6-data in die kuilvoersentra in die land te bepaal, wat ongetwyfeld toekomstige skattings sal verbeter.

Vir meer inligting, kontak Pioneer by info.rsa@pioneer.com.