Groot verwarring heers in die landbousektor oor nuwe vereistes dat die eindgebruikers van sekere plaagdoders as plaagbeheerbeamptes moet registreer. Onverwagse en chaotiese implementering ten spyt, maan bedryfsleiers dat dié bepaling hier is om te bly.
Nuwe regulasies oor plaagdoders wat op 23 Augustus 2023 afgekondig is, het eensklaps die aantal beskikbare opsies vir landbouplaagbeheer drasties ingeperk. Die regulasies stel streng nuwe gebruiks- en verkoopsvereistes vir gebruikers van middels wat weens hul toksiese aard as beperkte landboumiddels (restricted agricultural remedies) geklassifiseer is.
Die bepaling in die regulasies wat die meeste aandag getrek het omdat dit onmiddellike optrede vereis het, was dat alle aktiewe bestanddele wat as karsinogenies, mutagenies of reproduktief toksies (CMR) geklassifiseer is, teen 1 Junie 2025 van die mark onttrek moes wees.
Maar die vereiste dat eindgebruikers van beperkte landboumiddels wat wel nog gebruik mag word as geregistreerde plaagbeheeroperateurs (pest control operators of PCO’s) moet registreer, het grootskaalse verwarring en beswaar binne die bedryf ontlok. Aanvanklik was daar onduidelikheid oor watter middels geraak word. Kommer dat daar nie genoeg bestaande PCO’s in die land is om die nodige toedienings en monitering van kandidaat-PCO’s te doen nie, duur voort.
Winsmarges
Roleen le Grange, regulatoriese bestuurder by CropLife SA (die bedryfsorganisasie vir gewasbeskerming), wys daarop dat regulatoriese owerhede wêreldwyd onder ongekende druk van omgewingsaktiviste is oor die gebruik van potensieel skadelike landboumiddels. Strenger regulering is dikwels die enigste manier om toegang te behou tot belangrike landboumiddels wat problematiese gesondheids- en omgewingsgevolge kan hê indien dit verkeerd aangewend word.
Jonathan Mudzungu, Registrateur van die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet Nr 36 van 1947), het trouens verlede jaar tydens ’n CropLife SA-inligtingsessie oor die PCO-vereistes gesê Suid-Afrika sal moet kies tussen strenger regulering van die beperkte produkte en die algehele onttrekking daarvan.
Die uitvoervrugtebedryf, wat reeds vir jare lank moet voldoen aan perke op middels wat nie meer in uitvoermarkte soos die Europese Unie toegelaat word nie, het al beduidende vordering gemaak om weg te beweeg van chemikalieë wat as onaanvaarbaar toksies beskou word. In die graanbedryf is die winsmarges egter so klein dat dit nie vir alle produsente lewensvatbaar is om oor te slaan van die ouer, goedkoper chemie na nuwergeslag-produkte wat potensieel minder skadelik vir die omgewing is nie.
Voorts plaas die onwettige handel in en gebruik van beperkte middels verdere druk op wettige gebruikers soos die landbou. Só kom die gebruik van Terbufos sedert einde verlede jaar onder skoot ná ’n aantal kinders in 2024 dodelike dosisse van die middel ingekry het deur besmette kos uit spazawinkels. Dié Terbufos is onwettig ingevoer en verkoop, maar tog het die kabinet in Junie gelas dat dié middel nie meer ingevoer mag word nie.
Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, wys daarop dat alle beskikbare aktiewe bestanddele deel is van ’n “gereedskapskis” wat produsente in staat stel om aan te hou om volhoubaar en winsgewend te produseer. Daar moet genoeg beskikbare aktiewe bestanddele wees dat produsente die middels kan afwissel sodat plae nie weerstand daarteen opbou nie.
“Die meeste witmielies in Suid-Afrika word in sandgronde geplant waar aalwurms ’n groot probleem is. Terbufos is een van die effektiefste middels teen aalwurms.
“Hoe meer van ons ‘plaagbeheergereedskap’ weggevat word, hoe moeiliker raak dit om winsgewend graan te produseer, veral waar baie gelokaliseerde probleme soos aalwurms in sandgronde bestaan. Dit kan beteken dat ons in sekere areas meer gaan sukkel as ander om genoeg stapelvoedsel te produseer, en dit kan beide insetkoste en die pryse van stapelvoedsels laat styg.”
Risiko’s verskil
Albert Potgieter, landboukundige en somergraanspesialis by Villa Crop Protection, meen daar is risiko’s verbonde daaraan om nie ’n PCO-sertifisering te hê nie.
“Party jare gaan jy dalk kan wegkom daarmee om nie ’n beperkte produk te gebruik nie, maar in ander situasies het jy dalk geen keuse nie; dit het dalk meer of minder gereën en nou het jy ’n spesifieke produk nodig wat op die beperkte lys is. Van die nuwergeslag-produkte wat die chemie op die beperkte lys vervang het, is ook nie altyd ewe effektief nie.”
JJ Cloete, landboukundige en wintergraanspesialis by Villa Crop Protection, sê daar is reeds genoeg nuwergenerasielandboumiddels geregistreer dat ’n koring- of garsprodusent ’n spuitprogram kan volg wat nie beperkte middels insluit nie, maar dit is grootliks omdat aalwurms nie ’n groot probleem by koring is nie.
“Ons grootste uitdaging betreffende die beperkte produkte sal wees vir bolwurm. Metomiel (methomyl) is seker die beperkte middel wat die algemeenste gebruik word by koring; die nuwer chemie wat bolwurm en luise bestry, het ’n pryspremie aan gekoppel.”
Beide Potgieter en Cloete wys daarop dat PCO-sertifisering goeie rentmeesterskap en bedryfsveiligheid bevorder.
Almal streef na volhoubaarheid
Elriza Theron, kommunikasiebestuurder by CropLife SA, sê die organisasie is in konstante gesprekke met die regering, produsentegroepe én antiplaagdoderdrukgroepe met die doel om alle nodige prosesse op ’n redelike en rasionele manier te implementeer en te verseker dat enige beperkinge nie voedselsekerheid in die wiele ry nie.
“Die beperking op en onttrekking van sleutelgewasbeskermingsmiddels raak nie die hele bedryf op dieselfde manier nie. Spesifieke gewasse of gebiede word buitensporig geaffekteer, so geen oplossing gaan eenvormig wees nie.
“Die einddoel is egter dieselfde – almal wil volhoubaar boer. Die vraag is hoe ons dit doen. Daarom moet almal in die landbou saam praat en besin oor watter produkte ons nou kan laat gaan en dié waarsonder ons nie kan klaarkom nie. Ons moet ook seker maak daar is genoeg van ’n verskeidenheid produkte beskikbaar om weerstandigheid teen plaagdoders te kan bestuur.”
Theron benadruk dat die regering nie kan afsien van perke op potensieel skadelike middels nie, omdat hy hom deur internasionale ooreenkomste daartoe verbind het. Dit sal niemand dus baat om te wag vir die bepalings om weg te gaan nie, aangesien dit hier is om te bly.
“Die registrasieproses is omslagtig en vereis ’n klomp dokumentasie, so die beste wat ’n produsent wat van beperkte landboumiddels afhanklik is, kan doen, is om so gou as moontlik die dokumentasie bymekaar te kry en aan die werk te spring om te registreer,” sê Potgieter.
Só doen jy aansoek
Die regulasies van 23 Augustus 2023 vereis dat alle eindgebruikers van die beperkte landboumiddels ’n NQF4-vlak- geakkrediteerde PCO-kursus vir landbou en bosbou moet voltooi, sowel as ses maande se praktiese plaagbeheer onder toesig van ’n geregistreerde PCO, hoewel daar sprake is dat dié toesighouding nie vir primêre produsente sal geld nie. Slegs geregistreerde PCO’s, of iemand wat spesifiek deur ’n PCO aangewys is, mag die betrokke produkte aankoop, en agente moet registers hou van alle transaksies waar beperkte produkte verhandel word.
’n Aansoek by die Departement van Landbou om as PCO geregistreer te word, moet saam met gesertifiseerde afskrifte van alle relevante kwalifikasies ingehandig word, sowel as studierekords, ’n mediese verslag wat deur ’n dokter voltooi is en beëdigde verklarings wat as bewys dien van die praktiese opleiding. PCO-registrasies moet elke drie jaar hernu word. Die koste van geakkrediteerde PCO-kursusse beloop tussen R4 000 en R6 000, en die registrasiefooi by die departement ’n verdere R3 141 (tot 1 April 2026; die koste styg jaarliks).
Persone met ’n diploma of graad in ’n biologiese studieveld soos entomologie, patologie, gewasbeskerming, onkruidwetenskap of ander relevante kwalifikasies kan gedeeltelik of ten volle van dié vereistes vrygestel word, na gelang van hul kennis en ervaring. Teen druktyd was die Registrateur van die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels besig om dié kwytskeldings te oorweeg, en verdere kommunikasie kan van CropLife SA verwag word.
Graan SA, in samewerking met Aartappels SA (ASA), stel op 14 Augustus ’n geakkrediteerde PCO-kursus bekend wat teen afslagtariewe aan Graan SA en ASA-lede beskikbaar sal wees. Hou Graan SA se sosiale media dop of kontak Corné Louw (economist@grainsa.co.za) vir meer inligting.

















