
HUB, Graan SA
DAAR WAS IN DIE AFGELOPE MAANDE TWEE BELANGRIKE REGULATORIESE ONTWIKKELINGS WAT DIE WERKLIKHEID VAN VERBRUIKERSWELSYN, LANDBOUREALITEITE EN WETENSKAP SKERP IN FOKUS GEBRING HET.
Die eerste was ’n welkome besluit deur minister John Steenhuisen en die Departement van Landbou (DoA) om die aanwysing van Leaf Services as gevolmagtigde kragtens die Wet op Landbouprodukstandaarde te herroep. Die tweede was die kabinet se voorneme om die plaagdoder Terbufos te verbied – ’n skuif wat graanproduktiwiteit in sandgrondproduksiestreke bedreig. Hierdie besluite illustreer die wisselvalligheid van regulatoriese veranderinge en die behoefte aan balans tussen toesig en landbouvolhoubaarheid.
Die herroeping van Leaf Services se mandaat, wat in Mei deur die minister aangekondig en in Junie in die Staatskoerant gepubliseer is, is ’n oorwinning vir die graanbedryf en vir verantwoordbare regulering. Alhoewel dit bedoel was om gehalte te verseker, het Leaf Services se rol sedert 2006 duur probleme meegebring. Hierdie bekommernisse is in 2021 deur ’n uitspraak van die Appèlraad bekragtig, maar die inspeksieregime was steeds besig om ontwikkel te word. Die implementering daarvan sou die graanbedryf tientalle miljoene gekos het, met beperkte waarde in ruil daarvoor. Die herroeping was ’n korrektiewe maatreël en ’n duidelike beweging in die rigting van gebalanseerde regulasies wat in gelyke mate die publiek beskerm en die bedryf ondersteun.
Minister Steenhuisen se besluit is gegrond op wetlike en prosedurele tekortkominge onder die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid en ’n gebrek aan betekenisvolle konsultasie. Dit weerspieël ’n breër verskuiwing wat regulering nie as ’n stomp instrument beskou nie, maar as ’n hefboom vir inklusiewe groei en die veerkragtigheid van die voedselstelsel. Vroeër vanjaar het senior amptenare van die departement die behoefte beklemtoon dat regulering inklusiewe groei en werkskepping moet ondersteun. Die minister se besluit rakende Leaf Services weerspieël hierdie verskuiwing en dui op vordering in die sektor.
Hierdie benadering stem ooreen met beste praktyke wêreldwyd, soos gesien in lande soos Denemarke en Nieu-Seeland, waar regulatoriese modelle deursigtigheid, konsultasie en proporsionaliteit prioritiseer met ’n “regulatoriese kontinuum” wat die mins indringende, mees effektiewe meganisme bevoordeel om beleidsdoelwitte te bereik. Dit lyk asof Suid-Afrika met betekenisvolle stappe in dieselfde rigting beweeg onder leiding van minister Steenhuisen.
Maar terwyl hierdie verskuiwing hoop bied, word dit getemper deur die kommerwekkende aankondiging dat die kabinet van voorneme is om Terbufos te verbied. Graan SA erken dat Terbufos, soos medisyne, ’n gevaarlike stof is as te veel daarvan gebruik word en oneffektief as te min gebruik word. Dit is egter nie ’n genoegsame argument om ’n totale verbod in te stel nie. Soos in die geval van brandstof en kunsmis, kan hierdie tegnologie tot groot voordeel van die samelewing gebruik word. Die risiko’s daarvan word deur ’n streng regulatoriese raamwerk beheer en vereis nie ’n algehele verbod nie. Indien die gebruik daarvan weerhou word sonder bekostigbare en effektiewe alternatiewe, loop produsente die risiko van laer opbrengste, hoër koste en selfs uittrede uit die sektor, wat ’n bedreiging vir voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit inhou. In baie dele van die wêreld word gevaarlike tegnologieë nie verbied nie maar deur regulatoriese raamwerke bestuur, wat die verantwoordelike gebruik daarvan moontlik maak.
Dit is kommerwekkend dat regulatoriese besluite toenemend deur internasionale tendense en aktivistiese sentiment gevorm word, eerder as deur datagebaseerde wetenskap en plaaslike ervaring. Wat vir die Europese Unie met sy gematigde klimate en totaal verskillende landboubasis geskik kan wees, is dalk nie gepas vir Suid-Afrika se unieke ekonomiese realiteite en agro-ekologiese sones nie. Universeel-geldende oplossings met die doel om in ooreenstemming met die res van die wêreld te wees, kan vernietigende gevolge inhou vir produsente en verbruikers.
Die landbousektor word toenemend gekonfronteer met regulatoriese tendense wat meer deur politieke agendas as deur wetenskaplike bewyse of praktiese realiteite gedryf word. Sulke ontwikkelings kan produsente se toegang beperk tot die gereedskap en tegnologieë wat hulle benodig om voedsel doeltreffend en volhoubaar te produseer. Georganiseerde landbou moet reageer met sterker voorspraak vir bewysgebaseerde regulering en duideliker openbare deelname. Dit is noodsaaklik om te verduidelik dat alle gereedskap en tegnologieë inherente risiko’s het, maar veilig gebruik kan word. Produsente benodig ’n volledige stel opsies om ’n groeiende nasie te voed. Beleidsbesluite moet gebaseer word op landbourealiteite sowel as langtermyn- nasionale belange.
Indien die herroeping van Leaf Services ’n positiewe verskuiwing in regulatoriese denke weerspieël, herinner die verbod op Terbufos ons hoe vinnig die pendulum weer in die ander rigting kan swaai. Dis ’n tweeledige les dat vooruitgang moontlik, maar tog broos is. Ons gesamentlike verantwoordelikheid – as die regering, die bedryf en die burgerlike samelewing – is om ’n regulatoriese stelsel te skep wat billik, bemagtigend en ingestel is op die realiteite van verbruikerswelsyn sowel as boerdery op Suid-Afrikaanse bodem.
Met ’n fokus op landbouvooruitgang en bewysgebaseerde voorspraak, kan die graanbedryf voortgaan om die natuurlike sowel as die institusionele storms te trotseer.










