Uitbreiding en innovasie bring seisoen van momentum

Bianca Henning, onafhanklik, en Grethe Bestbier, Agrico
Gepubliseer: 1 Oktober 2024

91

’n Familiesaak met ’n passie vir landbou en ’n wil om die mooi land van ons ’n beter plek vir almal te maak – dit is die strewe van Agrico.

Agrico het sedert 1896 gegroei tot die grootste verskaffer van besproeiingstoerusting in Suider-Afrika. Wanneer jy vir Walter Andrag, besturende direkteur van Agrico, meer oor die onderneming vra, is daar ’n opgewondenheid in sy stem.

“Lojaliteit word verdien as jy oor ’n lang tyd ’n goeie diens lewer en goeie waarde vir geld bied. Ons sien Agrico as ’n betroubare, stabiele langtermynvennoot in besproeiing,” sê Walter.

Saam met Walter aan die stuur van sake is sy neef, Roland Andrag, die tegniese direkteur van Agrico. Roland vertel dat dit Agrico se doelwit is om ’n optimale besproeiingsoplossing aan produsente te bied.

“Om optimaal te boer beteken vir elke produsent iets anders. Dit is ons werk om produsente te help om water, energie en kapitaal optimaal aan te wend om winsgewend te boer. Alles wat ons by Agrico doen, gaan oor die klant en maniere om sy lewe en besigheid te verbeter,” verduidelik Walter.

“Om dit te kan doen, moet jy jouself in die skoene van die produsent sit en optree asof dit jou geld en jou plaas is. Agrico se rol is om naby aan ons klante te beweeg sodat ons die optimale oplossings aan ons produsente kan bied,” meen Roland.

Oud en jonk: die passievolle span agter Agrico se sukses
Om ’n suksesvolle besproeiingsbesigheid te bedryf vereis aanhoudende innovasie. Dít is slegs moontlik met ’n span geesdriftige kundiges wat hul energie hieraan spandeer.

Roland vertel oor die Agrico-span: “Wat op die oomblik vir my by Agrico uitstaan, is die energie en opwinding van die span, en die manier waarop hulle en die maatskappy saam groei en vooruitgaan.”

Met drie fabrieke en 40 takke oor Suider-Afrika heen, bestaan die Agrico-span uit honderde lede met hope passie. Binne die maatskappy word elkeen aangemoedig om verantwoordelikheid te neem en om hulself en hul talente uit te leef.

’n Groot span kundiges is betrokke by elke projek: besproeiingsontwerpers besoek die plase en is in direkte kontak met die klant; ingenieurs behartig die navorsing en ontwerp van produkte. ’n Vervaardigingspan lei produksie, en interne stelselbestuurders hou die trein op sy spoor.

“Ons span het redelik gegroei die afgelope jaar. Ons het ’n lekker jong span tegniese persone wat nuwe denke en ’n sekere geesdrif na die onderneming bring, gepaard met persone met dekades se ervaring in al die verskeie aspekte van besproeiing,” sê Roland.

Plaaslike vervaardiging bring hulle nóg nader aan die produsent
Agrico se produkte word plaaslik vervaardig en na takke oor die hele land versprei. Plaaslike vervaardiging stel hulle in staat om regstreeks met produsente te skakel en om pasgemaakte produkte en oplossings wat toegespits is op die Suid-Afrikaanse en Afrika-mark, te lewer.

“Agrico is in ’n bevoorregte posisie waar ons die skaal het om ’n groot deel van die waardeketting in ons hand te hê. Dit beteken dat ons ’n noue skakel het tussen die mark en ons produk. Ons is in ’n beter posisie om vinnig te reageer op terugvoering, probleme op te los, en daarvolgens ons aanbieding en produkte aan te pas,” verduidelik Roland.

Walter en Roland Andrag, direkteure van Agrico, voel positief oor die maatskappy se rol in die landbou.

’n Seisoen vol hoogtepunte en mylpale
Met die fokus op voortdurende uitbreiding en innovasie, glo die neefs dat daar tans wonderlike momentum binne die onderneming is.

“Daar is soveel besig om te gebeur in die organisasie. As ek iets moet uitlig, is dit ons PVC-vervaardiging. Ons het heelwat kapitaal belê en daardeur ons gehalte verbeter, wat tans goeie verkope inbring – ons kan nie bybly nie,” sê Roland.

Walter deel ’n paar hoogtepunte wat die afgelope twee jaar binne Agrico vir hom uitgestaan het: “Uitbreiding is ’n tema binne Agrico en dit beteken verskeie dinge. Ons brei die taknetwerk deurlopend uit; ons is bevoorreg dat ons die afgelope twee jaar takke in Komatipoort en in Empangeni kon oopmaak, wat vir ons goeie blootstelling aan die suikerbedryf gee.”

Wat verander en wat staan vas in die volgende eeu?
Wanneer daar vir Walter gevra word waar hy Agrico binne die volgende 100 jaar sien, antwoord hy: “Dinge verander so vinnig, maar ons sal steeds bly fokus op dit wat dieselfde sal bly. Klante sal altyd goeie diens wil hê, klante sal altyd mededingende pryse en ’n standvastige diensverskaffer wil hê, en vir die res… sal die tyd leer!”

Roland vat die dryf om vorentoe te beweeg saam in wat volgens hom een van die belangrikste lesse is wat hy by ’n Suid-Afrikaanse produsent geleer het. In die woorde van oom Bertie van Zyl van ZZ2: “Moenie sukkel nie.”

“Al is dit net drie woorde, dit roep tot aksie: Klim uit die bed uit en gaan lewe, doen wat gedoen moet word,” sê Roland.

Walter spreek die laaste woord: “Landbou is ’n langtermynonderneming. Dit is ’n marathon, nie ’n naelloop nie. Jy moet elke dag die regte ding doen en ’n langtermynfokus hê – en ek dink dit is wat Agrico goed doen!”

Vir enige navrae, besoek Agrico se webwerf by https://www.agrico.co.za.