Werd om te weet oor saad

Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste, Graan SA
Gepubliseer: 5 Maart 2025

32

Omdat saad ’n wesenlike insetkoste is, is daar verskeie aspekte waarvan produsente kennis moet dra. Hierdie artikel spreek ’n paar daarvan aan.

1. Geen saadtekorte verwag

Net soos wat produsente afhanklik is van weersomstandighede vir ’n goeie oes, is saadmaatskappye uitgelewer aan die weer vir saadproduksie. Met die uiters wisselvallige klimaatstoestande wat Suid-Afrika die afgelope twee seisoene beleef het, was daar bekommernis onder produsente oor die beskikbaarheid van saad. Dit het veral betrekking gehad op die beskikbaarheid van witmieliesaad in die weste van die land.

Tydens Graan SA se jaarlikse vergaderings met al die saadmaatskappye is daar egter gemeld dat daar nie saadbeskikbaarheidsprobleme vir die komende seisoen verwag word nie.

2. Verskil tussen terughou van saad en “brown bagging”

Terughousaad
Alhoewel die praktyk nie aanbeveel word nie, is dit wettig vir ’n produsent om saad vir sy eie doeleindes terug te hou indien hy daardie saad regmatig bekom het. Dit vorm deel van die Farmers’ Privilege-klousule van die Plantverbeteringswet. Die regulasies hieroor wat in 2025 gepubliseer is, stel dit verder dat hierdie terughouding wel aan die plantteler verklaar moet word en dat laasgenoemde “redelik vergoed” moet word.

Brown bagging
Brown bagging is wanneer produsente graan wat hulle self geproduseer het as saad aan medeprodusente verkoop of verruil. Sonder die medewete en/of goedkeuring van die plantteler is hierdie praktyk onwettig en rig dit groot skade aan die saadbedryf aan.

3. Onvoldoende insetkwaliteit

Wanneer saad of enige ander inset se kwaliteit tekortskiet, kan dit groot finansiële gevolge hê. Daarom is dit noodsaaklik om voorbereid te wees en te weet hoe om die situasie reg aan te pak. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat probleme met kwaliteit so vinnig as moontlik aangemeld moet word.

Graan SA is daartoe verbind om produsente toe te rus met duidelike, praktiese stappe om te volg wanneer sulke probleme ontstaan sodat daar vinnig opgetree kan word, bewysmateriaal akkuraat gedokumenteer kan word en ’n gepaste oplossing gesoek kan word.

Stappe om te volg indien probleme vermoed of ervaar word:

  1. Kontak jou insetverteenwoordiger en dring aan op ’n ondersoek op die plaas.
  2. Hou rekord van alle datums, gesprekke en aksies wat geneem is. Formele dokumentasie (binne vyf tot sewe dae): Die produsent moet geskrewe rekords, foto’s en monsters saamstel en ’n formele, skriftelike klagte aan die verskaffer of maatskappy stuur. Alle korrespondensie op skrif help om ’n amptelike rekord te vestig. Versamel soveel moontlik bewyse: Skryf waarnemings neer, neem foto’s of maak video’s vir latere verwysing. Onmiddellike aksie (binne 24 tot 48 uur): Die produsent moet die insetverskaffer of verteenwoordiger so gou as moontlik kontak sodra ’n probleem opgemerk word en ’n plaasinspeksie aanvra. Vroeë rapportering verseker dat gewassimptome of produkreste nog sigbaar en verifieerbaar is.
  3. Die meeste maatskappye het ’n amptelike klagteprosedure. Maak seker dat die verteenwoordiger die saak amptelik registreer.
  4. Oplossing of eskalasie (binne 14 tot 21 dae): Indien die verskaffer versuim om ’n bevredigende reaksie te gee, kan die produsent die saak na Graan SA eskaleer vir bystand. Graan SA kan die produsent deur tegniese assesserings lei en, indien nodig, onafhanklike kenners betrek of die Departement van Landbou in kennis stel vir ’n regulatoriese ondersoek.

Lees die volledige artikel oor die hantering van insette wat nie op standaard is nie op sagrainmag.co.za.