Graan SA se jaarlikse streeksvergaderings het op 20 Januarie afgeskop en sal tot 5 Maart landswyd voortduur. Hierdie vergaderings bly ’n kernplatform waar graanprodusente direk met Graan SA kan skakel, hul bekommernisse kan uitspreek en insette kan lewer oor beleidsrigtings, marktoestande en bedryfsvolhoubaarheid. In ’n tyd van dalende graanpryse, stygende insetkoste en toenemende regulatoriese druk, was die gesprekke eerlik, dringend en sterk produsentgedrewe.
Waarom die streeksvergaderings saak maak
Die vergaderings dien as ’n kritieke skakel tussen produsente en Graan SA. Dit bied nie net terugvoer oor die organisasie se strategiese fokusareas en prioriteite nie, maar ook opdaterings oor beleids- en regulatoriese ontwikkelings – veral binne die landbouchemiese bedryf. Markdinamika soos vraag en aanbod, langtermynprysneigings en die direkte impak daarvan op winsgewendheid is breedvoerig bespreek, saam met kernbrandpunte in die graanbedryf, insluitend logistiek, insetprysmonitering, dieselrabatte, graderingstandaarde en uitvoermarkte.
Daar is ook sterk gefokus op navorsing, agronomie en innovasie, met terugvoer oor die Plantgesondheidskonsortium, Gewasverbeteringskonsortium en Klimaatveerkragtigheidskonsortium, waar doelwitte en lopende navorsingsprojekte uitgelig is om produsente beter toe te rus vir ’n veranderende klimaats- en markomgewing.
Wat produsente sê: sleutelkwessies uit die streke
Sedert die afskop van die vergaderings het produsente landswyd soortgelyke bekommernisse geopper. Groot onsekerheid bestaan oor PCO-registrasievereistes en die praktiese implikasies daarvan op die beskikbaarheid en gebruik van produksiemiddele. Daar is herhaaldelik gewaarsku dat klein en mediumgroot ondernemings – die belangrikste werkskeppers in landelike gebiede – onder geweldige druk verkeer.
Produsente het ook vrae gevra oor Suid-Afrika se vermoë om volhoubaar genoeg mielies te produseer, die toekoms van sojaboonuitvoere en die impak van banke se toenemend streng kredietgoedkeuringsprosesse. Ander brandpunte sluit in mieliegradering, logboeke en die implementering van die nuwe dieselrabatsisteem asook kommer oor die verlies aan kennis en ervaring namate minder jong produsente die sektor betree. ’n Terugkerende vraag was hoe produsente kop bo water moet hou in ’n omgewing waar graanpryse daal maar insetkoste aanhou styg.
Wintergraanstreke: koring onder strukturele druk
Terugvoer uit die wintergraanproduserende streke – die Swartland, Overberg en Suid-Kaap – het ’n duidelike en eensgesinde boodskap gelewer: Die koringbedryf verkeer onder strukturele druk wat nie meer as ’n tydelike afswaai beskou kan word nie. Produsente het beklemtoon dat vertraagde tariefresponsiwiteit, die tydsberekening van koringinvoere net voor die plaaslike oes, stygende produksiekoste en blootstelling aan gesubsidieerde internasionale mededinging koringproduksie toenemend onlewensvatbaar maak.
Verder is kommer uitgespreek oor swak prysoordrag in die waardeketting, ongebalanseerde mededinging binne die fisiese mark en die huidige JSE-areadifferensiaal wat nie meer die realiteite van die kontantmark weerspieël nie. Die gevolg is dat produsente ’n oneweredige deel van die risiko dra, terwyl aanpassings elders in die ketting stadig of onvoldoende plaasvind.
Waarde vir produsente en vorentoe kyk
Vir graanprodusente bied die streeksvergaderings ’n unieke geleentheid om direk met bedryfskenners, medeprodusente en die Graan SA-leierskap te skakel. Dit help om beter besluite rakende beplanning en risikobestuur te neem en bou ’n sterker, verenigde stem vir die graanbedryf.
Soos die 2026-streeksvergaderings voortgaan, bly Graan SA verbind tot volhoubare groei, doeltreffende voorspraak en praktiese ondersteuning – met produsenterealiteite sentraal in elke gesprek.
















