
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za
SAAD BLY SEKER EEN VAN ’N PRODUSENT SE HEEL BELANGRIKSTE INSETTE, ALHOEWEL DIE PRYS NIE SO BEDUIDEND SOOS ANDER INSETTE IS NIE. DIE GENETIESE POTENSIAAL VAN ’N KULTIVAR BEPAAL UITEINDELIK DIE POTENSIËLE PRODUKSIE EN WINSGEWENDHEID VAN ’N WINTERGRAANPRODUSENT EN IS DAAROM DIE BEGINPUNT OM ’N SUKSESVOLLE OES TE VESTIG.
Vandat die teling-en-tegnologie-heffing op koring tien jaar gelede geïmplementeer is, is goeie vordering in die saadmark opgemerk:
- Nuwe saadmaatskappye het die koringsaadmark betree, asook ’n nuwe tegnologieverskaffer.
- Tydens 2025 is agt nuwe kultivars deur die Koringforum se koringvrystellingsnormekomitee goedgekeur vir finale vrystelling. Hiervan was vyf vir besproeiing, een vir die noordelike droëland-gebied en twee vir die Wes-Kaap.
- Nuwe tegnologie in die pyplyn: Die koringvrystellingsnormekomitee, die tegniese komitee en World Food Safety Council (WFSC) het die produksie en teling van witkoring goedgekeur.
In hierdie artikel word die jongste saadpryse van koring-, kanola- en garskultivars wat kommersieel in die mark beskikbaar is met produsente gedeel asook wenke om seker te maak die beste word uit die saad gehaal.
Alle maatskappye wat koring-, kanola- en garssaad bemark,is genader om aan die prysvergelykings deel te neem.
Tabel 1 dui wintergraansaadpryse vir 2026 in rand aan. Die maatskappye wat deelgeneem het sluit in SA Seed, Syngenta, Limagrain SA, Overberg Agri, SSK en Agricol.
Koringsaadpryse het in 2026 met gemiddeld 1,6% gestyg. Sommige maatskappye se kultivars het selfs gedaal, terwyl ander maatskappye se kultivars in geheel dieselfde gebly het.
Die inligting in Tabel 1 neem nie afslag vir vroeë bestellings en grootmaataankope in ag nie. Dit is belangrik om self navraag by die saadmaatskappye te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.



Kultivarkeuse
Belangrike riglyne wat gevolg behoort te word wanneer kultivarkeuses uitgeoefen word, sluit die volgende in:
- Plant ’n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
- Moet nie ’n staatmakerkultivar summier met ’n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ’n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.
Raadpleeg die LNR-Kleingraan se handleidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer is en volgens eienskappe wat op die plaas belangrik is, presteer.
Sien ook SA Graan/Grain se kultivarbylaag wat in Maart 2026 gepubliseer word met die resultate van die nasionale kultivarevalueringsprogram deur die LNR-Kleingraan asook proewe deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou.
Wenke as produsente vermoed daar is fout met die saad
Indien enige saadprobleme vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gedoen word:
- Dring by die saadverteenwoordiger aan op ’n ondersoek ter plaatse.
- Hou rekord van datums en gesprekke.
- Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames.
- Indien die probleem nie opgelos word nie, moenie te lank wag voordat die volgende stappe oorweeg word nie:
- Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.
- Lede kan Graan SA in kennis stel indien die nodige aandag nie by die saadmaatskappy verkry word nie.
- Neem die saak met die Departement van Landbou op indien dit steeds nie opgelos is nie.
- ’n Handelskontrole-ondersoek sal gedoen word ingevolge die Plantverbeteringswet.
Gaan só te werk, sê die departement
- Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou.
- Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat van die kwaliteit van die spesifieke saadlot aangevra te word wat deur ’n geregistreerde saadlaboratorium uitgereik is. Hierdie uitslae behoort nie ouer as drie maande te wees nie.
- Produsente word aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is te bewaar sowel as die faktuur wat uitgereik is.
Kontakpersoon by die departement
Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger:
Phillip du Toit (Stellenbosch)
021 809 1656 of PhillipDT@Dalrrd.gov.za.
Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.













