“Doen wat jy moet doen. Gaan elke jaar vir ’n vol oes. Moenie met ’n halwe hart daar ingaan nie.” Só sê Hansie Viljoen, Graan SA se Graanprodusent van die Jaar vir 2025. Hierdie kompetisie dwing jou om weer jou “potlood skerp te maak” en gee jou die geleentheid om ander produsente te vra hoekom hulle ’n ding doen soos wat hulle dit doen. Hy som sy wenresep in ’n neutedop op: “Genade. Daarmee saam harde werk. Doen dit wat jy doen rég en maak jou lewenswaardes ononderhandelbaar: geloof, integriteit, eerlikheid en lojaliteit.”
Vir Viljoen is dit spesiaal om erkenning te kry en ’n voorreg om ’n jaar lank die gesig en ambassadeur van die graanbedryf te kan wees. Sy pa, Boetie Viljoen – stigterslid van SAMPI asook NAMPO Oesdag en destydse voorsitter van NAMPO – is ook 33 jaar gelede as “Mielieman van die Jaar” aangewys.

Jou huis is waar jou hart is
Viljoen boer buite Leeudoringstad saam met sy seuns op die grond waar hy 62 jaar gelede gebore is. Sy grootouers het in 1943 met die boerdery op hierdie einste plaas (Cyferbult) begin, terwyl sy oupa ook by die laerskool op die dorp waar Viljoen skoolgegaan het, ’n onderwyser was. Na sy laerskooldae het hy sy hoërskoolloopbaan aan Sannieshof Hoërskool voltooi. Dit was ook hier waar Wilmarie, met wie hy vanjaar 38 jaar getroud is, die eerste keer sy oog gevang het. Na skool voltooi hy sy BAgric-graad aan Kovsies en alhoewel hy reken dat hulle eintlik net daar was “om te leer draad span en vrou soek”, was dít waar hy sy vaardighede spesifiek in weiding en grootvee geslyp het. “Maar,” sê hy, “al is boekekennis handig, kan dit jou nie leer boer nie.”
Met trots deel hy hoe sy ouers hom leer boer het; van graan, beeste en besproeiing tot hoe om te melk. “Klub 200, wat ons vandag as Graan SA se Ledelokaal op NAMPO Park ken, is destyds deur my ma begin. Dit is waar ons grootgeword het. As ek kyk hoe groot NAMPO Oesdag sedertdien geword het, kan ek nie anders as om bitter trots te wees nie. Suid-Afrikaanse landbou is op die voorpunt van tegnologie.”
Viljoen het in 1985 voltyds begin boer en is twee jaar daarna getroud. “Wilmarie was die een wat gesorg het dat die kinders hulle huiswerk doen, by die sport uitkom en dat daar ’n lekker bord kos by die huis wag as ek van die lande af kom. Sy het dit nog altyd lekker gemaak om tuis te kom. Dis my veilige hawe. Ons kinders en skoondogters is ons trots, en die vyf kleinkinders rol my om!”
Alhoewel al drie seuns verskillende fokusareas het, boer almal eintlik saam. Die gesaaides is ’n afdeling wat deur die hele Viljoen-span hanteer word. Verder fokus Henrikus ook op die besproeiing en wild, Dihan op die beeste en bemarking van die mielies, en Kobus is voltyds by die meule betrokke wat Hansie se pa in 1994 gekoop het toe hy besluit het om nywerhede te bekom om verder in die waardeketting betrokke te raak. “Hulle bring die beste in mekaar uit. ’n Ouer kan nie ’n kind in ’n sekere rigting dwing nie. Hy moet self kies. Jongmense het mentors nodig, en in landbou is dit wonderlik dat ouer boere bereid is om hulle kennis te deel.”
Viljoen lig in sy eie lewe saam met sy ouers nog twee mentors uit: John Trollip, wat saam met hom op Suidwes se direksie gedien het, en Brand Pretorius, voormalige HUB van McCarthy, wat hom geleer het om hard op die saak te wees, maar sag op die mens.
“Ek moes leer dat jy veel verder kom as jy iemand erkenning gee as wanneer jy met die stokmetode probeer lei.” Die bestuurspan op die plaas bestaan uit sewe, wat Viljoen en sy seuns insluit. Sodat almal op hoogte van die boerdery bly, lees hulle soggens ’n stukkie saam, maak ’n grappie, en gesels vinnig oor die dag wat voorlê. Die Viljoen-seuns neem al hoe meer van die dag-tot-dag-besluite oor. “Dis maar moeilik om oor te gee, want as ek sien micro manage ek hulle weer. Maar dan dink ek – ’n dokter leer sewe jaar en dan vertrou jy hom met jou lewe. Jou kind boer 15 jaar saam met jou en dan wil jy hom steeds vertel wat om te doen? Ek moet hulle los sodat hulle hul eie ding doen, want hulle doen dit regtig goed.”
Versprei die risiko met verskeidenheid
Viljoen Boerdery strek oor dele van die Vrystaat, Noordwes asook Botswana met gemengde boerderye bestaande uit gesaaides, bees en wild. “Verskeidenheid in jou boerdery en om geografies te mitigeer, versprei jou risiko. Besproeiing uit die Vaalrivier verskans ons teen droogtes, waarop ons nou sowat 50% gaan uitbrei. Grond word nie meer nie terwyl die bevolking drasties groei. Produsente moet ’n manier vind om meer te produseer op dieselfde hoeveelheid grond.”
Die Viljoens pas die afgelope vyf jaar wisselbou tussen mielies en sojabone toe te danke aan ’n man wat volgens Hansie ’n monument moet kry: Jozeph du Plessis. “Dit het ons lewens verander.” Vandat hulle dié praktyk toepas, kry hulle amper ’n ton en ’n half meer mielies per hektaar. “Ons het die eerste jaar ’n fout gemaak, want al die sojabone het gelyk ryp geword. Jy leer soos wat jy aangaan om verskillende groeiers saam te plant en om genoeg stropers te hê, want as jy stroop, moet jy stroop!”
Hul wildsplaas in Botswana word gereeld besoek, wat Viljoen die kans gee om agter die stokke van sy eie vliegtuig in te skuif. “Toe ons destyds die plaas in die Kalahari gehad het, het vlieg vir my ’n stokperdjie geraak én ’n manier om die slegte paaie te vermy. Vlieg laat my ontspan en maak die wêreld vir jou wyer – jy sien hoe jy eintlik net ’n kopspeld in die groter omgewing is.” Wild waarmee geboer word, sluit gemsbok, eland en springbok in. “Ons vang en verkoop self – geen biltongjagters wat brandewyn drink nie.”
Daar word ook met ’n verskeidenheid bees geboer, soos Bonsmara, Droughtmaster en Brahman. “Jy soek ’n sterk bees wat nie te veel vreet nie.”

Tegnologie en genetika ’n noodsaaklikheid, nie ’n luukse nie
Verandering moet doelbewus bestuur word en Viljoen doen dit met behulp van doeltreffende tegnologie en genetika. Presisieboerdery speel gevolglik ’n groot rol in sy besigheid. “John Deere se rusperbandtrekker was die eerste trekker wat kon doen wat ons gedoen wou hê, en hulle JDLink help ons om elke hektaar op die plaas te monitor. Ek koop agter prys en tegnologie aan, maar naverkopediens is die heel belangrikste.” Nog handelsmerke wat jy op die plaas sal gewaar, is HORSCH en Fendt. Field View help hulle om intyds inligting soos kunsmisverbruik te kry.
Wat die beeste betref, is naspeurbaarheid belangrik, want dit gee toegang toe die dier se hele geskiedenis. “Ons hou tans belowende nuwe tegnologie dop wat ons in die toekoms sal wil implementeer wat beeste moontlik deur middel van ’n snoetafdruk kan identifiseer. Dit sal die radiofrekwensie-oorplaatjies vervang wat ons tans gebruik om diere tot in die fynste besonderhede met behulp van Livestock Intelligence in die voerkraal te bestuur. Om geneties vinnig te vorder, vang ons embrio’s op nadat ons gehalte-bulle en -koeie bymekaar gesit het. Dit word dan oorgeplant in draerkoeie. Ons probeer ’n taaier tipe koei gebruik om ’n sterk moederlyn te hê met die mikpunt om 50% van die koei se massa uit die kalf te kry.”
Die wildafdeling in die boerdery staan ook nie terug as dit by tegnologie kom nie. “Ons het eland-teeltroppe in Suid-Afrika en Botswana en teel nou spesifiek elande met groot horings en groot lywe. Boerdery is ’n wetenskap, maar dit bly lekker.”
Leer is ’n nimmereindigende proses
Viljoen glo al leer jy by iemand wat om nié te doen nie, jy steeds leer. “Ons leer met die oë en bestudeer proewe om te sien wat in ons omgewing werk. Ons is oop vir nuwe goed en lees ook gereeld op. Voordat ons ’n nuwe kultivar op groot skaal plant, eksperimenteer ons eers om te kyk wat die beste werk. Toe ek begin boer het, was die lande twee- of drieton-lande. Gevorderde tegnologie maak dit moontlik om nou op dieselfde grond vyf of ses ton te stroop.”
Die plase het sandgrond met min klei wat hulle noodsaak om diep te rip. “Dis hoe jy by die pot goud uitkom. En jy moet die wortels nurse. Ek en die kinders maak gewoonlik in Januarie ’n klomp profielgate wat ons dan in Februarie met al die produkverteenwoordigers bespreek. So sien ons wat die jaar gewerk het en wat nie sodat ons weet waar om aan te pas. Dit is belangrik om terug te kyk, want oor tien jaar is dit dalk weer dieselfde tipe jaar as nou. As jy dan weet waar jou fout was, kan jy aanpas en beter doen.”
Hy beklemtoon die waarde van ’n vriendekring wat gereeld bymekaarkom en kennis uitruil, en vind veral artikels in SA Graan/Grain oor nuwe produkte en ander besighede stimulerend. As voorsitter van die eertydse Suidwes Landbou-direksie en nou ook direksielid van Senwes, kry hy selfs nog dieper insig in die landbousektor. “Dit haal die klappe van jou oë af. Om met mense op ’n ander vlak te doen te kry, help jou om nie afgestomp te raak nie.”
Hy sien dit as genade dat produsente nooit subsidies gekry het nie, omdat hulle eenvoudig moes leer om op hulle eie voete te staan. “Tye is taai, maar die Liewe Vader sorg al 42 jaar vir my. Hoekom sal Hy my nou los? Hy sal nooit iets oor jou pad bring wat jy nie kan hanteer nie.” Viljoen het vyf jaar as Raadslid by Graan SA gedien en woon steeds graag die jaarlikse Kongres by. “Produsente moet deel wees van georganiseerde landbou. Graan SA is ons stem. Ons moet tyd maak om geleenthede by te woon, want dit is waar jy kans kry om openlik oor landbousake te gesels en te leer.”
Wat onder die grond is, is bo die grond
“Jy mag dalk nie sien wat onder die grond aangaan nie, maar dit is die belangrikste deel van jou boerdery.” Grondbewerking en -gesondheid op die plaas is al heelwat oor die jare aangepas. “Wind was in die verlede ’n groot probleem. ’n Dag se wind het ons al meer skade gemaak as ’n maand se droogte. Omdat ons meer mielies stroop, begin ons nou heelwat stoppels kry, wat ons op die grond los of dit inwerk. Só sit jy iets in die grond terug en word jou grond beter.”
Bekalking vind vierjaarliks net na strooptyd in stroke plaas. Inligting word dan reeds getrek om te bepaal wat die volgende jaar gestrooi moet word. “Ons maak gebruik van ’n onafhanklike landboukundige en die toetse word by ’n laboratorium gedoen.”
Leierskap vat voor, maar hanteer ook probleme
Viljoen is ’n leier wat ’n besluit kan neem as dit moet, maar hy beskou homself eerder as ’n kollektiewe leier as ’n outokraat. “As jy die hoof wil bly, stel jy net kuikens onder jou aan, maar wat gebeur as jy iets oorkom? Ek hou van sterk, kwaliteit mense om my. Kom ek vandag iets oor, weet ek die boerdery kan net aangaan. Ek gaan haal graag jong ouens in wie ek iets sien en gee hulle ’n geleentheid.” Om vlot Setswana te praat maak van Viljoen selfs ’n beter leier. “Dit plaas jou net op ’n ander vlak as jy met iemand in sy eie taal kan praat, ’n bietjie van sy kultuur kan verstaan en nou en dan ’n grappie met hom maak. Dit gaan daaroor om respek te wys. Dit bring jou ver.”
Produsente is bekend daarvoor om dorpies en gemeenskappe bymekaar te hou. “Jy plant ’n pitjie en sien hoe jou handewerk groei. Dieselfde met ’n kalfie wat gebore word. Ons sien goed groei en dit is wat dit wonderlik maak om ’n boer te wees. Ons bou, ons breek nie.”
Wanneer jy hom vra hoekom verhoudings met verskaffers belangrik is, help hy jou vinnig reg. “Dit is nie verskaffers nie, want hulle moet waarde toevoeg tot jou besigheid. Dit maak van hulle vennote. Daar moet vertroue en lojaliteit wees, maar dit kom oor tyd. Hierdie jaar betaal ek bietjie te veel, maar volgende jaar betaal ek weer bietjie te min. Dit is vir ons belangrik om in verhouding met ’n maatskappy te staan, want ons doen lank met mense besigheid.”
Leiers soos Viljoen wat positief is oor landbou se plek in die land is egter nie blind vir tekortkominge wat groei strem nie. Hy deel bekommerd hoe daar vele biologiese produkte in die buiteland beskikbaar is wat goed in Suid-Afrika kan werk, maar steeds nie hier beskikbaar is nie. “Die regering kry dit nie vinnig genoeg hier nie omdat die pad wat registrasies moet loop net te lank is. Daar moet ’n drastiese oplossing gevind word om te verhoed dat beleggers hulle fondse uit die land onttrek weens prosesse wat sloer.”
Hy is tans veral ook besorg oor hoe die kosteknyptang besig is om sy tol te eis met hoë insetkoste wat produsente se kele afsny en verder deur die sterk rand vererger word. “As jy nou mielies teen R3 500 verkoop, maak jy R200 se verlies. Insetverskaffers sal regtig dringend met boere hande moet vat om ’n plan te maak.”

Maak dit vir jouself lekker
Boerdery in Suid-Afrika bly ’n uitdaging, en dit is maklik om in die negatiewe en donker kant daarvan vas te kyk. Viljoen voel egter dat dit jou plig is om dit vir jouself en vir jou kinders lekker te maak. “Omring jou met positiewe mense. Die land skuld jou niks. Jy skuld wel die land iets. Net omdat jy belasting betaal, beteken nie jy kan agteroor sit nie. Dit help nie jy wag vir ander om die land reg te maak nie. Skraap die pad – jou vrou en kinders ry daarop. Maak die slaggat toe – jy ry self daar. Neem eienaarskap. Doen wat jy kan doen en bekommer jou oor goed waaroor jy beheer het.”
Hy voel sterk daaroor dat produsente nie gekategoriseer moet word nie. “Mense moet ophou praat van wit boere, swart boere, opkomende of kommersiële boere. ’n Boer is ’n boer. Jy wil vir jou gesin kos op die tafel sit. Jy wil nie droogtes hê nie. Jy wil nie onnodiglik belasting betaal nie. Ons basiese behoeftes is almal dieselfde. Ons produseer voedsel vir die land. Dis wat ’n boer wíl doen, want jy word een gebore, jy word nie een gemaak nie.”
As jy Hansie Viljoen se naam hoor, is dit omdat daar met respek oor hom gepraat word. Hy is nederig, ’n familieman, ’n Godsman, iemand wat sy naaste liefhet en self die graaf optel. Hy wil onthou word as ’n goeie man, ’n goeie pa en goeie oupa. En hy wil hê sy kinders moet onthou wat hy hulle van boerdery geleer het: When the going gets tough, the tough gets going. “Jy hou aan, jy gee nie op nie.”
















