Dees

Gepubliseer: 5 Maart 2026

25

Beste Grootneef

Nou die dag oor die bakkie se draadloos speel ’n liedjie van ene Zirk, “Ek wens ek was ’n klip”. Die lirieke loop gemaklik met ’n lekker doef, doef – van ’n klip wat heeldag op sy gemak in die son sit en bak!

Afrikaanse musiek vervelig? Nooit!

Neef Koos laat loop die anderdag om ’n braaivleisvuur met die wysheid oor onvergenoegdheid – nooit tevrede met baie nie en kla oor te min. Die kuns is om te weet wat genoeg is.

Vat so, Katvis! Wie sê ’n filosoof kan nie uit die Noordwes kom nie?

Dié lang draai om uit te kom by X se baas – Elon Musk. Dit twitter behoorlik op X oor Musk se boodskap dat geld nie geluk kan koop nie. Dit komende van een van die rykste mense op die planeet met sy eie satelliettreine wat die hemelruim deurkruis. Om te dink dat hy onvergenoegd is, nooit tevrede met baie nie en kla oor te min … Ten minste het hy aldag ’n sein.

Die meeste kommentaar op die plasing was dat indien Musk net een miljard van sy baie dollars sou weggee, vele proefkonyne hom sou kon wys hoe om gelukkig op aarde te wees.

Nou ja, ’n mens kan saam neurie en met ’n voet tydhou op Zirk se lekker liedjie, “Ek wens ek was ’n klip”. Maar dit kan nie jou bestemming wees nie. Dit is nie hoe ’n mens aanmekaar gesit is nie. Daar is horisonne om te verken en spiere om te toets. Rekords om te breek deur vinniger en hoër te mik. Nie nét om in die son te sit en bak nie. Schoeman Boerdery se mantra bied inspirasie vir ieder en elk: “So goed soos die beste, beter as die meeste.” Maak dit sommer ook jou keuse.

En hier is die vangplek: Dit gaan nie oor ander nie, maar oor jouself. Is jy die beste wat jy kan wees vir jouself maar ook vir die ander diere van die bos om jou? Onthou, jy kan nie rekenskap gee vir iemand anders nie, maar bloot oor jou eie wel en weë. Jy moet ook self besluit oor jou perke, iemand anders mag dit nie vir jou doen nie. Moenie ophou probeer nie. En moenie te veel bekommer oor kritiek nie – net ’n klip wat in die son sit en bak gaan nie kritiek kry nie.

Maak vrede met die besluite wat geneem is, dit was immers met die beste wysheid van daardie tyd. Probeer jou bes, elke dag. Dis die tyd wat in jou lewensdae se sandloper beskore is. Gister is verby en môre kom nog. Beplan wel vir môre, maar maak vrede dat terwyl jy sit en beplan, die lewe bloot gebeur. Pas dan aan by die nuwe omstandighede met nuwe planne.

In Villiersdorp se wêreld ontmoet ek vir Dees. Wanneer ’n mens uitvis oor die uitsonderlike naam, laat weet hy dat sy ma met eerste sig na geboorte na haar asem gesnak het met die woorde: “Wat op dees aarde?” Nou ja, Dees is die beste wat hy kan wees, sy tuin is sy trots. Met ’n besem sien hy die hele werf reg. Niemand kan ’n kar blinker as hy poets nie.

Nou en dan is Dees egter onseker en maak dan ’n plan soos hy goeddink. Sou jy hom vra waarom hy die koolplantjies onderstebo geplant het, sal hy sy hoed verleë agtertoe skuif en bely dat hy hom misgis het. Dees se lewensuitkyk is om die beste te wees met wat aan hom toevertrou is, maar ook nou en dan te erken dat hy hom met iets misgis het.

En dit is die lewensles wat ek by Dees geleer het: Maak vrede met wat jy is en dat jy jou nou en dan gaan misgis. ’n Man is immers nie ’n klip nie.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.