Verbeterings ingestel om oesskatting akkuraat te hou

Gepubliseer: Februarie 2026

42
Marguerite Pienaar,
landbou-ekonoom, Graan SA

Die afgelope twee seisoene sal onthou word as twee uiterstes: van ’n ernstige droogte tot ’n oornat produksieseisoen. Dit het tot gevolg gehad dat die eerste en tweede oesskattings van beide seisoene daadwerklik van mekaar verskil het. Na die afloop van hierdie twee uiteenlopende seisoene, het van die bedryfsrolspelers sowel as produsente vrae begin vra oor die akkuraatheid van die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK).

’n Noodoesskattingskakelkomitee-vergadering (CELC) is op 17 November 2025 gehou om die kwessie te bespreek, asook om koppe bymekaar te sit oor die oorsaak en na moontlike oplossings te kyk om akkuraatheid vroeg in die seisoen te verbeter.

Agtergrond oor die vergadering
Die 2023/2024- en 2024/2025-seisoene was beide uitdagend, maar om verskillende redes. Die 2023/2024-seisoen is gekenmerk deur een van die ergste midsomerdroogtes in jare. Aanvanklik was planttoestande gunstig en produsente vol vertroue, maar die uitermatige hitte en droogte in Februarie en Maart het groot oesverliese veroorsaak – sowat 3,6 miljoen ton minder mielies jaar op jaar.

In 2024/2025 het die omgekeerde gebeur en die aanvanklike produksieskatting was baie laer as wat uiteindelik gerealiseer het. Tussen die eerste en negende skatting was daar ’n verskil van ongeveer 2,4 miljoen ton. Wat hierdie seisoen besonders gemaak het, was die buitengewone hoeveelheid reën in Februarie en Maart. Boonop was dit uiteindelik ’n rekordopbrengsjaar vir geelmielies.

Hoogtepunte wat bespreek is
Die agenda van die dag het punte ingesluit soos die akkuraatheid van die skatting oor die afgelope dekade, produsentedeelname, die verskillende vlakke van inligting wat gebruik word om die skatting te bepaal asook wanneer die regte tyd is om die eerste produksieskatting te doen. Verder is die tyd wanneer die NOK vergader asook konfidensialiteit bespreek.

Rolspelers en produsente het gevra dat dit oorweeg word om weg te doen met die Februarie-produksieskatting. Oor die afgelope 27 jaar was daar ’n 1%-verskil tussen Februarie- en Maartmaand se skattings (Grafiek 1 en 2). Dus is die verskil, uitsluitend in drie seisoene oor die tydperk, weglaatbaar min.

Dit is uitgelig in die vergadering dat die Producer Independent Crop Estimates System-metode (PICES-metode) gebruik word om die area te bepaal, terwyl produsente-opnames in kombinasie met objektiewe opnames van die lande gebruik word om opbrengsbepaling te doen.

Grafiek 1: Witmielieskatting
Grafiek 2: Geelmielieskatting

Uitkomste van die vergadering

  • Daar is besluit om voort te gaan deur slegs PICES te gebruik om die hektaarskattings te doen. Deur die jaar sal daar voortdurend aanpassings gemaak word soos nuwe inligting beskikbaar raak.
  • Die Februarie-produksieskatting sal behou word, maar daar moet gepoog word om meer intensief van weermodelle, kundiges en landboukundiges gebruik te maak vroeër in die seisoen.
  • Opbrengs kan ’n uitdaging wees, daarom moet daar nie net na huidige skattings gekyk word nie maar ook na geskiedkundige tendense.
  • Pitgewig sal noukeurig gemonitor en by opbrengsberamings ingereken word.
  • Produsente se deelname bly uiters belangrik. Daar is voorgestel om moontlik deur boere-unies te werk om deelname te verbeter.
  • ’n Verdere deurslaggewende aspek is die beperkte inligting wat oor opbergingskapasiteit op plase beskikbaar is en hoeveel graan op plase gestoor word. Die beskikbaarheid van befondsing kan hier ’n rol speel om die projek rakende opbergingskapasiteit van die grond af te kry.
  • Daar is besluit dat die NOK-vergaderings voortaan om 12:00 sal begin wanneer die mark gesluit het en dat die skatting moontlik later die dag vrygestel sal word.

Die vergadering het duidelik getoon dat die bedryf ernstig is oor die verfyning van die oesskattingsproses, veral ná twee opeenvolgende seisoene wat uiterstes was. Deur sterker steun op objektiewe data, verbeterde metodologieë en groter produsentebetrokkenheid word ’n stewiger grondslag gelê vir vroeër en meer akkurate skattings.

Terwyl veranderende klimaatspatrone die kompleksiteit van produksieskattings verhoog, onderstreep die besluite van die dag dat samewerking, deursigtigheid en tegniese kundigheid van kardinale belang is. Met hierdie verbeterings in plek is die bedryf beter geposisioneer om toekomstige skokke te absorbeer en produsente met die beste moontlike inligting te ondersteun.