Om te papsak of nie te papsak nie

Gepubliseer: 5 Februarie 2026

39

Beste Grootneef

Op Oujaarsdag kuier ons by familie in Villiersdorp. Vroulief is gou by ’n kafee in vir brood en melk. Op die sypaadjie neffens ’n dadelpalm sit ’n man met ’n papsak waaruit hy die laaste droesem met welbehae ledig. Soos ’n kalf wat bies gewoond geraak het en nie genoeg van die lekkerte kan kry nie. En toe gaan lê die man skuins teen die dadelpalm – in perfekte balans tussen moederaarde se aantrekkingskrag en die skurwe stam van die palmboom.

Ek vra toe sommer so deur die venster: “Wat nou gemaak?” Hy gee my ’n haasbekglimlag met die blye versekering: “Meneer, nou wag ek hom in,” en begin terstond insluimer met ’n ligte snorkie. Vrede op aarde en welbehae onder Villiersdorp se palmboom.

Met die westeson wat die palmboom se skadu verskuif en die skurwe stam vir rugsteun was ek oortuig van die man se profetiese woorde – hy gaan beslis nie lank hoef te wag nie, dan gaan daai babelas hom vang.

So trek ons weg die straat af vir gesellige samesyn in ’n familiekring wat nie aldag beskore is nie. En waar ons dan natuurlik ook ’n glasie of twee op die nuwe jaar geklink het.

Brood en melk raak vanself op. Die volgende dag maak ons weer ’n draai by dieselfde kafee. En daar – op sy pos langs die palmboom – is ons man weer, dié keer met ’n blinkgroen glansbaadjie as karwag. Hy groet soos ’n ou bekende en wens ons ’n immer voorspoedige jaar toe.

’n Mens kan sien die papsak het behoorlik toegeslaan en die man se oë is steeds effe oorkruis wanneer hy ons in die parkeerplek in beduie. Sy oë so rooi, dit lyk of hy heelnag gesweis het. Hy moes my besorgdheid oor sy sig opgelet het, want hy laat loop toe met die volgende waarheid: “Meneer dink my oë is rooi van Meneer se kant af; Meneer moet sien hoe lyk dit van my kant af …” en hy gee my ’n Kaapse haasbek-smile oor die bekentenis. Hy vra toe sommer ook met die volgende asem of ek ’n bydrae kan maak tot sy Panado-fonds. Dis nou om sy kop wat so klop te lawe. Synde in die feesgety en self met ’n effense kopseer na middernag se vierings, maak ek toe ’n mildelike bydrae tot die man se noodfonds.

“Jislaaik, Meneer!” gee die man erkenning vir die donasie, trek sy groen glimbaadjie uit, hang dit aan die palmboom se skurwe stam en verkas verby die apteek reguit na die mansapteek toe. ’n Wyle later kom hy met ’n nuwe papsak uit en vlei hom langs die palmboom neer. Doodtevrede met sy lot en die meevaller van ’n vars papsak waarmee hy die babelas kan sus.

Nou ja, so loop elk se lewenspaadjie met keuses tussen ’n Panado en ’n papsak. En dit bring my gedagtes nou uiteindelik by wat ’n mens nodig het vir ’n nuwe jaar. Basies twee goeters – ’n “bucket list” (soos neef Kallie altyd sê) vir wat om te doen voor die emmer geskop word, en ’n “bugger list” vir goeters wat gelos moet word.

Vir die “bucket list” is dit nodig om te sit en dink en dan aktief daarvoor te beplan. Onthou, Vic Falls gaan nie vanself na jou toe kom nie. Sit tyd en ’n geldjie opsy om dit te gaan doen. Alles op ’n “bucket list” gaan vir oudag se onthouvuurtjie, wanneer jy nie meer kan bungee jump nie.

Die “bugger list” is eintlik ’n deurlopende proses. Niks keer jou om die ou geroeste spykers in jou stoor weg te gooi nie. As jy dit in die laaste tien jaar nie gebruik het nie … Sommige goed op die “bugger list” vat egter meer energie – soos om standpunt in te neem oor wat verkeerd is. Of om te besluit om negatiewe mense wat net kan kla en oordeel te vermy. Of om simpel papsakgewoontes te laat vaar.

Dit is dan die uitdaging vir 2026: om na te dink oor wat op jou lewensbalansstaat bygevoeg of weggelaat moet word. Eintlik is dit om elke dag ’n besluit vir of teen ’n papsak in die warm son te neem.