Die terugvoer van uitstallers oor NAMPO Oesdag en NAMPO Kaap 2025 toon weer eens dat hierdie tipe landbou-uitstallings die hartklop van Suid-Afrika se landbousektor bly. Uitstallers het die gehalte van besoekers, die vlak van organisasie en die besigheidsgeleenthede as van die beste tot nog toe beskryf. Graan SA versprei jaarliks na afloop van NAMPO ’n vraelys om terugvoer van uitstallers te ontvang om sodoende dienslewering te verbeter.
NAMPO Oesdag – ’n fees van besigheid en atmosfeer
Die uitstallers wat terugvoer gelewer het, het bykans almal die kwaliteit van besoekers en die besigheidspotensiaal hoog aangeskryf. Die infrastruktuur en organisasie van die geleentheid het gemiddeld tussen 8 en 10 op die graderingstelsel ontvang, met talle uitstallers wat spesifiek die uitstekende infrastruktuur, logistiek en professionele bestuur geloof het.
Die atmosfeer is wyd beskryf as “ongelooflik” en “energiek”, met ’n gevoel van samehorigheid tussen uitstallers en besoekers. Volgens die data het meer as 85% van uitstallers aangedui dat hulle voldoende besigheidsgeleenthede of verkope gehad het tydens die vier dae van die geleentheid.
Verkeersprobleme weens die sluiting van sekere grondpaaie ná swaar reën was die enigste noemenswaardige uitdaging. Ten spyte hiervan is die organisasie se vinnige reaksie geloof, en besoekersgetalle het steeds indrukwekkend gebly. Alhoewel die meeste van die paaie weer in werking is, is lesse ook geleer om die verkeer in die toekoms beter te probeer bestuur. Die uitdaging bly dat daar eintlik net beperkte roetes na die park is en die doelwit is nou om planne te beraam om voertuie so vinnig as moontlik vanaf die teerpad tot in die parkeerterrein te kry.
NAMPO Kaap – groei en verbetering in die Wes-Kaap
Met die terugvoer vanaf uitstallers, het NAMPO Kaap duidelik sy posisie as ’n sleutelgeleentheid vir die winterreënvalproduksiestreek gevestig.
Die meerderheid uitstallers het die verbeterde infrastruktuur by Bredasdorp Park uitgelig, veral die opgraderings aan die parkeerareas, wat die besoekerservaring aansienlik verbeter het.
Die organisasie en behulpsaamheid van personeel is met gemiddeld 8,7/10 beoordeel, terwyl uitstallers aangedui het dat hulle voldoende toegang gehad het tot die nodige inligting voor en tydens die uitstalling.
Tog het sekere uitdagings na vore gekom, insluitend beperkte selfoonseine en Wi-Fi-toegang, asook ’n behoefte aan beter stofbeheer op die paaie en meer toiletgeriewe op sekere gedeeltes van die terrein. Hierdie punte is reeds op die lys vir toekomstige verbetering.
Ekonomiese impak
Uitstallers by beide geleenthede het beduidende bydraes tot die plaaslike ekonomie gemaak deur besteding aan verblyf, kos en tydelike arbeid. Hierdie ekonomiese inspuiting dra by tot volhoubare ontwikkeling in die omliggende dorpe.
Slotgedagte
NAMPO Oesdag en NAMPO Kaap het albei in 2025 bevestig waarom hulle as die belangrikste landbouhandelsplatforms in Suid-Afrika beskou word. Met uitstekende terugvoer oor organisasie, infrastruktuur en besoekerskwaliteit, bly hierdie twee uitstallings die plek waar die landbou se hart klop – van Bothaville tot Bredasdorp.

















