Die sesde NAMPO Kaap SLAAN ’N SES VIR LANDBOU

Louise Kunz, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: November 2025

184

Vanjaar het die lewendige atmosfeer tydens die sesde NAMPO Kaap produsente gehelp om weer moed en inspirasie te kry te midde van on­gunstige weertoestande wat in die winterreënvalproduksiestreek geheers het. Dit is duidelik dat hierdie landbou-ekspo ’n gemeenskapsfees is waar probleme en vreugde gedeel kan word. Sodra jy deur die hekke van Bredasdorp Park gestap het, kon jy die vrolike atmosfeer beleef waar vriende en familie saam verkeer.

Met tegnologie, mense en passie as kern, het dié ekspo nie net die landbousektor in die Overberg versterk nie, maar ’n toonaangewende platform vir landbou in die Wes-Kaap geword. Baie uitstal­lers het aangedui dat daar betekenisvolle sake­ge­leenthede en transaksies gedurende die vier dae plaasgevind het. Hierdie toename in saketrans­aksies maak projekvennote Bredasdorp NPC en Graan SA baie opgewonde.

Soos die vorige jaar wys 2025 weer bestendige groei met besoekersgetalle wat gestyg het van 45 894 in 2024 na 49 326. Dit nadat die eerste NAMPO Kaap in 2018 slegs 16 000 besoekers op Bredasdorp Park verwelkom het.

Volgens dr Tobias Doyer, hoof- uitvoerende beampte van Graan SA, het NAMPO Kaap ’n gevestigde instelling geword. “Die sukses daarvan is die gevolg van sterk vennootskappe, toegewyde uitstallers, lojale produsente en die trotse onder­steuning van die Overberg-gemeenskap,” het hy in ’n persverklaring genoem.

Marjolijn Malan se blomme-uitstalling het vanjaar gefokus op die vier natuurelemente in die Overberg. Omdat hierdie elemente blywend is en altyd ’n impak op boerdery het, het sy besluit om honderde sewejaartjies vir die groot kunswerk te gebruik omdat dié blomme in Engels bekend staan as everlasting.
Dié lugfoto vertel die storie van die rekordgetal besoekers en uitstallers. Die uitgebreide parkeerterrein van 13 ha het beslis die verkeersvloei verbeter.

Ses hoogtepunte op vanjaar se program
1. Slim tegnologie vir doeltreffende hulpbronbestuur
Die tema van vanjaar se ekspo het gefokus op volhoubare boerdery deur slim tegnologie. Van presisieboerdery en hommeltuie tot waterbesparende stelsels en AI-gedrewe grondontleding – die boodskap was duidelik: Innovasie is die sleutel tot volhoubare landbou.

Van die indrukwekkende, slim oplossings vir ’n volhoubare toekoms wat te sien was, is slim besproeiingstelsels vir akkurate waterbestuur, hernubare energieplatforms wat bedryfskoste besnoei asook innovasies in gesondheids- en gedragsopsporing wat voerdoeltreffendheid en weidinggebruik van vee kan verbeter.

Produsente het positief gereageer en beklemtoon dat slim tegnologie nie meer ’n luukse is nie maar ’n voorvereiste vir volhoubaarheid in ’n omgewing wat gekenmerk word deur klimaatsverandering, stygende insetkoste en toenemende druk op natuurlike hulpbronne.

Een van die wenners van die Boereplanne-kompetisie, Stian Thompson (19) van Fraserburg, se werkende minitrekker (regs) het baie aandag getrek. Hier ontvang hy sy prysgeld van Chris Burgess (redakteur van Landbouweekblad), dr Dirk Strydom (besturende direkteur: Nampo) en Louis Strydom (bemarkingsdirekteur van Omnia Nutriology).
Die Suid-Afrikaanse Boerboeltelersgenootskap het vir die eerste keer hulle Wes-Kaapse kampioenskap by NAMPO Kaap aangebied. Op Saterdag 13 September het 100 geregistreerde boerboele meegeding in die onderskeie kategorieë.
Die Neptun-saal, wat voorheen die Elim-blommetentoonstelling gehuisves het, is vanjaar verander in ’n kulinêre kuierplek met wyn, droëvrugte, olywe en handgemaakte produkte. Hanli Marais en Freddie Engelbrecht van Capedry in Montagu was van die nuwe uitstallers in die Neptun Deli.
Wat maak NAMPO Kaap uniek? Alles – daar is tot gratis drukkies!

2. Suid-Afrika seëvier teen Australië en Nieu-Seeland
Vanaf 10 tot 12 September het ’n o/21-span van Suid-Afrika ’n besoekende span van Australië die stryd aangesê in ’n internasionale tentpegging-kompetisie. Vir regverdigheid moes alle deelnemers op 9 September perde uit ’n poel trek. Hulle is toe slegs twee ure gegun om die perde te leer ken voordat hulle in die toets gery moes word. Die Suid-Afrikaners het op al drie dae met die louere weggestap.

In die Castle Lager-rugbykampioenskapwedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland het die Bokke ook as wenner uit die stryd getree. Dit het besoekers aan die vierde dag van NAMPO Kaap met vreugde gevul en moontlik bygedra tot die goeie verkope by kosstalletjies!

3. Werkende honde (en ander plaasdiere) in die kollig
Verskeie honderasse en hul rolle in die landbou is uitgelig tydens die program wat die kollig geskyn het op werkende honde. Alhoewel die fokus op landbou was, is die SA Lugmag se honde ingesluit in die dinamiese program. Die honde het taktiese reaksies en gedragsopleiding gedemonstreer wat in werklike situasies gebruik word om besoekers sodoende ’n kykie te gee in militêre hondehantering van wêreldgehalte.

Tydens die skaaphondvertonings was dit duidelik hoe belangrik dié honde se rol op die plaas is – ten spyte van tegnologiese vooruitgang. ’n Goed afgerigte skaaphond kan help om ’n trop skape of beeste vinnig en maklik te hanteer.

Die Wes-Kaapse Boerboel-kampioenskappe is vir die eerste keer op Bredasdorp Park aangebied. Besoekers kon meer uitvind oor dié honderas met sowat 100 inskrywings wat deel was van die kompetisie. Beoordeling het plaasgevind gebaseer op algemene voorkoms, bouvorm, beweging, skou-aanwesigheid en hoe goed die hond aan die rasstandaarde voldoen.

Die BKB Merino Classic was ná drie jaar terug by NAMPO Kaap. Telers van oor die hele land het gesorg vir die meer as 400 Merino-skape wat hier deelgeneem het. Vir die eerste keer is die BKB Nasio­nale Merino Vagskou ook by NAMPO Kaap aangebied.

Die Graan SA-span groet Bredasdorp Park op die laaste dag – moeg, maar uiters tevrede.
KAMERS/Makers met hul pragtige plaaslik vervaardigde handewerk was vanjaar vir die eerste keer deel van NAMPO Kaap se uitstallers.
Adjunkpresident Paul Mashatile het ook in Bredasdorp kom kuier. Tydens sy toer deur die terrein het hy die regering se verbintenis tot volhoubare boerdery en die bevordering van belegging in landelike gemeenskappe onderstreep.
Die spanne van Suid-Afrika en Australië tydens die opening van die internasionale tentpegging-toets.

4. Opwindende nuwe dinge en ’n besoek deur ’n hooggeplaaste

  • Helikopterritte van drie tot 30 minute is deur Overberg Aviation aangebied vir pragtige lugtonele van NAMPO Kaap en die Overberg.
  • Die Neptun Deli, ’n kulinêre kuierplek met wyn, droëvrugte, olywe en handgemaakte produkte, het sy buiging gemaak. Buiten vir al die smaaklike produkte wat te koop aangebied is, kon besoekers steeds by die gewilde Napier Garden Café aansit vir verversings.
  • Adjunkpresident Paul Mashatile het besoek gebring aan Bredasdorp Park op 12 September. Hy het onder meer deelgeneem aan ’n inligtingsessie saam met die Wes-Kaapse Minister van Landbou, dr Ivan Meyer, en die voorsitter van Graan SA se Landbou-ontwikkelingsafdeling, Phahama Grain Phakama (PGP), Jeremia Mathebula.

5. Inspirerende geleenthede
Die propvol wit tent het gewys dat die verskeidenheid van die vroueprogram beslis ’n treffer was. Bekende sangers Bok van Blerk, Jo Black en Andriëtte Norman het gaste vermaak terwyl ander sprekers die trane laat vloei het en die lagspiere geprikkel het. Marinda Engelbrecht se kosdemonstrasies en stories uit die Boesmanland het ’n unieke plaaslike geur aan die program gegee.

’n Besoek aan die blommesaal waar die kunswerke van Marjolijn Malan gesien kon word, is altyd inspirerend. Haar tema was vanjaar die vier natuurelemente en alle kunswerke is met flora uit die Overbergstreek gemaak. ’n Spesiesuitstalling deur Sandberg Fynbos-reservaat en ander uitstallings was deel van die groter prente in die lokaal.

6. Iets vir almal
Daar was oorgenoeg tyd om verhoudings te versterk, want NAMPO Kaap bring produsente, landboubesighede, beleidmakers en die breër gemeenskap bymekaar in ’n atmosfeer wat innovasie en tradisie vier.

Dit is ook ’n uitstappie wat jonk en oud saam kan geniet. Terwyl die landbou-entoesiaste gefokus het op tegnologie, was daar ponieritte en ’n kinderpretpark vir die kleinspan en oorgenoeg stalletjies en ’n spesiale program vir die skoner geslag.

Boonop was daar baie geleenthede vir families om interessant­hede te verken, soos:

  • die museumtent waar jy die landbougeskiedenis van die Overberg kon ontdek;
  • ’n uitstalling van die Wes-Kaapse Byebedryfsvereniging oor byeboerdery en die verskillende geure van heuning; asook
  • die ongelooflike wêreld van plante gesien deur die lens van ’n botanikus en haar mikroskoop.

Die ekspo het verder ’n platform gebied vir belangrike bedryfspesifieke gesprekke, onder meer ’n gefokusde paneelbespreking oor die toekoms van die garsbedryf in Suid-Afrika wat deur Graan SA aan­gebied is.

Vir die organiseerders van NAMPO Kaap is die jeug en die voortbestaan van landbou uiters belangrik. Die jeugskou en skoleprogram groei jaarliks en die organiseerders glo dat die program leerders se belangstelling in die landbousektor as ’n moontlike loopbaanopsie kan stimuleer – en natuurlik help om NAMPO Kaap se groei en voortbestaan te verseker.