Só lyk aanplantings op droëland en onder besproeiing in SA

Gepubliseer: 8 Oktober 2025

488
Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom,
Graan SA

Rona Beukes,
senior statistikus, Departement van Landbou en lid van die NOK

Suid-Afrikaanse graanproduksie speel af op twee uiters verskillende verhoë: besproeiingslande en droëlandboerdery. Waar besproeiing ’n mate van stabiliteit bied met meer konsekwente opbrengste, is droëlandboerdery grootliks afhanklik van onvoorspelbare reënval en veranderende klimaatspatrone. Hierdie kontras bepaal nie net die produksierisiko’s en winsgewendheid van produsente nie, maar beïnvloed ook die land se voedselveiligheid en mededingendheid in internasionale markte.

Mielies
Die grootste deel van witmielieproduksie vind op droëland plaas, met oppervlaktes wat meestal tussen 1,2 en 1,8 miljoen ha lê (Grafiek 1). Daar is duidelike wisselvalligheid deur die jare, maar die area herstel weer daarna. Die onlangse paar jaar wys ’n redelik stabiele tendens, al is dit ietwat laer as die pieke van die vroeë 2000’s. Die oppervlakte onder besproeiing is aansienlik kleiner en wissel meestal tussen 70 000 en 100 000 ha. ’n Beduidende uitskieter kom in 2017 voor, waar die area bo 120 000 ha styg. Oor die algemeen toon besproeiing ’n meer stabiele, maar effens dalende tendens in vergelyking met vroeër jare.

Grafiek 1: Witmielies: besproeiings- versus droëlandhektare.
Lande onder besproeiing gee aan produsente meer gemoedsrus wanneer dit by opbrengs kom, in teenstelling met droëlandboerderye wat totaal afhanklik is van reënval.

Grafiek 2 illustreer die hektare onder geelmielies op droëland en onder besproeiing tussen 2004 en 2024. Droëlandverbouing is die oorheersende praktyk, met oppervlaktes wat oor die algemeen tussen 800 000 en 1 miljoen ha wissel. Daar is egter ’n paar skerp da­lings, veral in 2006 en 2016, wat waarskynlik met ongunstige klimaatstoestande verband hou. Na sulke afnames toon die oppervlakte ’n herstel en het dit redelik konstant gebly. Die besproeiings­oppervlakte is kleiner, maar speel ’n toe­ne­mend belangrike rol. Vanaf sowat 70 000 ha­in 2004 het dit oor die jare geleidelik tot bo 160 000 ha gestyg, met ’n hoogtepunt van 180 000 ha in 2023.

Grafiek 2: Geelmielies: besproeiings- versus droëlandhektare.

Koring
Grafiek 3 toon die hektare onder koring op droëland en onder besproeiing vanaf 2008 tot 2024. Droëlandkoringproduksie het oor die jare beduidend afgeneem, van sowat 600 000 ha in 2008 tot tussen 350 000 en 400 000 ha in die meer onlangse tydperk. Se­dert 2015 stabiliseer die droëlandoppervlakte egter en bly dit relatief konstant met slegs geringe skommelinge. Die besproeiingsoppervlakte is aansienlik kleiner en wissel meestal tussen 100 000 en 150 000 ha, sonder groot groei oor die jare. Dit dui daarop dat koringproduksie in Suid-Afrika toenemend afhanklik is van ’n kleiner basis van droëlandaanplan­tings, terwyl besproeiing ’n aanvullende rol speel om produksie te ondersteun.

Grafiek 3: Koring: besproeiings- versus droëlandhektare.

Sonneblom
Grafiek 4 illustreer die vergelyking tussen sonneblomproduksie op droëland en onder besproeiing vanaf 2009 tot 2025. Droëlandhektare, voorgestel deur bruin stawe, toon ’n relatiewe stabiliteit met geringe jaarlikse skommelinge, wat dui op ’n gevestigde produksiepatroon. In teenstelling hiermee vertoon die groen lyn, wat besproeiingshektare aandui, groter wisselvalligheid met ’n opvallende piek in 2022. Hierdie toename kan moontlik verband hou met gunstige klimaatstoestande of verhoogde investering in besproeiing. Ná 2022 daal die besproeiingshektare egter skerp teen 2025.

Grafiek 4: Sonneblom: besproeiings- versus droëlandhektare.

Sojabone
Droëlandhektare het oor die jare geleidelik toegeneem, met ’n merkbare piek in 2018 en ’n verdere styging vanaf 2020 tot ’n hoogtepunt van meer as een miljoen ha vanaf 2022 (Grafiek 5). In teenstelling hiermee het besproeide hektare relatief konstant gebly met minimale veranderinge, wat moontlik dui op beperkte uitbreiding van besproeiingsinfrastruktuur of voorkeur vir droëlandproduksie. Hierdie tendens beklemtoon die afhanklikheid van droëlandproduksie in die nasionale sojaboonbedryf.

Grafiek 5: Sojaboon: besproeiings- versus droëlandhektare.

Grondbone
Grafiek 6 beeld die veranderinge in grondboonproduksie uit, met ’n vergelyking tussen droëland- en besproeiingshektare vanaf 2009 tot 2025. Beide produksiemetodes toon ’n algemene afname oor die tydperk, met droëlandhektare wat van ongeveer 60 000 ha in 2009 geleidelik daal, en besproeiingshektare wat ’n soortgelyke afwaartse neiging volg vanaf ’n maksimum van 20 000 ha. Alhoewel daar jaarlikse skommelinge is, dui die tendens op ’n afname in grondboonverbouing.

Grafiek 6: Grondbone: besproeiings- versus droëlandhektare.

Sorghum
Grafiek 7 toon ’n duidelike afname in sorghumproduksie op droëland van sowat 90 000 ha in 2009 tot ongeveer 30 000 ha in 2018, met ’n ligte herstel daarna tot 2025. Hierdie afname kan moontlik toegeskryf word aan veranderende gewasvoorkeure of klimaatsfaktore. Besproeide sorghumproduksie, voorgestel deur die bruin lyn, bly relatief laag in vergelyking met droëland, met pieke van sowat 3 000 ha in 2014 en 2021. Die wisselvalligheid in besproeiing dui op beperkte en onbestendige gebruik van waterbronne vir sorghumverbouing.

Grafiek 7: Sorghum: besproeiings- versus droëlandhektare.
’n Lugfoto waar die sirkellande onder besproeiing duidelik gesien kan word.

Samevatting
Die ontleding van besproeiings- en droëlandaanplantings bied waardevolle insigte in die dinamiese aard van Suid-Afrikaanse landbou. Terwyl droëlandverbouing steeds die grootste oppervlakte dek, speel besproeiing ’n deurslaggewende rol in die optimalisering van opbrengs en die bestuur van klimaatsrisiko’s.

’n Gebalanseerde benade­ring tot hulpbronbenutting en tegnologiese inves­tering sal bepalend wees vir die volhoubare ont­wikkeling van die bedryf in die komende dekades.