
Saailingverwelking van graangewasse kan ’n wesenlike probleem wees tydens saailingstadium en die volle impak van hierdie siektekompleks verdien meer aandag. Saailingverwelking beïnvloed plantdigtheid, saailingkrag en kan ’n negatiewe invloed op opbrengs hê. In baie gevalle moet produsente lande oorplant as gevolg van swak opkoms van saailinge wat lei tot finansiële verliese.
Saailingverwelking is ’n siekte wat veroorsaak word deur ’n kombinasie van verskillende swamspesies (kompleks) wat in die grond voorkom in verskillende omgewingstoestande en dit is hoekom hierdie siekte as ’n siektekompleks bekend staan. Die graad (erns) van die siekte kan van lokaliteit tot lokaliteit verskil omdat elke lokaliteit verskillende grondtipes, grondvogvlakke, grondtemperature, grondbiologie en voedingstofwanbalanse het.
Die meer bekende swamme betrokke by saailingverwelking sluit in: Pythium, Fusarium, Rhizoctonia, Aspergillus, Penicillium, Trichoderma, Macrophomina en Sclerotinia spp. Hierdie swamme is volop in die grond, maar spore van Clonostachus, Verticillium, Curvularia, Acremonium en Bipolaris spp. is ook wydverspreid in Suid-Afrikaanse gronde.
Hoe veroorsaak bogenoemde swamme saailingverwelksiekte?
Omgewingstoestande moet geskik wees vir die spore van hierdie verskillende swamme om te ontkiem en ontkiemende graansaailinge te besmet. Die spore van sommige swamspesies vereis hoë grondtemperature terwyl ander weer matige tot lae temperature verkies. Temperatuur en die beskikbaarheid van water en voedingstowwe vir die saailing het ’n duidelike invloed op die saailing se vatbaarheid vir siekte – alleen of in kombinasie. Waarnemings toon dat nat en koue toestande tydens en na plant asook versuiptoestande ’n groot rol kan speel in die ontwikkeling van die saailingverwelkingkompleks.
Wanneer sade vroeg in die seisoen geplant word in grondtemperature van onder 15 °C, is die metaboliese tempo van die saailinge tydens ontkieming baie stadig. Die sade absorbeer water uit die grond wat die embrioweefsel kan laat bars. Lae temperature vertraag dan membraanherstel, terwyl skade wat onder warmer grondtoestande voorkom beperk is.
Beskadigde membrane lek koolhidrate en proteïene in die grond in, wat die spore in die grond stimuleer om te sporuleer. Die miselium van die swam dring die wortels binne om voedingstowwe op te neem en dit veroorsaak meer selbeskadiging en sekondêre infeksies deur bakterieë en ander swamme.
Simptome bo en onder grondvlak
Gebiede wat ’n lae plantestand het weens sade wat nie ontkiem het nie, kan op saailingverwelking dui (Foto 1). Sade wat hier nie ontkiem het nie, sal tekens van verrotting toon en die saailingwortels en -stamme sal verkleur en sag wees. Soms kan swamgroei op die wortels en stamme waargeneem word (Foto 2). As die saailinge wel opkom, is hulle geneig om geel en verwelk te lyk en meer vatbaar vir afsterwing te wees (Foto 3). Die mesokotiel van so ’n saailing sal verkleurde, ingesinkte letsels hê.



Hoe beheer ons saailingverwelksiekte?
Die effektiewe beheer van saailingverwelking is moeilik weens die wye spektrum van patogene wat met die siektekompleks geassosieer word. Alternatiewe maatreëls wat in landboupraktyke gebruik kan word om dit hok te slaan sluit die volgende in.
Om saailingverwelksiekte effektief te probeer beheer, is dit belangrik om ’n fyn en egalige saadbed te verseker, wat konsekwente saaidiepte en optimale ontkiemingstoestande bevorder. Vermy plant by grondtemperature onder 15 ˚C aangesien lae temperature die risiko van die siekte verhoog. Plant dus tydens optimale grondtemperatuurtoestande en vermy oormatige besproeiing wat grondtemperature kan afkoel en nat omstandighede skep wat die verdere ontwikkeling van swamsiektes bevorder. Lande met beter dreinering kan eerste geplant word om versuiptoestande en die ontwikkeling van swamsiektes te verhoed. Plantdiepte moet korrek wees omdat saad wat te diep gesaai is opkoms kan vertraag en saailinge meer vatbaar vir siektes maak. Monitor en beheer grondinsekte voortydig aangesien hulle saailinge kan beskadig en so sekondêre infeksies kan veroorsaak.
Gebruik gesertifiseerde saad omdat dit gekweek en verwerk word volgens streng produksievereistes met perke op onkruide en ander gewassoorte tydens die produksiefase. Hierdie produksievereistes verseker ook ’n verlaging in saadgedraagde en grondgedraagde siekterisiko’s in aangekoopte saad, wat op sy beurt die kiemingskoers verbeter en ’n positiewe uitwerking op opbrengs en winsgewendheid het. ’n Goeie kiemingskoers word gewaarborg met goeie saailingkrag om die weerstand teen patogene te verbeter.
Verseker dat die grond-pH optimaal is vir die spesifieke gewas wat geplant word. Onkruide dien ook as gashere van die saailingverwelkpatogene en daarom is onkruidbeheer uiters belangrik. Onkruiddoders moet korrek en effektief toegedien word omdat foutiewe toediening swak stand en verhoogde vatbaarheid vir patogene teweeg kan bring.
Saadbehandeling is ’n deurslaggewende komponent van siektebeheer. Dit behels die gebruik van spesifieke chemiese en biologiese produkte om die groeitoestande vir die saad, saailing en jong plant te verbeter. Behandelde sade dra by tot verbeterde stand en oorlewing gedurende die kritieke fases van saailingontwikkeling. Swamdoder-saadbehandelings is veral nuttig vir die beheer van grondgedraagde swamsiektes wat saadverrotting, saailingverwelking en wortelverrotting veroorsaak. Sulke behandelings beheer ook swampatogene op die saadoppervlak en interne, saadgedraagde patogene. Die effektiwiteit van swamdoderbehandelings duur gewoonlik vir 10 tot 14 dae.
’n Gewasrotasieprogram is noodsaaklik om die opbou van grondgedraagde patogene te beperk (veral in lande met minimum grondbewerking) en vatbare gewasse moet nie in opeenvolgende seisoene op dieselfde land geplant word nie. Biologiese middels, soos die gebruik van Trichoderma spp. of Bacillus subtilis, kan ook ingespan word om patogene te onderdruk en wortelgesondheid te bevorder. Dit is belangrik om geïnfekteerde saailinge te ondersoek om die patogeen of patogene wat verantwoordelik is vir die saailingverwelksiekte te identifiseer. Hierdie inligting is belangrik vir toekomstige beplanning om saailingverwelk te beperk.
Vir verdere inligting kontak dr Belinda Janse van Rensburg by 018 299 6357.


























