HOENDER en GRAAN: twee bedrywe wat mekaar versterk

Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom, Graan SA en dr Dirk Strydom, besturende direkteur: Nampo (Pty) Ltd
Gepubliseer: 8 Oktober 2025

535

Die hoenderbedryf is een van die grootste en mees dinamiese verbruikers van graan in Suid-Afrika en speel dus ’n sleutelrol in die volhoubaarheid en groei van die graanbedryf. As primêre komponent in voerrantsoene, skep mielies en sojabone ’n direkte skakel tussen graanprodusente en die pluimveebedryf.

Hierdie wederkerige verhouding verseker nie net voedselsekerheid en bekostigbare proteïen vir verbruikers nie, maar ondersteun ook plaaslike landbou-ekonomieë en werkverskaffing. Die integrasie van die hoender- en graanwaardekettings illustreer hoe die sukses van die een onlosmaaklik aan die ontwikkeling van die ander gekoppel is.

Met bykans 3,7 miljoen ton voer wat in 2024 deur die braaikuikenbedryf alleen gebruik is, speel hoenders ’n bepalende rol in die vraag na veral geelmielies en sojaboonoliekoek. Volgens die jongste projeksies van die Proteïennavorsingstigting (PNS) het die totale vraag na dierevoere in 2024 sowat 12,45 miljoen ton beloop. Hiervan het die pluimveebedryf – braaikuikens en lêhenne saam – meer as 37% van die verbruik verteenwoordig. Dit beteken dat enige verandering in hoendergetalle of produksiesiklusse ’n direkte impak op die graanwaardeketting het.

Wat totale oliekoek betref het die plaaslike aandeel in verbruik gestyg van 35% in 2005 tot 92% in 2024. Daar word geprojekteer dat die plaaslike aandeel tot 94% in 2027 en 95% in 2033 sal toeneem (sien Tabel 1).

Proteïenryke oliekoek, veral sojaboonoliekoek, is ’n kernkomponent van pluimveediëte. In 2024 het Suid-Afrika ongeveer 1,41 miljoen ton sojaboonoliekoek gebruik, waarvan 88% plaaslik geproduseer is. Hierdie vooruitgang het die graan- en oliesaadbedryf ’n groot hupstoot gegee, aangesien dit die vraag na plaaslik geproduseerde sojabone verhoog. Die groeiende vlak in selfvoorsiening beteken dat die sukses van die hoenderbedryf direk bydra tot landbou-uitbreiding en die vermindering van invoere. Hierdie projeksie is egter afhanklik van die mededingendheid van die bedryf en wins- en persmarges.

Voorspellings dui daarop dat plaaslike sojaboonproduksie genoeg sal wees om aan die binnelandse vraag te voldoen, wat voorstel dat bykomende markte buite die voerbedryf – soos uit­voermarkte – noodsaaklik sal wees om die surplus te absorbeer. Nietemin bly logistieke beperkings ’n uitdaging om doeltreffend met invoere te kompeteer, en dit moet hanteer word om hierdie teikens te bereik.

’n Groot deel van oliekoekproduksie vind in die binneland plaas en moet na kusprovinsies soos die Wes- en Oos-Kaap vervoer word. In sekere jare ondersteun gunstige persmarges ’n toename in plaaslike verbruik. Om aan die binnelandse vraag teen 2033 te voldoen sal ongeveer 2 086 042 ton sojabone benodig word. Plaas-­like teenoor ingevoerde sojaboonoliekoek word in Tabel 2 gesien.

Tog is die hoenderbedryf besonder kwesbaar vir siekte-uitbrekings, wat wesenlike gevolge vir die graanmark kan hê. Die uitbraak van hoogs patogeniese voëlgriep (avian influenza) in 2023/2024 het byvoorbeeld gelei tot ’n afname van sowat 30% in die lêhenpopulasie en ’n afname van 21% in lêhenvoer. In totaal het die hoenderbedryf se voerverbruik in hierdie tydperk afgeneem, met ’n verlies van meer as 700 000 ton voer oor al die gewasse heen – insluitend ’n afname van sowat 490 000 ton in geelmielies en 370 000 ton in sojaboon­oliekoek.

Hierdie syfers toon duidelik hoe sensitief die graanbedryf is vir skokke in die pluimveebedryf. Wanneer pluimveeproduksie daal, word daar minder mielies en oliekoek verbruik. Dit raak nie net plaaslike produ­sente nie, maar ook die hele waardeketting – van meulens tot uitvoermarkte.

Grafiek 1: Dierlike voedselverbruik in 2024.
Grafiek 2: Groei in selfvoorsiening van sojaboonoliekoek.

Die toekomsprojeksies toon dat die totale dierevoerverbruik in Suid-Afrika teen 2033 kan styg na meer as 14 miljoen ton, met pluimvee wat steeds die grootste aandeel hou. Die volhoubaarheid van hierdie groei sal egter afhang van sterk biosekuriteit, doeltreffende logistiek en mededingende pryse in die plaaslike graan- en oliesadebedryf. Die sukses van die hoenderbedryf is onlosmaaklik aan die graanbedryf gekoppel – groei in die een beteken uitbreiding in die ander.